HANDELINGE 13:24-52

HANDELINGE 13:24-52 Bybel vir almal (ABA)

Voordat Jesus met sy werk begin het, het Johannes vir die hele volk Israel gepreek. Johannes het gesê die mense moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. En toe Johannes aan die einde van sy werk gekom het, het hy baie maal gesê: ‘Wie dink julle is ek? Julle dink ek is die Een wat sal kom, soos God belowe het, maar ek is nie. Later sal daar Iemand kom, en ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.’ “Vriende, julle wat die nageslag van Abraham is, en julle ander wat vir God respekteer, God het vir ons hierdie boodskap gestuur dat Hy ons red. Want die mense wat in Jerusalem woon en hulle leiers wou nie glo dat Jesus die Redder is nie. Toe hulle vir Jesus ge-oordeel het, het hulle die woorde waar laat word wat die profete gesê het. Die Jode lees dit elke Sabbatdag in die boeke van die profete. Hierdie mense van Jerusalem en hulle leiers wou vir Jesus laat doodmaak, maar hulle kon nie sê hoekom hulle dit wou doen nie. Hulle het toe vir Pilatus gevra om te sê dat die soldate vir Jesus moet doodmaak. En nadat die Jode en hulle leiers alles gedoen het wat daar in die Ou Testament geskryf is oor Jesus, het vriende van Jesus Hom afgehaal van die kruis en hulle het Hom begrawe. Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe. Jesus het in 'n lang tyd verskillende male verskyn aan die mense wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou Jesus se getuies by die volk. En óns bring vir julle die goeie boodskap oor die dinge wat God vir ons voorouers belowe het. God het nou gedoen wat Hy belowe het, Hy het dit gedoen vir ons wat die nageslag van ons voorouers is. Hy het dit gedoen toe Hy vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe het, soos daar in die tweede Psalm geskryf is: “ Jy is my Seun, Ek is van vandag af jou Vader. “Ons wil ook vir julle die goeie boodskap bring dat God vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe het en dat Jesus nie weer sal sterf nie. God het dit so in die Ou Testament gesê: “ Ek sal vir julle die dinge gee wat Ek vir Dawid belowe het, en julle moet weet dat die dinge wat Ek belowe het, waar is. “Daarom sê Dawid ook in 'n ander Psalm: “ Ek is aan U gewy, U sal my nie laat sterf nie. “Dawid het sy mense gedien soos God besluit het, en toe het hy gesterf. Hulle het vir Dawid begrawe by sy voorvaders en daar het niks van hom oorgebly nie, sy liggaam het stof geword. Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe, en sy liggaam het nie stof geword nie. Vriende, Jesus het dit alles gedoen, en daarom moet julle weet dat ons vir julle kan preek dat God sondes vergewe. Die Wette van Moses kon julle nie vryspreek nie, maar God vergewe ook al hierdie sondes. En God spreek elkeen vry wat in Jesus glo. Julle moet nou oppas dat die dinge wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie. Hulle het gesê: “ Julle wat dink dat die Here nie belangrik is nie, julle moet kyk na wat sal gebeur, julle moet verbaas wees en verdwyn want Ék sal nou iets doen, iets wat julle nie sal glo wanneer iemand dit vir julle vertel nie.” Terwyl Paulus en Barnabas uit die sinagoge gegaan het, het die mense hulle gevra om op die volgende Sabbatdag weer oor hierdie dinge te praat. En toe die vergadering in die sinagoge klaar was, het baie van die Jode en die ander mense saam met Paulus en Barnabas gegaan. Die ander mense het vir God gerespekteer omdat hulle die Jode se godsdiens aanvaar het. En Paulus en Barnabas het met hulle gepraat en vir hulle gesê hulle moet aanhou om te glo in die boodskap van God se genade. Die volgende Sabbatdag het amper al die mense in die stad saamgekom om te luister na die boodskap van die Here. Toe die Jode die baie mense sien, was hulle baie jaloers. Hulle het sleg gepraat van Paulus en hulle het elke maal met hom gestry oor die dinge wat hy gesê het. Maar Paulus en Barnabas was nie bang nie en hulle het gesê: “Dit was reg dat ons eers vir júlle die boodskap van God moes bring. Maar omdat julle dit nie glo nie, wys julle dat julle nie goed genoeg is om die ewige lewe te kry nie. Daarom gaan ons nou na die heidene. Want die Here het hierdie woorde vir ons gesê: “ Ek het jou gekies en aangestel om 'n lig te wees vir die ander volke, en jy moet vir hulle vertel dat Ek al die mense op die aarde wil red.” Toe die heidene hoor wat Paulus en Barnabas gesê het, was hulle baie bly en hulle het die Here geprys oor sy boodskap vir hulle. Die Here het mense gekies om die ewige lewe te kry, en al daardie mense het begin glo. Meer en meer mense rondom die stad Antiogië in Pisidië het die boodskap van die Here gehoor. Maar die Jode het gepraat met die belangrike vroue wat vir God respekteer, en met die belangrike mans in die stad. Die Jode het vir hulle gesê hulle moet téén Paulus en Barnabas wees. Ja, die Jode het begin om vir Paulus en Barnabas baie swaar te laat kry, en die Jode het hulle weggejaag van daardie plek. Paulus en Barnabas het die stof van hulle voete afgeskud om 'n teken te wees teen die Jode, en toe het hulle na die stad Ikonium gegaan. Die gelowiges het aangehou om bly te wees, en die Heilige Gees was in hulle.

