DANIËL 12:1-2
DANIËL 12:1-2 Bybel vir almal (ABA)
“In daardie tyd sal Migael kom. Hy is die groot engel wat jou volk moet beskerm. Die mense sal in daardie tyd baie swaar kry, die volke het nog nooit so swaar gekry nie. Maar in daardie tyd sal God jou volk red. Hy het hulle almal se name in sy boek geskryf. Baie mense wat nou in hulle grafte slaap, sal wakker word. Party mense sal altyd lewe, en God sal party mense vir altyd verneder en haat.
DANIËL 12:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.
DANIËL 12:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal 'n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting.
DANIËL 12:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal 'n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert 'n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die •boekrol opgeskryf is. Baie van hulle wat slaap in die stof van die aarde, sal wakker word – sommige vir die ewige lewe, en ander tot skande, tot ewige afsku.
DANIËL 12:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat vir die kinders van jou volk staan; en daar sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nog nooit was vandat daar 'n nasie was tot op daardie tyd nie; en in dié tyd sal jou mense sal gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe sal wees. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe, en sommige tot skande en ewige veragting.
DANIËL 12:1-2 Die Boodskap (DB)
“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor jou hele volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n moeilike en onstuimige tyd wees, erger as ooit tevore. In daardie tyd sal almal uit jou volk wie se name in God se boek geskryf staan, gered word. Baie van dié wat reeds dood is, sal dan opstaan; party om vir ewig te lewe en ander om vir ewig onder God se straf en veragting te leef.
DANIËL 12:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“In daardie tyd sal Migael, die groot leier, optree. Hy beskerm mos jou volk. Dit sal ’n benoude tyd wees soos daar nog nie was sedert nasies ontstaan het nie. In daardie stadium sal elkeen van jou volk wie se naam in die boek opgeteken staan, gered word. Baie wat reeds in die graf is, sal dan uit die dood opstaan. Party sal vir altyd lewe en ander sal eindelose skande en veragting ervaar.