Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

HANDELINGE 8:1-8 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

HANDELINGE 8:1-8 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria. Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou. Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit. Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad.

HANDELINGE 8:1-8 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. En godvresende manne het Stéfanus begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe. Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig. En Filippus het afgekom in 'n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met 'n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad.

HANDELINGE 8:1-8 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Saulus het saamgestem met die teregstelling van Stefanus. ’n Hewige vervolging van die kerk in Jerusalem het daardie dag begin. Al die gelowiges, behalwe die apostels, het uitgewyk na die gebiede van Judea en Samaria. (Godvresende mense het Stefanus begrawe en hulle het baie oor hom getreur.) Saulus het die kerk oral probeer vernietig. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vroue laat uitsleep en in die tronk laat sit. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het so ver as wat hulle gegaan het, die Goeie Nuus verkondig. Filippus het byvoorbeeld na die stad Samaria gegaan en hulle van Christus vertel. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy boodskap geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad.

HANDELINGE 8:1-8 DB (Die Boodskap)

Stefanus se dood was net die geleentheid waarop die godsdienstige leiers in Jerusalem gewag het. Hulle het nou met mag en mening onder die gelowiges in die stad ingeklim en hulle oral begin vervolg. Dit het veroorsaak dat die gelowiges in alle rigtings dwarsdeur Judea en Samaria gevlug het. Omtrent net die apostels het in Jerusalem agtergebly. Stefanus is intussen begrawe deur ’n paar mans wat God met groot toewyding gedien het. Hulle was hartseer oor sy dood. Saulus was daarop uit om die kerk heeltemal uit te roei. Hy het van huis tot huis gegaan en elke gelowige man en vrou wat hy in die hande kon kry, hardhandig laat vang en in die tronk gestop. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het nie opgehou om oor Jesus te praat nie. Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word. Gou-gou was daar sommer groot opgewondenheid in die stad oor al die wonderlike dinge wat Filippus gedoen het.

HANDELINGE 8:1-8 ABA (Bybel vir almal)

Saulus het gedink dit is reg dat hulle vir Stefanus vermoor het. Op daardie dag het die Joodse leiers begin om baie slegte dinge te doen aan die kerk in Jerusalem. Al die gelowiges het gevlug na plekke in Judea en Samaria. Maar die apostels het in Jerusalem gebly. Daar was manne wat lief was vir die Here en wat Hom gedien het soos Hy wil hê. Hierdie manne het vir Stefanus begrawe. En hulle het baie gehuil en getreur oor hom. Saulus het probeer om die gemeente dood te maak. Hy het in die huise ingegaan en hy het mans en vroue weggesleep en in die tronk gegooi. Die gelowiges wat gevlug het, het oral die goeie boodskap gebring. Filippus het na 'n stad in die provinsie Samaria gegaan. Hy het vir die mense die boodskap oor Christus gebring. Toe die mense hoor wat hy preek, en toe hulle die tekens sien wat hy doen, het hulle almal saam goed geluister na die dinge wat Filippus gesê het. Baie mense het onrein geeste in hulle gehad, en die geeste het hard geskree wanneer hulle uit die mense uitgaan. En baie mense wat lam en kreupel was, het gesond geword. Die mense van daardie stad was baie bly.

HANDELINGE 8:1-8 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur. Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi. Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou. Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi. Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers.

HANDELINGE 8:1-8 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En Saul het met sy dood ingestem. En in daardie tyd was daar 'n groot vervolging teen die gemeente wat in Jerusalem was; en hulle was almal verstrooi in die streke van Judéa en Samaria, behalwe die apostels. En vrome manne het Stefanus na sy begrafnis gedra en oor hom gerou. Wat Saul betref, hy het die gemeente verwoes deur in elke huis in te gaan en mans en vroue te vang en hulle in die tronk oorgegee. Daarom het die wat verstrooi was, oral gegaan om die woord te verkondig. Toe het Filippus afgegaan na die stad Samaria en Christus aan hulle verkondig. En die volk het eendragtig ag gegee op die dinge wat Filippus gespreek het, toe hulle gehoor en die wonderwerke gesien het wat hy gedoen het. Want onrein geeste het uit baie wat met hulle beset was, uitgekom wat met groot stem geroep het, en baie wat verlam was en kreupel was, is genees. En daar was groot blydskap in daardie stad.