Deuteronomium 7

7
Optrede teenoor ander nasies in die beloofde land
1“ Wanneer die Here jou God jou in die land bring waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uitdryf, sewe nasies wat groter en magtiger is as jy – die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete – 2en die Here jou God hulle aan jou oorlewer en jy hulle verslaan, dan moet jy hulle beslis met die banvloek tref. Jy mag nie met hulle 'n ooreenkoms aangaan nie en jy mag hulle nie genadig wees nie. 3Jy mag nie met hulle ondertrou nie. Jou dogter mag jy nie gee aan sy seun en sy dogter mag jy nie vir jou seun as vrou neem nie, 4want hulle sal jou seun van die Here afvallig maak, sodat hy ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen julle ontbrand en sal Hy jou gou uitdelg.
5“ Nee, so moet julle met hulle maak: Hulle altare moet julle afbreek, hulle gedenkstene moet julle stukkend slaan, hulle asjeras moet julle stukkend kap en hulle godebeelde moet julle verbrand, 6 want jy is 'n heilige volk vir die Here jou God. Vir jou het die Here jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees.
7“ Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. 8Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met 'n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit 'n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. 9 Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond en troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom; 10maar hulle wat Hom verwerp, vergeld Hy direk deur hulle te vernietig. Daar is geen uitstel vir dié wat Hom verwerp nie: Hy vergeld hulle direk.
11“Daarom moet jy die gebod, die vaste voorskrifte en wette nakom wat ek jou vandag beveel om te onderhou. 12 As beloning daarvoor dat julle hierdie wette gehoorsaam, dit nakom en dit uitvoer, sal die Here jou God vir jou die verbond en troue liefde in stand hou wat Hy aan jou voorvaders met 'n eed bevestig het. 13Hy sal jou liefhê, jou seën en jou laat vermeerder. Hy sal die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond – jou koring, •nuwe wyn en olie – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee seën op die grond wat Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. 14Jy sal meer geseënd wees as al die volke: Daar sal by jou geen onvrugbare man of vrou wees nie, ook nie by jou diere nie. 15Die Here sal elke siekte van jou wegkeer en Hy sal al die verskriklike peste van Egipte wat jy ken, nie oor jou bring nie, maar dit oor al jou vyande laat kom.
16“ Jy moet al die volke wat die Here jou God aan jou gaan oorgee, verdelg. Jy mag hulle nie jammer kry nie. Jy mag hulle gode nie dien nie, want dit sal vir jou 'n valstrik wees. 17Jy sou kon dink, hierdie nasies is groter as ek, hoe kan ek hulle verdryf? 18Jy mag egter nie vir hulle bang wees nie. Hou goed in gedagte wat die Here jou God aan die farao en die hele Egipte gedoen het: 19die groot teistering wat jy met jou eie oë gesien het, die tekens van mag en wondertekens, die sterk hand en uitgestrekte arm waarmee die Here jou God jou uitgelei het. So sal die Here jou God ook maak met al die volke vir wie jy bang is. 20 Die Here jou God sal ook paniek onder hulle saai, totdat dié wat oorgebly het en vir jou wegkruip, vernietig is. 21Moenie paniekerig raak oor hulle nie, want die Here jou God is in jou midde, 'n groot en ontsagwekkende God.
22“Die Here jou God sal hierdie nasies geleidelik voor jou uitdryf. Jy sal nie toegelaat word om vinnig 'n einde aan hulle te maak nie, sodat die wilde diere van die veld nie vir jou te veel word nie. 23Die Here jou God sal hierdie nasies aan jou oorgee. Hy sal onder hulle groot verwarring veroorsaak, totdat hulle uitgedelg is. 24Hy sal hulle konings in jou hand gee en jy sal hulle name tot niet maak onder die hemel. Niemand sal voor jou kan standhou nie, totdat jy hulle uitgedelg het.
25“Die beelde van hulle gode moet julle verbrand. Jy mag nie die silwer en goud daarop begeer of vir jou vat nie. Anders trap jy daarmee in 'n strik, want daardie goud en silwer is vir die Here jou God afstootlik. 26Jy mag nie so iets verderfliks in jou huis invat nie, want dan is jy self, soos daardie goed, ook onder die ban. Jy moet dit grondig verafsku en 'n diep weersin daarin hê, want dit is onder die banvloek.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid