DANIËL 12:1-4
DANIËL 12:1-4 Die Boodskap (DB)
“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor jou hele volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n moeilike en onstuimige tyd wees, erger as ooit tevore. In daardie tyd sal almal uit jou volk wie se name in God se boek geskryf staan, gered word. Baie van dié wat reeds dood is, sal dan opstaan; party om vir ewig te lewe en ander om vir ewig onder God se straf en veragting te leef. Die goeie leiers sal in daardie tyd wees soos ’n helder dag sonder wolke in die lug. En dié wat mense op die regte pad gelei het, sal dan vir altyd skitter soos die sterre van die hemel. Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou. Maak die boek toe en verseël dit sodat niemand dit kan oopmaak nie. So moet dit bly tot die laaste dae hier op aarde aangebreek het. Baie mense sal probeer agterkom wat aangaan, maar dit sal hulle niks help nie.”
DANIËL 12:1-4 Bybel vir almal (ABA)
“In daardie tyd sal Migael kom. Hy is die groot engel wat jou volk moet beskerm. Die mense sal in daardie tyd baie swaar kry, die volke het nog nooit so swaar gekry nie. Maar in daardie tyd sal God jou volk red. Hy het hulle almal se name in sy boek geskryf. Baie mense wat nou in hulle grafte slaap, sal wakker word. Party mense sal altyd lewe, en God sal party mense vir altyd verneder en haat. Almal wat verstandig was en reg gedoen het aan ander mense, sal altyd skyn soos die sterre in die lug. En jy, Daniël, jy moet stilbly. Jy moet die boek toehou totdat die dag kom wanneer die tyd verby is. Baie mense sal oral soek en probeer verstaan wat gebeur.”
DANIËL 12:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos. En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.
DANIËL 12:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.”
DANIËL 12:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal 'n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert 'n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die •boekrol opgeskryf is. Baie van hulle wat slaap in die stof van die aarde, sal wakker word – sommige vir die ewige lewe, en ander tot skande, tot ewige afsku. Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre – vir altyd en altyd. “ ‘En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder.’ ”
DANIËL 12:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat vir die kinders van jou volk staan; en daar sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nog nooit was vandat daar 'n nasie was tot op daardie tyd nie; en in dié tyd sal jou mense sal gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe sal wees. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe, en sommige tot skande en ewige veragting. En die verstandiges sal skyn soos die glans van die uitspansel; en die wat baie tot geregtigheid laat terugkeer soos die sterre vir ewig en altyd. Maar jy, Daniël, hou die woorde stil en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal heen en weer hardloop, en kennis sal vermeerder.
DANIËL 12:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“In daardie tyd sal Migael, die groot leier, optree. Hy beskerm mos jou volk. Dit sal ’n benoude tyd wees soos daar nog nie was sedert nasies ontstaan het nie. In daardie stadium sal elkeen van jou volk wie se naam in die boek opgeteken staan, gered word. Baie wat reeds in die graf is, sal dan uit die dood opstaan. Party sal vir altyd lewe en ander sal eindelose skande en veragting ervaar. Hulle wat ander mense leer, sal skitter soos die naghemel. Hulle wat baie mense lei om regverdig te word, sal vir ewig en altyd soos sterre skyn. Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou en die boek verseël tot aan die einde van die tyd. Baie sal hiernatoe en daarnatoe gaan om meer te wete te kom.”