DEUTERONOMIUM 16:13-17
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Bybel vir almal (ABA)
“Wanneer julle klaar koring getrap het op die dorsvloer en klaar wyn gemaak het in die parskuip, dan moet julle die Hutte-fees sewe dae lank vier. Julle moet saam feesvier, julle en julle kinders, en julle slawe en slavinne, en die vreemdelinge en weeskinders en weduwees wat by julle woon. Julle moet die fees sewe dae lank vir julle God die Here vier op die plek wat die Here sal kies, want julle God die Here sal dit goed laat gaan met julle koring-oeste en met alles wat julle doen. Julle sal graag hierdie fees wil vier.” “Al julle mans en seuns moet drie maal elke jaar julle God die Here kom aanbid op die plek wat Hy sal kies. Hulle moet dit doen op die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Hutte-fees. En elkeen moet iets saambring vir die Here. Elkeen moet presente saambring, hy moet self besluit hoeveel hy wil gee omdat sy God die Here hom geseën het en dit alles vir hom gegee het.”
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou. En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is. Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees. Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Jy moet die huttefees sewe dae lank vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het. Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing. In die plek wat die Here jou God sal kies, moet jy sewe dae lank tot sy eer feesvier, omdat die Here jou God jou met 'n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het. Daarom moet jy bly wees. “Drie keer elke jaar moet al jou mans in die plek wat die Here jou God sal kies, in sy teenwoordigheid verskyn: op die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie. Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die Huttefees moet jy sewe dae lank vier wanneer jy die opbrengs van die dorsvloer en wynpers ingesamel het. Jy moet vol vreugde wees tydens jou fees – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete, die vreemdelinge en die vaderloses en weduwees in jou dorpe. Sewe dae lank moet jy fees vier ter ere van die HERE jou God op die plek wat die HERE sal kies; want die HERE jou God sal jou seën in jou hele oes en al die werk van jou hande, sodat jy net blydskap kan ervaar. “Drie keer per jaar moet al die manlike persone by jou voor die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal kies: tydens die Fees van die Ongesuurde Brood, tydens die Fees van die Weke en tydens die Huttefees. Hulle mag nie met leë hande voor die HERE verskyn nie. Elkeen moet kom met 'n eie geskenk, volgens die mate waarin die HERE jou God jou geseën het.”
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sewe dae lank moet jy die huttefees vier nadat jy jou koring en jou mos ingesamel het. En jy moet jou verheug oor jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou dienskneg en jou diensmaagd en die Leviet, die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is. Sewe dae lank moet jy 'n fees tot eer van die HERE jou God hou op die plek wat die HERE sal uitkies, omdat die HERE jou God jou sal seën in al jou opbrings en in al die werke van jou hande, daarom moet jy sekerlik bly wees. Drie keer in 'n jaar sal al jou manspersone voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle sal nie leeg voor die aangesig van die HERE verskyn nie. Elkeen moet gee soos hy kan, volgens die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Die Boodskap (DB)
“As jy klaar by die dorsvloer gewerk en by die parskuip die druiwe getrap het, moet jy sewe dae lank die huttefees vier. Jy moet dit saam met jou kinders, jou werkers, die Leviete, die vreemdelinge uit ander volke, die weeskind en die weduwee geniet. Sewe dae lank moet jy by die plek wat die Here nog sal kies, bymekaarkom en tot die Here se eer feesvier. Wees vrolik, want die Here het jou arbeid en jou oes geseën. “Drie maal per jaar moet alle mans na die plek toe gaan wat die Here nog sal kies. Hulle moet vir die paasfees, die fees van die weke en die huttefees daar byeenkom en die nabyheid van die Here ervaar. Elkeen moet ook iets saambring. Ooreenkomstig dit wat die Here vir jou gegee het, moet jy ook gee.”
DEUTERONOMIUM 16:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“’n Ander fees, die Huttefees, moet aan die einde van die oestyd sewe dae lank gevier word. Dit gebeur nadat die graan van die dorsvloer en die druiwe van die parskuip ingesamel is. Die fees is ’n vrolike geleentheid van blydskap saam met jou huisgesin, jou slawe, die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees uit jou omgewing. Vier hierdie fees sewe dae lank om aan die HERE jou God eer te gee op die plek wat Hy kies. Dit is die HERE jou God wat aan jou goeie oeste gee en jou seën in al jou werk. Hierdie fees is ’n tyd van uitbundige vrolikheid vir almal. “Elkeen in Israel moet elke jaar hierdie drie feeste vier: Paasfees, die Fees van die Weke en die Huttefees. Elke man moet voor die HERE jou God kom verskyn en elkeen moet ’n gawe vir die HERE bring op die plek wat Hy sal kies. Elkeen moet na sy vermoë gee ooreenkomstig die seën wat hy van die HERE jou God ontvang het.”