PREDIKER 10:5-7 - Compare All Versions
PREDIKER 10:5-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
Daar is 'n verkeerde ding wat ek in hierdie wêreld gesien het, 'n fout wat begaan word deur een wat gesag het: die dwaas kry hoë aansien en die rykes ontvang geen eer nie. Ek het slawe te perd gesien en vorste te voet op die grond soos slawe.
PREDIKER 10:5-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Daar is 'n verkeerdheid wat ek onder die son gesien het, 'n dwaling wat van die maghebber uitgaan: die dwaasheid word op groot hoogtes gestel, en die rykes moet in die vernedering sit. Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop.
PREDIKER 10:5-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ek het iets slegs op aarde gesien: Regeerders begaan ’n groot fout as hulle groot gesag aan dwase mense toevertrou terwyl rykes nie geëer word nie. Ek het slawe sien perd ry terwyl prinse soos slawe moes loop.
PREDIKER 10:5-7 DB (Die Boodskap)
Daar is een slegte ding wat ek in die lewe gesien het en wat my bly hinder. En dit is iets wat magsfigure doen. Hulle stel dwase mense in hoë posisies aan terwyl die ware kundiges vernederende werkies moet verrig. Ek het slawe op perde gesien, terwyl vername mense soos ’n slaaf met hulle voete moes loop.
PREDIKER 10:5-7 ABA (Bybel vir almal)
Ek het 'n verkeerde ding in hierdie wêreld gesien, dit is 'n fout wat 'n belangrike persoon maak: Hy laat die dwase op baie belangrike plekke sit, maar ryk mense moet op die minder belangrike plekke sit. Ek het gesien dwase ry op perde, en leiers moet soos slawe loop.
PREDIKER 10:5-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Daar is 'n euwel wat ek gesien het onder die son, 'n mistasting wat by die heerser ontstaan: Die dwaas word in vele hoë posisies geplaas, terwyl rykes in lae posisies sit. Ek het slawe op perde gesien, en •hoë amptenare wat op die grond loop soos slawe.
PREDIKER 10:5-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Daar is 'n onheil wat ek onder die son gesien het, soos 'n dwaling wat van die owerste uitgaan: Dwaasheid word in groot waardigheid gestel, en die rykes sit in die laagte. Ek het dienaars op perde gesien en vorste wat as diensknegte op die aarde loop.