HANDELINGE 13:24-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het. En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie. Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word. En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word. En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dode opgewek. En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk. En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is. Daarom sê Hy ook op 'n ander plek: U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie. Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie. Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie. Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie. En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word. En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly. En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is. Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie — kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. En die woord van die Here is deur die hele land verbrei. Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas 'n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf. Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan. En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:24-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’ “Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: “Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: “Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het. “Daarom sê God ook op 'n ander plek: “U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. “En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan. Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek. “Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie: “Kyk, julle verag God! Julle sal verstom staan en te gronde gaan, want in julle tyd doen Ek iets wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie! ” Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, want so lui die Here se opdrag aan ons: “Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde. ” Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:24-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Voor Jesus se openbare optrede het Johannes aan die hele volk Israel die doop van bekering verkondig. Toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê, ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk, ná my kom iemand wie se sandale ek nie werd is om van sy voete los te maak nie. ’ “Broers, kinders van Abraham se geslag, en die godvresendes onder julle, aan ons is die boodskap van hierdie verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan. Alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon vind nie, het hulle tog by •Pilatus daarop aangedring dat Hy tereggestel word. Toe hulle alles uitgevoer het wat oor Hom geskryf staan, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek. In die loop van baie dae het Hy verskyn aan hulle wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gereis het en wat nou as sy getuies teenoor die volk optree. En ons verkondig aan julle die goeie boodskap dat God die belofte wat aan die voorvaders gemaak is, vir ons, hulle kinders, vervul het deurdat Hy Jesus laat opstaan het, soos daar in die tweede psalm geskryf staan: “ ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’ “En omdat Hy Hom uit die dood sou opwek, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie, het Hy soos volg gesê: “ ‘Ek sal aan julle die heilige en betroubare beloftes van Dawid gee.’ “Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm: “ ‘U sal u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.’ “Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag volgens God se raadsbesluit gedien het, gesterf, en is by sy voorvaders begrawe – en hy het ontbinding beleef; maar Hy vir wie God opgewek het, het nie ontbinding beleef nie. Julle moet dus weet, broers, dat dit deur hierdie Man is dat die vergewing van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die •Wet van Moses nie geregverdig kon word nie. Sorg dat wat in die Profete gesê is, nie met julle gebeur nie: “ ‘Kyk, julle spotters, staan verstom en gaan ten gronde! Want in julle tyd doen Ek iets, 'n daad wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie.’ ” Toe Paulus en Barnabas buite kom, het die mense gesmeek dat hierdie dinge op die volgende Sabbat ook aan hulle vertel word. Toe die sinagoge verdaag het, het baie van die Jode en die godsdienstige proseliete Paulus en Barnabas gevolg, wat met hulle gepraat en hulle oortuig het om in die genade van God te bly leef. Die volgende Sabbat het byna die hele stad byeengekom om die woord van die Here te hoor. Toe die Jode die skare sien, is hulle vervul met naywer, en het hulle dit wat Paulus gesê het, teengestaan en belaster. Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies. Want so het die Here dit aan ons opgedra: “ ‘Ek het jou aangewys as 'n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.’ ” Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei. Die Jode het egter die godsdienstige vroue uit die vooraanstaande kringe en ook die leiers van die stad aangehits, en hulle het 'n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf. Hulle het toe die stof van hulle voete afgeskud as getuienis teen die stad en na Ikonium vertrek. Die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:24-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Johannes eers voor sy koms die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het. En toe Johannes sy weg voltooi het, sê hy: Wie dink julle is Ek? Ek is nie hy nie. Maar kyk, daar kom een agter my aan wie se skoene van sy voete ek nie waardig is om los te maak nie. Manne en broeders, kinders van die geslag van Abraham, en elkeen onder julle wat God vrees, aan julle is die woord van hierdie verlossing gestuur. Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes, omdat hulle Hom nie geken het nie, en ook nie die stemme van die profete wat elke sabbatdag gelees word nie, hulle het dit vervul deur Hom te veroordeel. En al het hulle geen doodsoorsaak by Hom gevind nie, het hulle tog vir Pilatus gevra dat Hy gedood moes word. En nadat hulle alles vervul het wat van hom geskrywe is, het hulle hom van die boom afgehaal en in 'n graf neergelê. Maar God het hom uit die dood opgewek: En hy is baie dae lank gesien van die wat saam met Hom opgetrek het van Galiléa na Jerusalem, wat sy getuies vir die volk is. En ons verkondig aan julle die blye boodskap dat die belofte wat aan die vaders gemaak is, God het dit aan ons, hulle kinders, vervul deurdat Hy Jesus weer opgewek het; soos ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. En aangaande dat Hy hom uit die dode opgewek het, om nou nie meer tot verderflikheid terug te keer nie, het hy op hierdie wyse gesê: Ek sal jou die vaste barmhartighede van Dawid gee. Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm: U mag u Heilige nie toelaat om verderwing te sien nie. Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag deur die wil van God gedien het, aan die slaap geval en by sy vaders neergelê en verderwing gesien. Maar hy wat God weer opgewek het, het geen verderf gesien nie. Laat dit dan aan julle bekend wees, manne en broeders, dat deur hierdie man die vergewing van sondes aan julle verkondig word. En deur Hom word almal wat glo, geregverdig uit alle dinge waaruit julle nie geregverdig kon word deur die wet van Moses nie. Pas dan op dat dit nie oor julle kom waarvan daar deur die profete gespreek is nie; Kyk, julle veragters, en verwonder julle en vergaan, want Ek doen 'n werk in julle dae, 'n werk wat julle nooit sal glo nie, al sou iemand dit aan julle verkondig. En toe die Jode uit die sinagoge uitgegaan het, het die heidene gesmeek dat hierdie woorde die volgende sabbat aan hulle verkondig moes word. En toe die gemeente opgebreek is, het baie van die Jode en godsdienstige proseliete vir Paulus en Bárnabas gevolg, wat met hulle gepraat het en hulle oorreed het om in die genade van God te bly. En die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van God te hoor. Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met afguns vervul en het teen die dinge gespreek wat deur Paulus gespreek is, weerspreek en lasterlik. Toe het Paulus en Bárnabas vrymoedig geword en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God eers tot julle gespreek moes word; Want so het die Here ons beveel en gesê: Ek het jou gestel as 'n lig vir die heidene, sodat jy tot redding sou wees tot aan die eindes van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly en het die woord van die Here verheerlik; en almal wat tot die ewige lewe bestem was, het geglo. En die woord van die Here is in die hele land bekend gemaak. Maar die Jode het die vroom en eerbare vroue en die hoofmanne van die stad aangehits en vervolging teen Paulus en Bárnabas laat opkom en hulle uit hulle grondgebied verdryf. Maar hulle het die stof van hulle voete teen hulle afgeskud en by Ikonium gekom. En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

