Deuteronomium 16

16
Die paasfees
1“Elke jaar in die maand Abib moet jy die paasfees vier. Dit was in die maand Abib dat die Here julle een nag uit Egipte laat wegtrek het. 2Jy moet van jou skape en beeste na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. 3Wanneer jy van die vleis eet, moet jy brood wat sonder suurdeeg gebak is, daarmee saam eet. Sewe dae lank moet jy sulke ongesuurde brood eet, want dit moet jou laat terugdink aan die swaarkrydae in Egipte, asook die haas waarmee jy daar weg is. Eet hierdie bitter brood sodat dit jou aan die bitter tyd in Egipte kan herinner. 4Sewe dae lank moet daar nêrens suurdeeg by julle wees nie. Van al die vleis wat jy vir die eerste aand van die fees slag, mag daar niks tot die volgende môre oorbly nie.
5“Jy mag die paaslam nie sommer op enige plek slag nie, 6maar net by die plek wat die Here nog sal kies. Slag dit teen sononder, want dis teen sononder dat die uittog uit Egipte begin het. 7Jy moet die vleis gaarmaak en op die plek eet wat die Here nog in die Beloofde Land sal kies. Teen die volgende oggend se kant kan julle maar weer huis toe gaan. 8Ses dae lank moet jy dan ongesuurde brood eet en op die sewende moet jy vrolik en feestelik saamkom om die Here jou God te eer. Op hierdie dag mag niemand werk nie.”
Die fees van die weke
9“Jy moet die weke mooi bereken. Van die oomblik af dat jy jou koring begin sny, moet jy begin tel. Tel tot by sewe weke. 10Dan moet jy die fees van die weke tot eer van die Here jou God begin vier. Bring ’n offer en kom bymekaar by die plek wat die Here nog sal kies. 11Daar moet julle vrolik en bly wees in die teenwoordigheid van die Here. Jy en jou kinders, jou werkers, die Leviete van jou dorp en die mense van ander volke wat by jou bly. Ook die weeskind en weduwee moet saamkom en vrolik wees. 12In dié tyd moet jy daaraan dink dat jy baie in Egipte gely het. Daarom moet jy die fees van die weke getrou vier.”
Die huttefees
13“As jy klaar by die dorsvloer gewerk en by die parskuip die druiwe getrap het, moet jy sewe dae lank die huttefees vier. 14Jy moet dit saam met jou kinders, jou werkers, die Leviete, die vreemdelinge uit ander volke, die weeskind en die weduwee geniet. 15Sewe dae lank moet jy by die plek wat die Here nog sal kies, bymekaarkom en tot die Here se eer feesvier. Wees vrolik, want die Here het jou arbeid en jou oes geseën.
16“Drie maal per jaar moet alle mans na die plek toe gaan wat die Here nog sal kies. Hulle moet vir die paasfees, die fees van die weke en die huttefees daar byeenkom en die nabyheid van die Here ervaar. 17Elkeen moet ook iets saambring. Ooreenkomstig dit wat die Here vir jou gegee het, moet jy ook gee.”
Stel amptenare aan
18“In elke dorp wat die Here jou gee, moet jy amptenare aanstel. Hulle moet die mense goed regeer en in die hof regverdige uitsprake maak. 19Hulle moet nooit partydig of onredelik wees nie. Hulle moet ook nooit omkoopgeskenke aanvaar nie. Sulke geskenke maak selfs die slimstes en die eerlikstes blind vir die waarheid. 20In alle sake moet hulle billik en regverdig wees. Dan sal julle die Beloofde Land binnegaan en vir altyd daar bly.”
Moenie ander gode dien nie
21“Wanneer jy vir die Here ’n altaar gebou het, moet jy tog nooit ’n paal ter ere van Asjera langsaan inkap nie. 22Los ook alle klippilare wat vir die afgode opgerig is. Die Here haat sulke dinge.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid