DANIËL 9:3-5 - Compare All Versions

DANIËL 9:3-5 ABA (Bybel vir almal)

Ek het tot my Here, tot God, gebid. Ek het gevas en getreur. Ek het gebid tot my Here, tot God. Ek het my sonde en die sonde van my volk bely en gesê: “Here, U is die Groot God. Almal moet bang wees vir U en hulle moet U eer. U maak 'n verbond met die mense wat lief is vir U en wat doen wat U gesê het. U is lief vir hulle. Ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Ons het nie geluister na U nie, ons het nie gedoen wat U gesê het ons moet doen nie.

DANIËL 9:3-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.

DANIËL 9:3-5 AFR83 (Afrikaans 1983)

Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.

DANIËL 9:3-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in 'n roukleed en met stof op die kop. Ek het gebid tot die HERE, my God; ek het bely en gesê: “Ag, my Heer, U is die groot en ontsagwekkende God wat die verbond en verbondstrou in stand hou vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom. Ons het gesondig, ons het verkeerd opgetree, ons het ons skuldig gemaak en in opstand gekom. Ons het afgewyk van u gebooie en u beslissings.

DANIËL 9:3-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het my aangesig tot die HERE God gerig om te soek deur gebed en smekinge, met vas en rouklere en as. En ek het tot die HERE my God gebid en my belydenis afgelê en gesê: HERE, die groot en vreeslike God, hou die verbond en die barmhartigheid vir die wat Hom liefhet en aan die wat sy gebooie bewaar; Ons het gesondig en ongeregtigheid gepleeg en goddeloos gehandel en in opstand gekom deur af te wyk van u bevele en van u verordeninge.

DANIËL 9:3-5 DB (Die Boodskap)

Daarom het ek met gebed en smeking voor die Here God gaan staan. Ek het glad nie geëet nie, rouklere aangetrek en as op my kop uitgegooi as teken van my opregtheid. Toe het ek tot die Here my God gebid en bely: “O Here, U is ’n groot en verskriklike sterk God! U kom altyd u beloftes na teenoor die mense wat U liefhet en doen wat U van hulle verwag. Maar ons het sonde gedoen en die pad byster geraak. Ons het in opstand teen U gekom en die rug vir u opdragte en reëls gedraai.

DANIËL 9:3-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi. Ek het tot die HERE my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg. “Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk.