HANDELINGE 2:1-6 - Compare All Versions

HANDELINGE 2:1-6 ABA (Bybel vir almal)

Al die gelowiges was bymekaar op die dag van die Pinksterfees. Hulle het skielik iets gehoor wat uit die hemel kom. Dit was soos 'n sterk wind wat waai. Hulle het dit gehoor oral waar hulle in die huis gesit het. Toe sien hulle iets wat lyk soos 'n klomp vuurvlamme bymekaar. Die vlamme het gelyk soos tonge, en 'n vlam het op elke gelowige gaan sit. Die Heilige Gees het in hulle almal gekom en hulle het begin praat in ander tale. Die Gees het hulle laat praat in hierdie tale. Daar was Jode in Jerusalem, hulle het in ander dele van die wêreld grootgeword en het toe in Jerusalem kom woon. Daar was Jode van elke land in die wêreld. Hierdie Jode was lief vir die Here en hulle het Hom gedien soos Hy wil hê. Toe hulle hoor dat hierdie sterk wind kom, het baie van hierdie Jode saamgekom by die huis. Hulle het nie geweet wat gebeur nie, want hulle het gehoor hoe praat die gelowiges in die tale van elkeen van hulle wat uit die ander lande van die wêreld kom.

HANDELINGE 2:1-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek

HANDELINGE 2:1-6 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.

HANDELINGE 2:1-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Onverwags het daar uit die hemel 'n geluid soos dié van 'n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word.

HANDELINGE 2:1-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En toe die dag van Pinkster aangebreek het, was hulle almal eendragtig op een plek. En skielik het daar 'n geluid uit die hemel gekom soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. En daar het aan hulle verskyn gesplete tonge soos van vuur, en dit het op elkeen van hulle gesit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het Jode in Jerusalem gewoon, vroom manne, uit elke nasie onder die hemel. En toe dit in die buiteland geraas het, het die skare bymekaargekom en hulle was beskaamd, omdat elkeen hulle in sy eie taal hoor praat het.

HANDELINGE 2:1-6 DB (Die Boodskap)

Toe pinksterdag aanbreek, was al die gelowiges in die kamer waar hulle gewoonlik bymekaargekom het. Skielik het hulle ’n geweldige dreuning bokant hulle in die lug gehoor. Dit het soos ’n reusestormwind geklink. Dit het die hele gebou waarin hulle was, gevul. Toe sien hulle iets wat soos vuurvlamme lyk oor elkeen van hulle kom. Almal is toe met die Heilige Gees volgemaak. Hulle het dadelik in ander tale begin praat. Die Gees het hulle in staat gestel om dit te doen. Gedurende die feestyd was daar baie Joodse pelgrims van oor die hele wêreld in Jerusalem. Hulle het ook die geweldige geluid gehoor en dadelik na die gebou toe gehardloop waar die gelowiges bymekaar was.

HANDELINGE 2:1-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was. Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit. Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het.