HANDELINGE 8:26-40
HANDELINGE 8:26-40 Bybel vir almal (ABA)
'n Engel van die Here het met Filippus gepraat. Hy het gesê: “Jy moet gereedmaak en jy moet na die suide gaan, na die pad wat van Jerusalem na die stad Gasa gaan. Dit is 'n stil pad.” Filippus het toe gereedgemaak en hy het gegaan. Hy sien toe op daardie pad 'n man van die land Etiopië, die man was ontman en hy was 'n amptenaar van die kandake, die koningin van Etiopië. Die amptenaar moes kyk dat alles goed gaan met die koningin se geld. Die amptenaar het na Jerusalem gekom om te aanbid. Maar nou was hy op die pad terug huis toe. Hy het op sy wa gesit en hy het gelees uit die boek van die profeet Jesaja. Die Heilige Gees het vir Filippus gesê: “Jy moet nader gaan tot by die wa.” Toe Filippus naby die wa kom, hoor hy dat die man lees uit die boek van die profeet Jesaja. Filippus vra toe vir hom: “Verstaan jy wat jy lees?” Die man sê: “Hoe kan ek dit verstaan? Iemand moet dit vir my verduidelik.” Toe sê hy Filippus moet op die wa klim en hy moet langs hom kom sit. Hy het hierdie deel van die Ou Testament gelees: Hy was soos 'n skaap wanneer iemand dit wil slag, soos 'n skaap-lam wanneer iemand sy wol afskeer. Hy het stilgebly, hy het nie sy mond oopgemaak nie. Hulle het slegte dinge gedoen aan hom, hulle het nie reg gedoen aan hom nie. Hy kan nie 'n nageslag hê nie, want sy lewe op die aarde is verby. Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Ek vra mooi vir jou, oor wie praat die profeet so? Praat hy oor homself of oor iemand anders?” Toe begin Filippus om die goeie boodskap oor Jesus vir die man te verduidelik. Hy het begin by hierdie deel van die Ou Testament. Toe hulle verder ry, kom hulle by water. En die amptenaar sê: “Kyk, daar is water. Hoekom mag ek nie gedoop word nie? Is daar iets wat keer?” Die amptenaar het gesê die wa moet stop. Filippus en die amptenaar het afgeklim tot in die water, en Filippus het hom gedoop. Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem en die amptenaar het hom nie weer gesien nie. Die amptenaar het toe verder gegaan en hy was toe gelukkig. Filippus was later in die stad Asdod. Hy het na verskillende plekke gegaan en hy het die goeie boodskap gebring in al die stede totdat hy in die hawestad Sesarea gekom het.
HANDELINGE 8:26-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was 'n man van Ethiópië, 'n hofdienaar, 'n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos 'n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem. En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.
HANDELINGE 8:26-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide na die pad wat afloop van Jerusalem af na Gasa, wat woestyn is. En hy het opgestaan en gegaan, en kyk, daar was 'n man van Ethiopië, 'n eunug van groot gesag onder Candace, koningin van die Kus, wat die toesig gehad het oor al haar skatte en na Jerusalem gekom het om te aanbid, Hy het teruggekom en in sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan nader en sluit aan by hierdie wa. En Filippus het daarheen na hom gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees en gesê: Verstaan jy wat jy lees? En hy sê: Hoe kan ek as iemand my nie lei nie? En hy het Filippus gevra om op te kom en by hom te sit. Die plek van die Skrif wat hy gelees het, was dit: Hy is soos 'n skaap na die slagplek gelei; en soos 'n lam wat stom is voor sy skeerder, so het hy sy mond nie oopgemaak nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem; en wie sal sy geslag aankondig? want sy lewe is van die aarde weggeneem. En die eunug het Filippus geantwoord en gesê: Van wie spreek die profeet dit tog? van homself, of van 'n ander man? Toe het Filippus sy mond oopgemaak en by dieselfde Skrif begin en aan hom Jesus verkondig. En terwyl hulle op pad was, kom hulle by 'n sekere water; en die hofdienaar sê: Kyk, hier is water; wat verhinder my om gedoop te word? En Filippus sê: As jy glo met jou hele hart, mag jy dit. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het die wa bevel gegee om stil te staan, en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus sowel as die hofdienaar; en hy het hom gedoop. En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggevoer, sodat die eunug hom nie meer gesien het nie; Maar Filippus is in Asotus gevind, en hy het deurgegaan en in al die stede gepreek totdat hy in Cesaréa gekom het.