HANDELINGE 6:1-7

HANDELINGE 6:1-7 Bybel vir almal (ABA)

Die gelowiges het in hierdie tyd meer en meer geword. Die mense in die gemeente wat Grieks praat, het begin kla oor die mense in die gemeente wat Hebreeus praat. Hulle het gesê dat die weduwees van die mense wat Grieks praat, nie genoeg kos kry wanneer die gelowiges elke dag vir die arm mense in die gemeente kos gee nie. Toe het die twaalf apostels al die gelowiges bymekaar laat kom. Die apostels het vir hulle gesê: “Ons, die apostels, moenie die hele dag besig wees om kos te gee vir die arm mense nie. Want dan sal ons nie genoeg tyd hê om die boodskap van God vir mense te bring nie. Dit is nie reg nie. Vriende, julle moet sewe manne in die gemeente kies. Almal moet weet en sê dat hulle goeie manne is. Die Heilige Gees moet regeer oor hulle lewens en hulle moet baie wysheid hê. Ons moet vir hulle die werk gee om vir die arm mense te sorg. En dan kan ons, die apostels, al ons tyd gebruik om vir mense te bid en om die boodskap van God te bring.” Die gelowiges het almal gedink dit is goed wat die apostels gesê het. Hulle het toe die volgende manne gekies: Stefanus, 'n man wat 'n sterk geloof gehad het, die Heilige Gees was in hom, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus. Nikolaus het voorheen in Antiogië gewoon. Hy was eers 'n heiden en hy het later die Jode se godsdiens aanvaar. Die gelowiges het hierdie manne voor die apostels laat staan. Die apostels het vir hulle gebid en hulle het hulle hande op die manne gesit. Meer en meer mense het die boodskap van God gehoor, en die gelowiges in Jerusalem het baie meer geword. Baie priesters het ook gehoorsaam geword, hulle het gelowiges geword.

HANDELINGE 6:1-7 Die Boodskap (DB)

Die kerk in Jerusalem het intussen al hoe meer lidmate bygekry. Mense van oor die wêreld het by hulle aangesluit. Toe ontstaan daar ’n krisis. Die gelowiges wat net Grieks kon praat, het op ’n dag begin voel dat diegene in die gemeente wat net Hebreeus praat, teen hulle diskrimineer. Party van die weduwees wat Grieks gepraat het, het volgens hulle te min kos gekry by die geleenthede waar die apostels elke dag kos aan die armes uitgedeel het. Toe die twaalf apostels daarvan te hore kom, het hulle ’n gemeentevergadering belê. “Dit is nie reg dat ons ons opdrag om die Woord van God uit te dra afskeep om vir die armes kos te gee nie,” het hulle vir die gelowiges gesê. “Ons het nou die volgende plan: kies sewe mans uit julle geledere om hierdie werk by ons oor te neem. Maar dit moet mans wees wat julle almal ken en vertrou. Hulle moet ook verstandig wees en vol van die krag van die Heilige Gees. Dan kan ons voortgaan met ons taak om te bid en om die Woord van God bekend te maak.” Die gemeente was baie tevrede met dié plan. Hulle het toe die volgende mans gekies: Stefanus, iemand wat die Here met sy hele lewe vertrou het en wat vol van die krag van die Heilige Gees was, asook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus uit Antiogië. Hy het hom vroeër tot die Joodse geloof bekeer. Die apostels se prediking het veroorsaak dat baie mense in Jerusalem volgelinge van Jesus geword het. Selfs ’n groot groep priesters het tot bekering gekom en in Hom begin glo.