Slaan direk na inhoud oor

HANDELINGE 14:2-6 – Vergelyk alle weergawes

HANDELINGE 14:2-6 AFR83 (Afrikaans 1983)

Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. Ten spyte hiervan het die apostels 'n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië.

HANDELINGE 14:2-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter. Hulle het toe 'n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan. Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, 'n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke.

HANDELINGE 14:2-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Maar die Jode wat nie oortuig geraak het nie, het die gemoedere van die nie-Jode opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. Die apostels het ’n taamlike tyd daar deurgebring en in vertroue op die Here met vrymoedigheid gepreek. Die Here het ook die waarheid van die boodskap van sy genade bevestig deur te gee dat tekens en wonders deur die apostels se toedoen plaasvind. Die mense in die stad was verdeeld: party het hulle by die Jode geskaar en party by die apostels. Op ’n stadium het die nie-Jode en die Jode, saam met hulle leiers, beplan om die apostels aan te rand en met klippe dood te gooi. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en die Likaonië-omgewing gevlug.

HANDELINGE 14:2-6 DB (Die Boodskap)

Die Jode wat geweier het om in Jesus te glo, was baie ontevrede daaroor. Hulle het begin om die res van die stad se inwoners teen hulle op te steek sodat almal baie agterdogtig teenoor hulle was. Maar Paulus en Barnabas het nog ’n hele ruk daar gepreek. Hulle was nie bang om oor die Here te praat en vir die mense van God se goedheid te vertel nie. Hulle het ook wonderwerke en allerhande buitengewone dinge gedoen. So kon die mense sien dat God regtig deur hulle praat. Die mense van Ikonium was later in twee kampe verdeel oor Paulus en Barnabas. Party was aan hulle kant, terwyl ander weer aan die kant van hulle Joodse opponente was. Diegene wat teen hulle was, het toe saam met sekere stadsraadslede besluit om hulle te laat vang. Hulle was van plan om eers vir Paulus en Barnabas ’n goeie drag slae te gee en hulle daarna met klippe dood te gooi. Paulus-hulle het daarvan te hore gekom en dadelik uit die stad padgegee. Hulle het toe in die stede Listra en Derbe gaan preek.

HANDELINGE 14:2-6 ABA (Bybel vir almal)

Maar die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, het vir die heidene slegte dinge van die gelowiges vertel en die heidene het vyande geword van die gelowiges. Barnabas en Paulus het 'n lang tyd daar in Ikonium gebly en hulle was nie bang om vir die mense te vertel van die genade van die Here nie. Die Here het ook gewys dat hulle boodskap waar is, want Hy het vir hulle die krag gegee om wonderwerke en tekens te doen. Die mense van die stad het in twee groepe verdeel. Die een groep het gedink die Jode is reg, maar die ander groep het gedink die apostels is reg. Toe het die heidene en die Jode en hulle leiers besluit om slegte dinge te doen aan die apostels, hulle het besluit om die apostels dood te gooi met klippe. Toe die apostels hoor wat die mense wil doen, het hulle gevlug na die stede Listre en Derbe. Hierdie stede was in die deel van die land wat die mense “Likaonië” genoem het.

HANDELINGE 14:2-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Maar die ongelowige Jode het die heidene opgesweep en hulle gemoedere vergiftig teen die broers. Tog het die •apostels 'n geruime tyd daar deurgebring en met vrymoedigheid gepreek – vol vertroue in die Here, wat die boodskap van sy genade bevestig het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle toedoen gebeur. Maar die inwoners van die stad was verdeeld – sommige het hulle by die Jode geskaar en ander by die apostels. Toe daar van die heidene sowel as die Jode, en ook hulle leiers, 'n aanslag kom om die apostels aan te rand en te stenig, het hulle dit te wete gekom en na die Likaoniese stede, Listra en Derbe, en die omliggende streke gevlug

HANDELINGE 14:2-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar die ongelowige Jode het die heidene aangehits en hulle verstand sleg gemaak teen die broeders. Hulle het dan lank gebly en met vrymoedigheid in die Here gespreek, wat getuig het van die woord van sy genade en tekens en wonders deur hulle hande laat doen het. Maar die menigte van die stad was verdeeld: en 'n deel met die Jode vasgehou en 'n deel met die apostels. En toe daar 'n aanval was van die heidene sowel as die Jode met hulle owerstes, om hulle te beledig en te stenig, Hulle het dit opgepas en gevlug na Listre en Derbe, stede van Likaonië, en na die omgewing wat rondom lê.