DEUTERONOMIUM 7:17-19
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Bybel vir almal (ABA)
Julle sal miskien dink dat daardie volke meer is as julle en julle sal nie weet hoe julle hulle sal kan wegjaag en hulle land vir julleself kan vat nie, maar dan moet julle nie bang wees vir hulle nie. Julle moenie vergeet nie, julle moet onthou wat julle God die Here gedoen het aan die farao en aan al die Egiptenaars. Julle het self gesien hoe julle God die Here daardie mense laat swaarkry het. Julle het die tekens en die wonderwerke en sy groot krag gesien, Hy het dit gebruik om julle uit Egipte te bring. Julle God die Here sal dieselfde doen met al die volke vir wie julle bang is.
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? — wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het, die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die HERE jou God jou uitgelei het; so sal die HERE jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Jy kan dalk dink: hierdie nasies is sterker as ek. Hoe sal ek hulle kan verdryf? “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink net wat die Here jou God met die farao en die hele Egipte gedoen het. Jy het met jou eie oë gesien met watter groot plae en tekens en wonders, met watter magtige dade en wonderdade die Here jou God jou bevry het. Hy sal met al die volke vir wie jy bang is, maak soos met Egipte.
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jy sou kon dink, hierdie nasies is groter as ek, hoe kan ek hulle verdryf? Jy mag egter nie vir hulle bang wees nie. Hou goed in gedagte wat die HERE jou God aan die farao en die hele Egipte gedoen het: die groot teistering wat jy met jou eie oë gesien het, die tekens van mag en wondertekens, die sterk hand en uitgestrekte arm waarmee die HERE jou God jou uitgelei het. So sal die HERE jou God ook maak met al die volke vir wie jy bang is.
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As jy in jou hart sê: Hierdie nasies is meer as ek; hoe kan ek hulle onteien? Jy moet vir hulle nie bevrees wees nie, maar onthou goed wat die HERE jou God aan Farao en aan die hele Egipte gedoen het; Die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die magtige hand en die uitgestrekte arm waardeur die HERE jou God jou uitgelei het; so sal die HERE jou God doen met al die volke van wie jy kuns bang.
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Die Boodskap (DB)
“As jy begin twyfel en wonder hoe jy die nasies wat baie groter en sterker as jy is, gaan vernietig, moet dan nie bang word nie. Dink dan terug aan wat die Here jou God met Egipte en die farao se weermag gedoen het. Jy het mos die krag van die Here daar in Egipte gesien. En jy het mos ervaar hoe die Here jou met sy groot krag uit Egipte gelei het. So sal die Here ook met al die nasies maak vir wie jy nou so bang is.
DEUTERONOMIUM 7:17-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Miskien sal jy dink: ‘Hoe sal ons ooit hierdie nasies kan oorwin wat soveel sterker is as ons?’ Moenie vir hulle bang wees nie! Onthou net wat die HERE jou God aan die farao en aan die hele Egipte gedoen het. Met jou eie oë het jy die verskriklike dinge gesien wat die HERE jou God na hulle gestuur het. Onthou die tekens en wonderdade en die geweldige krag wat die HERE gebruik het om jou uit Egipte te lei. Hierdie selfde krag sal die HERE jou God gebruik teen die volke waarvoor jy bang is.