AMOS 3:13-15
AMOS 3:13-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet luister en julle moet die mense van Israel waarsku. Wanneer Ek die mense van Israel straf oor hulle sondes, dan sal Ek die altare in die stad Bet-El afbreek. Ek sal die altaar se horings afkap en op die grond gooi. Ek sal die huise plat slaan, die huise waarin hulle in die somer woon, en die huise waarin hulle in die winter woon. Daar sal niks oorbly van die huise wat hulle met ivoor mooi gemaak het nie. Daar sal niks oorbly van die baie huise nie,” sê die Here.
AMOS 3:13-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hoor en waarsku die huis van Jakob, spreek die Here HERE, die God van die leërskare, dat Ek in die dag as Ek die oortredinge van Israel aan hom besoek, ook besoeking sal doen oor die altare van Bet-el, sodat die horings van die altaar afgekap sal word en op die grond val. Dan sal Ek die winterhuis saam met die somerhuis tref, en die huise van ivoor sal te gronde gaan, en baie huise sal verdwyn, spreek die HERE.
AMOS 3:13-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister hierna, en lê getuienis af teen Jakob, sê die Here my God, die almagtige God! Die dag as Ek Israel oor sy sondes straf, sal Ek die altare van Bet-El verwoes; die horings van sy altare sal afgebreek word en op die grond val. Ek sal die winterhuis platslaan saam met die somerhuis, die huise met ivoorinleg sal vergaan, baie huise sal verdwyn, sê die Here.
AMOS 3:13-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Luister en getuig teen die huis van Jakob.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte. “ Ja, die dag wanneer Ek van Israel rekenskap eis oor sy oortredings, gaan Ek ook rekenskap eis van die altare van Bet-El: Die horings van die altaar sal afgekap word; dit sal op die grond val. Ek gaan die winterhuis verwoes saam met die somerhuis. Die huise met ivoorinleg sal tot niet gaan en groot huise sal verval,” is die uitspraak van die HERE.
AMOS 3:13-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Luister en getuig in die huis van Jakob, spreek die HERE HERE, die God van die leërskare, dat Ek op die dag as Ek die oortredinge van Israel teen hom besoek, ook die altare van Bet-el sal besoek; en die horings van die altaar sal afgekap word en op die grond val. En Ek sal die winterhuis met die somerhuis verslaan; en die huise van ivoor sal vergaan, en die groot huise sal 'n einde hê, spreek die HERE.
AMOS 3:13-15 Die Boodskap (DB)
“Luister nou na My en gaan waarsku Jakob se nageslag,” sê die Here wat met krag regeer. “Die dag wanneer Ek Israel vir sy oortredings straf, sal Ek die altare van Bet-El afbreek. Die horings op die vier hoeke van die altaar sal nutteloos op die grond val. Ek sal die huise waarin hulle in die somer bly, laat afbreek. Ek sal ook hulle winterhuise verwoes. Daar sal niks oorbly van hulle pragtige huise wat met ivoor versier is nie. Hulle groot woonhuise sal heeltemal verdwyn.” So sê die Here oor Israel.
AMOS 3:13-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister hierna en kondig dit aan deur die hele Israel, sê die oppermagtige HERE die almagtige God: “Luister na My en waarsku Jakob se nageslag. Die dag as Ek Israel se oortredings straf, sal Ek ook die heidense altare in Bet-El vernietig. Die afgebreekte horings van die altaar sal op die grond val. Ek sal winterhuise en somerhuise verwoes. Ek sal die ivoorversierde huise afbreek, niks sal van al hierdie plekke oorbly nie.” Dit is wat die HERE sê!