KOLOSSENSE 2:16-23

KOLOSSENSE 2:16-23 Bybel vir almal (ABA)

Daarom moet niemand sê julle doen verkeerd wanneer julle nie dieselfde dinge eet en drink wat hulle eet en drink nie, en wanneer julle nie die feeste, die Nuwemaan-fees en die Sabbatdag vier nie. Al daardie wette en feeste was soos skaduwees, dit was minder belangrik. Dit het net gewys eendag sal die Een kom wat regtig belangrik is, dit is Christus. Daar is mense by julle wat sê hulle is nie hoogmoedig nie, maar hulle lieg. Hulle aanbid engele, hulle spog en sê God het vir hulle dinge gewys, maar dit is nie waar nie. Hulle is trots op die slegte dinge wat hulle dink. Julle moenie dink dat hulle beter weet as julle en dat julle verkeerd is nie. Hulle hou nie vas aan Christus nie. Hy is die Hoof van die kerk, en die kerk is sy liggaam. Hy hou die kerk styf vas, soos die spiere 'n mens se liggaam sterk maak en die dele van die liggaam vasbind aan mekaar. Hy maak die kerk groter en sterker. So laat God die kerk groei. Christus het gesterf. Julle het saam met Hom gesterf, en toe het julle sondige lewe opgehou. Hoekom doen julle dan nog wat die geeste wil hê, die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer? Die mense van die wêreld moet reëls hê, maar julle het nie daardie reëls nodig nie. Ek bedoel die reëls wat sê: Moenie aan hierdie ding raak nie, moenie daardie ding eet nie, moenie aan daardie ding raak nie! Dit is reëls oor dinge soos kos, en kos is later op. Dit wys dit is mense se reëls, dit is soos mense wil hê julle moet doen. Daardie reëls lyk miskien vir mense reg en slim. Dit lyk of die reëls vir mense help om God te dien en om nie hoogmoedig te wees nie, en om die regte dinge te doen met hulle liggame. Maar dit is nie waar nie. Die reëls help nie regtig vir die mense nie. Die reëls help nie mense om op te hou om die slegte dinge te doen wat hulle graag doen nie.

KOLOSSENSE 2:16-23 Die Boodskap (DB)

Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie. En dan is daar die sabbat! Ai, hulle sal julle tot in die fynste besonderhede wil voorskryf hoe julle die sabbat moet vier. Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar. Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis. Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie. Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet. Ek wil julle ’n vraag vra. Julle sê dat toe julle Christene geword het, al hierdie vals en leë godsdienstige reëls hulle betekenis vir julle verloor het. Soos dit vir Christus niks beteken nie, so beteken dit ook vir julle niks meer nie. Waarom wil julle dan kort-kort maar weer kerk hou asof daardie godsdienstige gebruike die eintlike godsdiens is? In die beeld van vroeër: Waarom wil julle aanhoudend die skaduwee in plaas van die persoon omhels? Julle raak vreeslik ernstig daaroor dat ’n Christen nie sekere dinge mag eet of aan ander dinge mag vat nie. Dit lyk amper of julle dink God self is in hierdie aardse dinge vasgevang. Intussen het bloot gewone mense al die reëls en idees uitgedink en dit “godsdiens” genoem. Daardie kos wat kamma so heilig of onheilig is dat julle dit nie eens mag eet nie, lê môre vrot op die ashoop. ’n Mens moet toegee, al hierdie godsdienstige dinge lyk op die oog af baie slim en indrukwekkend, al het mense dit uitgedink. Kyk net hoe nederig hou hulle hulle en hoe swaar kry hulle ter wille van dit waarin hulle glo. Tog maak dit nie van hulle beter mense nie. Hulle bly nog maar sondaars.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid