DANIËL 9

9
Daniël se skuldgebed
1Dit was in die eerste regeringsjaar van Ahasveros se seun Darius. Hy was ’n Mediër. Hy het oor die Babiloniërs#9:1 Grondteks Galdeërs. regeer. 2Tydens die eerste jaar van sy koningskap het ek, Daniël, die Skrifte van wat die Here vir die profeet Jeremia gesê het, nagegaan oor die tydperk wat Jerusalem vervalle sou lê. Dit sou 70 jaar wees.#9:2 Vgl Jer 25:11-12. 3Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi.
4Ek het tot die Here my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg.
5“Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk. 6Ons het nie na u dienaars, die profete, geluister nie. Hulle het namens U met ons konings, ons leiers, ons voorgeslagte en almal wat in die land woon, gepraat. 7U is reg, Here. Ons staan vandag beskaamd voor U, ons almal wat aan Juda behoort en in Jerusalem woon, ons almal van Israel wat naby en ver is in al die lande waarheen U ons verban het omdat ons aan U ontrou was. 8Here, ons is skaam omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers teen U gesondig het.
9“Maar die Here, ons God, ontferm Hom oor ons en vergewe ons, selfs al het ons teen Hom in opstand gekom.
10“Ons was nie gehoorsaam aan die Here ons God om te lewe volgens die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het deur sy knegte, die profete, nie. 11Die hele Israel het van u bepalings afgewyk en weggedwaal omdat ons nie na U geluister het toe U ons geroep het nie.
“U het nou oor ons die dreigemente en vervloekings laat kom wat in die wet van u dienaar Moses geskryf staan, want ons het sonde teen U gedoen. 12U het presies met ons en ons leiers laat gebeur wat U ons beloof het. Daar was nog nooit so ’n groot ramp op aarde soos die een wat U oor Jerusalem laat kom het nie. 13Elke vervloeking wat in Moses se wet staan, het oor ons gekom. Nogtans het ons ons nie voor die Here verootmoedig en gebreek met ons sondes en gesoek na u waarheid nie. 14Die Here het teëspoed oor ons laat kom. Die Here ons God is reg in alles wat Hy doen, want ons het nie na Hom geluister nie.
15“Here, ons God, U het u volk met krag uit Egipte verlos en so die goeie Naam gemaak wat U vandag nog het. Maar ons het oortree. Ons het goddeloos opgetree. 16Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon.
17“Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here.
18“Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is. 19Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”
20Ek het aangehou om te bid en my en my volk se sonde te bely. Ek het gepleit by die Here my God, ter wille van sy heilige tempel.
Gabriël se inligting
21Terwyl ek nog besig was om te bid, het Gabriël, wat ek in die eerste visioen gesien het, na my toe gekom. Dit was teen die tyd dat die aandoffer gebring word. 22Hy het my ingelig en vir my gesê: “Daniël, ek het na jou toe gekom sodat jy insig kan kry en verstaan. 23Reeds toe jy begin bid het, is ek beveel om te kom en vir jou te verduidelik. Jy is kosbaar vir God. Luister na die verduideliking sodat jy kan verstaan waaroor die visioen gaan.
24“Tye van 70 eenhede van sewes#9:24a Of 70 sewes. is vasgestel vir jou volk en vir jou heilige stad om die onregverdige dade tot ’n einde te bring, die oortredings te beëindig, die sonde te versoen, geregtigheid sonder einde te bring, die visioen en die woorde van die profeet te vervul, en die Allerheiligste plek#9:24b Of die heiligste Een. in te wy. 25Weet en verstaan dit: vandat die bevel uitgegaan het om Jerusalem te herstel en te herbou, totdat die gesalfde leier#9:25a Grondteks messias, wat gesalfde beteken. kom, is daar sewe eenhede van sewe en nog 62 eenhede van sewe#9:25b Of sewe 70’s en 62 sewes.. Jerusalem sal herstel word en sy strate en watervore sal herbou word onder moeilike omstandighede. 26Ná die tyd van die 62 eenhede van sewes, sal die gesalfde leier doodgemaak word. Hy sal niks besit nie. Die stad en die tempel sal vernietig word wanneer ’n koning en sy leër daar kom. Sy einde sal met oorstromings kom. Dit is bepaal dat daar oorlog en ellende sal wees tot aan die einde toe. 27Hy sal met baie ’n ooreenkoms sluit vir ’n tydperk van een eenheid van sewe. Vir ’n halwe eenheid sal hy die praktyk van die offer ophef. Hy sal ’n veragtelike ding oprig wat die tempel verontreinig totdat die tyd aanbreek dat dit wat oor hom bepaal is, oor hom sal losbars.#9:26-27 Die betekenis van die grondteks is onduidelik.

Tans Gekies:

DANIËL 9: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid