HANDELINGE 2:1-3 - Compare All Versions

HANDELINGE 2:1-3 ABA (Bybel vir almal)

Al die gelowiges was bymekaar op die dag van die Pinksterfees. Hulle het skielik iets gehoor wat uit die hemel kom. Dit was soos 'n sterk wind wat waai. Hulle het dit gehoor oral waar hulle in die huis gesit het. Toe sien hulle iets wat lyk soos 'n klomp vuurvlamme bymekaar. Die vlamme het gelyk soos tonge, en 'n vlam het op elke gelowige gaan sit.

HANDELINGE 2:1-3 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.

HANDELINGE 2:1-3 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.

HANDELINGE 2:1-3 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Onverwags het daar uit die hemel 'n geluid soos dié van 'n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal.

HANDELINGE 2:1-3 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En toe die dag van Pinkster aangebreek het, was hulle almal eendragtig op een plek. En skielik het daar 'n geluid uit die hemel gekom soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. En daar het aan hulle verskyn gesplete tonge soos van vuur, en dit het op elkeen van hulle gesit.

HANDELINGE 2:1-3 DB (Die Boodskap)

Toe pinksterdag aanbreek, was al die gelowiges in die kamer waar hulle gewoonlik bymekaargekom het. Skielik het hulle ’n geweldige dreuning bokant hulle in die lug gehoor. Dit het soos ’n reusestormwind geklink. Dit het die hele gebou waarin hulle was, gevul. Toe sien hulle iets wat soos vuurvlamme lyk oor elkeen van hulle kom.

HANDELINGE 2:1-3 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam. Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was. Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit.