DEUTERONOMIUM 30:11-14
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Want hierdie wette wat ek vandag vir julle gee, is nie te moeilik vir julle nie, julle sal dit alles kan doen. As hierdie wette in die hemel was, dan sou iemand moes opgaan na die hemel om dit vir ons te kry sodat ons kan hoor wat die wette sê en sodat ons dit kan doen. As die wette oorkant die see was, dan sou iemand moes oorgaan na die ander kant om dit vir ons te kry sodat ons kan hoor wat die wette sê en sodat ons dit kan doen. Maar nee, die woorde van hierdie wette is baie naby julle, dit is in julle monde en in julle harte, julle kan dit doen.
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Ja, hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is nie vir jou te moeilik nie en dit is nie ver weg nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons na die hemel opgaan, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons oorgaan tot oorkant die see, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ Nee, die woord is baie naby jou – in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer.
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, dit is nie vir jou verborge nie, en dit is nie ver nie. Dit is nie in die hemel dat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel optrek en dit na ons toe bring, dat ons dit kan hoor en dit kan doen? En dit is nie anderkant die see nie, dat jy moet sê: Wie sal vir ons oor die see gaan en dit na ons toe bring, dat ons dit kan hoor en dit kan doen? Maar die woord is baie naby aan jou, in jou mond en in jou hart, dat jy dit kan doen.
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Die Boodskap (DB)
“Wat ek julle vandag beveel om te doen is nie te moeilik nie. Julle kan dit verstaan. En julle kan dit ook doen. Wat die Here van julle vra, is nie so moeilik dat ’n mens in die hoë hemel moet gaan soek om dit te verstaan nie. Dis nie nodig dat iemand uit die hemel moet afkom en vir jou vertel wat van jou verwag word voor jy dit sal kan doen nie. Wat die Here van jou vra, kan jy doen. Sy opdragte is ook nie ver oor die see sodat jy iemand moet soek om op ’n skip te klim en oorsee te vaar om dit te gaan soek nie. Jy kán lewe soos die Here van jou verwag. Wat Hy van jou vra, is eintlik baie naby aan jou. Ek het dit vir jou in jou hand gegee. Jy kan daaroor praat. Ja, jy ken dit al teen dié tyd. Jy is in staat om te lewe soos die Here van jou verwag.
DEUTERONOMIUM 30:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hierdie gebod wat ek jou vandag gee, is nie te moeilik vir jou of buite jou bereik nie. Dit is nie daarbo in die hemel dat jy nodig het om te vra: ‘Wie sal hemel toe opgaan en dit afbring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie. Dit is ook nie ver aan die ander kant van die see, dat jy moet vra: ‘Wie sal die see oorsteek om dit vir ons te bring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie. Die boodskap is baie naby aan jou, dit is op jou lippe en in jou hart sodat jy daarvolgens kan lewe.