2 TIMOTEUS 2:1-7
2 TIMOTEUS 2:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Timoteus, jy wat vir my soos my kind is, jy moet nou sterk wees, jy moet onthou dat jy aan Christus Jesus behoort en dat Hy genadig wil wees vir jou. Jy het saam met baie ander getuies gehoor wat ek vir mense geleer het. Jy moet hierdie dinge vertel vir mense wat sal doen wat hulle belowe het, mense wat die dinge ook vir ander mense sal kan leer. Jy moet soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus ook swaarkry saam met die ander gelowiges. 'n Soldaat wat besig is om sy werk te doen en wat wil hê dat sy offisier tevrede moet wees met hom, moenie ook ander werk wil doen nie. Dit is soos wanneer iemand deelneem aan 'n atletiekbyeenkoms. Hy moet gehoorsaam wees aan al die reëls, anders kan hy nie wen nie. Die boer wat hard gewerk het, moet die eerste persoon wees wat mag eet van die koring of die vrugte. Jy moet goed dink oor wat ek vir jou sê, want die Here sal jou help om dit alles goed te verstaan.
2 TIMOTEUS 2:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
JY dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is; en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het. En verder, as iemand aan 'n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie. Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet. Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles!
2 TIMOTEUS 2:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het. Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. Dra jou deel van die ontberings soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 'n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie. 'n Atleet wat aan 'n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding. Die boer wat die harde werk doen, behoort eerste 'n deel van die oes te kry. Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.
2 TIMOTEUS 2:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jy dan, my kind, wees sterk deur die genade in •Christus Jesus, en dra dit wat jy deur baie getuies van my gehoor het, oor aan betroubare mense wat bekwaam sal wees om ook ander te onderrig. Verduur jou deel van die ontbering, soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 'n Soldaat raak nie verstrik in sake van die alledaagse lewe nie, sodat hy sy bevelvoerder tevrede kan stel. Verder word 'n atleet wat aan 'n wedloop deelneem, nie bekroon as hy nie volgens die reëls meeding nie. Die landbouer wat die harde werk doen, moet eerste van die oes kry. Dink na oor wat ek sê, want die Here sal jou insig gee in al hierdie dinge.
2 TIMOTEUS 2:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jy dan, my seun, word sterk in die genade wat in Christus Jesus is. En wat jy van My gehoor het onder baie getuies, dit dra jy toe aan getroue manne, wat in staat sal wees om ook ander te leer. Verdra dan verharding, soos 'n goeie soldaat van Jesus Christus. Niemand wat oorlog voer, verstrik hom met die sake van hierdie lewe nie; dat hy hom kan behaag wat hom as soldaat uitverkies het. En as iemand hom ook beywer vir meesterskap, word hy tog nie gekroon nie, tensy hy wettiglik stry. Die landbouer wat arbei, moet eerste deel kry aan die vrugte. Let op wat ek sê; en die Here gee jou insig in alles.
2 TIMOTEUS 2:1-7 Die Boodskap (DB)
My liewe seun, al die goeie dinge wat God jou so onverdiend gee omdat jy ’n Christen is, moet jou motiveer en sterk laat staan. Jy en baie ander het gehoor wat ek alles oor die Christelike dinge vertel het. Vertel dit nou weer vir mense wat jy kan vertrou sodat hulle dit weer vir ander kan vertel. Ons kan sê jy is soos ’n soldaat van Christus. ’n Soldaat van Christus sal nie omgee om saam met die ander soldate swaar te kry vir Christus nie. ’n Soldaat se werk is om te doen wat sy bevelvoerder vra. Hy moet hom nie besig hou met allerhande ander dingetjies wat niks met sy werk as soldaat te doen het nie. Laat ek nog ’n voorbeeld gee. Sê nou ’n atleet neem aan ’n resies deel. Hy sal net kan wen as hy al die reëls mooi nagekom het, anders word hy gediskwalifiseer. Of dink aan dié voorbeeld: ’n boer wat hard werk, kan darem seker eerste van die vrugte van die oes proe. Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan.
2 TIMOTEUS 2:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Timoteus, my kind, staan sterk in die genade wat God deur Christus Jesus aan jou bewys het. Vertrou die waarhede wat jy voor baie getuies van my gehoor het, toe aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee. Verduur saam met my lyding soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. Geen soldaat raak verstrengeld in die beslommernisse van hierdie lewe nie, want dan kan hy die een wat hom vir sy leër gewerf het, nie tevrede stel nie. ’n Atleet word nie gekroon as hy nie volgens die reëls deelneem nie. Hardwerkende boere is die eerste wat die vrug van hulle arbeid geniet. Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp.