Deuteronomium 30

30
Die Israeliete moet die lewe kies
1Moses het gesê: “Ek het vir julle gesê dat die Here julle sal seën of dat Hy julle sal vervloek. Al hierdie dinge sal met julle gebeur, en julle sal tussen al die volke woon waarnatoe die Here julle laat gaan. Dan sal julle onthou 2en julle sal terugkom na die Here, julle sal met julle hele hart gehoorsaam wees aan Hom en julle sal doen soos ek vandag vir julle sê, julle en julle kinders. 3Dan sal die Here dit weer goed laat gaan met julle. Hy sal jammer wees vir julle en Hy sal julle weer bymekaarmaak uit al die volke. Julle God die Here het julle na daardie volke toe laat gaan. 4Ook as julle in die verste plekke op die aarde is, sal julle God die Here julle daarvandaan bymekaarmaak en julle terugbring. 5Julle God die Here sal julle bring na die land wat julle voorvaders vir hulleself gevat het, en julle sal die land vir julleself vat. Die Here sal dit beter laat gaan met julle as met julle voorvaders en Hy sal julle meer laat word as hulle. 6Julle God die Here sal julle harte en die harte van julle nageslag so verander dat julle lief sal wees vir Hom met julle hele hart. Dan sal julle aanhou lewe. 7Julle God die Here sal julle vyande vervloek, Hy sal ook die mense vervloek wat vir julle haat en wat vir julle volg en jaag. 8Julle self sal weer gehoorsaam wees aan die Here en julle sal alles doen wat Hy wil hê, alles wat ek vandag vir julle sê. 9Julle God die Here sal dit baie goed laat gaan met alles wat julle doen. Julle self en julle diere en julle grond sal vrugbaar wees, want dit sal weer lekker wees vir die Here om goed te doen aan julle, soos dit ook vir Hom lekker was om goed te doen aan julle voorvaders. 10Maar dan moet julle gehoorsaam wees aan julle God die Here, julle moet doen wat sy wette sê, die wette wat in hierdie wetboek geskryf is. Julle moet met julle hele hart terugkom na julle God die Here. 11Want hierdie wette wat ek vandag vir julle gee, is nie te moeilik vir julle nie, julle sal dit alles kan doen. 12As hierdie wette in die hemel was, dan sou iemand moes opgaan na die hemel om dit vir ons te kry sodat ons kan hoor wat die wette sê en sodat ons dit kan doen. 13As die wette oorkant die see was, dan sou iemand moes oorgaan na die ander kant om dit vir ons te kry sodat ons kan hoor wat die wette sê en sodat ons dit kan doen. 14Maar nee, die woorde van hierdie wette is baie naby julle, dit is in julle monde en in julle harte, julle kan dit doen. 15Kyk, ek het vandag vir julle gesê wat julle moet doen sodat dit goed kan gaan met julle en sodat julle sal aanhou lewe. Ek het ook vir julle gesê dat as julle verkeerd doen, dan sal dit sleg gaan met julle en julle sal sterf. 16Ek sê vandag vir julle: Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet doen wat sy wette sê sodat julle kan aanhou lewe en baie kan word. Dan sal julle God die Here julle seën in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. 17Maar as julle ontrou word aan die Here en nie gehoorsaam is nie, en as mense julle verlei sodat julle voor ander gode buig en hulle dien, 18dan sê ek vandag vir julle dat julle almal sal sterf, julle almal. Julle sal nie lank lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier nie, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te gaan vat. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde om getuies te wees teen julle. Ek het vir julle gesê wat julle moet doen as julle wil lewe, ek het ook gesê wat julle moet doen as julle wil sterf. Ek het vir julle gesê hoe die Here julle sal seën, en ek het ook gesê hoe Hy julle sal vervloek. Julle moet kies om te lewe, julle en julle nageslag moet dit kies. 20Julle moet kies om lief te wees vir julle God die Here, om gehoorsaam te wees aan Hom, om altyd naby Hom te wees, want dan sal julle aanhou lewe en dan sal julle lank woon in die land wat die Here belowe het om vir julle voorvaders te gee, vir Abraham, vir Isak en vir Jakob.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid