HANDELINGE 2:29-31 - Compare All Versions
HANDELINGE 2:29-31 ABA (Bybel vir almal)
“Vriende, julle almal weet dat ek reg is as ek vir julle sê dat ons voorvader Dawid gesterwe het en begrawe is, en dat sy graf vandag nog by ons is. Maar Dawid was 'n profeet, en hy het geweet dat God vir hom belowe het dat een van sy nageslag eendag op sy troon sal sit. Dawid het gesien wat later sal gebeur en daarom het hy gesê dat Christus weer sal lewe. Dawid het gesê: “ God het Hom nie na die doderyk laat gaan nie, en sy liggaam het nie gesterf nie.
HANDELINGE 2:29-31 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Omdat hy dan 'n profeet was en geweet het dat God vir hom met 'n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.
HANDELINGE 2:29-31 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was 'n profeet en hy het geweet dat God met 'n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: “Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.
HANDELINGE 2:29-31 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’
HANDELINGE 2:29-31 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Manne en broeders, laat ek vryelik met julle spreek van die aartsvader Dawid, dat hy dood sowel as begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Daarom, omdat hy 'n profeet was en geweet het dat God vir hom met 'n eed gesweer het dat hy van die vrug van sy lendene na die vlees Christus sou oprig om op sy troon te sit; Toe hy dit tevore sien, het hy gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die hel oorgebly het nie, en dat sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.
HANDELINGE 2:29-31 DB (Die Boodskap)
“Vriende, julle weet net so goed soos ek dat Dawid lankal dood en begrawe is. Sy graf is hier by ons in Jerusalem. Dawid was egter ’n boodskapper van God. Daarom het hy geweet dat God ’n belofte aan hom gemaak het dat iemand uit sy nageslag altyd oor sy koninkryk sou heers. Hy het geweet dat die Messias uit die dood sou opstaan. Dawid het gesien dat die doderyk met al sy gevare God se Gestuurde nooit gevange sou hou nie.
HANDELINGE 2:29-31 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“Geagte volksgenote, verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons. “Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit. Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat: Hy sal nie in Hades agtergelaat word nie, sy liggaam sal nie in die graf vergaan nie.