HANDELINGE 13:24-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Voor sy koms het Johannes die bekeringsdoop aan die hele volk Israel verkondig. En toe Johannes aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Dink julle miskien ek is die Messias? Nee, ek is nie! Die Messias kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy sandale los te maak nie.’ “Geagte volksgenote, seuns uit die geslag van Abraham, en julle ander wat vir God ontsag het, aan óns het God die boodskap van hierdie verlossing gestuur! Die mense in Jerusalem en hulle leiers het die uitsprake van die profete in vervulling laat gaan deur Jesus tot die dood te veroordeel. Hulle het Hom nie herken nie en ook nie besef dat dit Hy is oor wie die profete geskryf het nie, al word dit elke Sabbatdag voorgelees. Hulle kon geen grond vir die doodvonnis kry nie, maar nogtans het hulle Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak. “Nadat hulle alles gedoen het wat oor sy lyding in die Skrif geskryf staan, het hulle Hom van die kruis afgehaal en in ’n grafkamer neergelê. Maar God het Hom uit die dood opgewek! Jesus het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. “En nou verkondig ek en Barnabas hierdie Goeie Nuus aan julle: God het die belofte aan ons voorgeslagte waar laat word. Hy het dit vir ons, hulle nageslag, vervul deur Jesus te laat opstaan. So staan dit dan ook in die tweede psalm oor Jesus geskryf: ‘Jy is my Seun; Ék het jou vandag verwek.’ “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit tot niet gaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: ‘Ek sal vir julle die beloftes vervul wat Ek betroubaar aan Dawid toegesê het.’ “Daarom sê God ook elders: ‘U sal nie toelaat dat die Een wat aan U toegewy is tot niet gaan nie.’ Dit verwys nie na Dawid nie, want hy het tog gesterf nadat hy die mense van sy eie tyd gedien het soos God beskik het. Hy is by sy voorgeslagte begrawe, en sy liggaam hét tot niet gegaan. Nee, die verwysing is na Iemand anders: Hóm het God opgewek, sý liggaam het nie tot niet gegaan nie. “Daarom, geagte volksgenote, moet julle goed weet wat nou aan julle verkondig word: vergewing van sondes deur Jesus! Julle kon nie deur die wet van Moses God se vryspraak verkry nie, maar deur Jesus word elkeen wat glo, deur God vrygespreek. Pas dan op dat wat in die profete gesê is, nie op julle van toepassing word nie: ‘Sien dit tog raak, julle veragters! Staan verstom en gaan te gronde! Want in julle tyd doen Ek iets, iets wat julle beslis nie sal glo nie, selfs nie as iemand dit vir julle vertel nie.’” Terwyl Paulus en Barnabas die sinagoge verlaat, het die mense hulle gevra om die volgende Sabbatdag meer van dié dinge te vertel. Ná die sinagogediens het baie van die Jode en van die nie-Jode wat proseliete geword het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié twee het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. Die volgende Sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om hulle die woord van die Here te hoor preek. Toe die Jode die skares sien, het hulle jaloers geword. Hulle het Paulus beledig en alles teengestaan wat hy gesê het. Paulus en Barnabas het toe reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, wend ons ons nou tot die nie-Jode. “Immers met hierdie woorde het die Here ons ’n opdrag gegee: ‘Ek het Jou gegee as ’n lig vir die nie-Joodse nasies sodat Jy verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.’” Toe die nie-Jode dit hoor, was hulle baie bly en hulle het die woord van die Here toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur daardie hele streek versprei. Maar die Jode het vooraanstaande vroue wat vir die ware God ontsag gehad het, asook toonaangewende burgers van die stad, opgesweep. Hulle het ’n betoging teen Paulus en Barnabas bewerk, en hulle uit die streek weggejaag. Hulle het toe, as protes teen die stad, die stof van hulle voete afgeskud en Ikonium toe gegaan. Die gelowiges was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.