HANDELINGE 2:36-38
HANDELINGE 2:36-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. TOE hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
HANDELINGE 2:36-38 Bybel vir almal (ABA)
“Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.” Toe die mense hierdie woorde hoor, was hulle hartseer en ontsteld. Hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Vriende, wat moet ons doen?” En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee.
HANDELINGE 2:36-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.
HANDELINGE 2:36-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.
HANDELINGE 2:36-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat die hele huis van Israel dan verseker weet dat God daardie selfde Jesus wat julle gekruisig het, Here sowel as Christus gemaak het. En toe hulle dit hoor, is hulle in hul hart getref en vir Petrus en die res van die apostels gesê: Manne en broeders, wat moet ons doen? Toe sê Petrus vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
HANDELINGE 2:36-38 Die Boodskap (DB)
“Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.” Die skare wat na Petrus gestaan en luister het, is diep deur sy woorde geraak. “Sê asseblief vir ons wat ons nou moet doen. Hoe kan ons die saak tussen ons en God regmaak?” het hulle vir die apostels gevra. “Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang.
HANDELINGE 2:36-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?” Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.