2 Timoteus 2

2
Timoteus moet soos Jesus Christus doen
1Timoteus, jy wat vir my soos my kind is, jy moet nou sterk wees, jy moet onthou dat jy aan Christus Jesus behoort en dat Hy genadig wil wees vir jou. 2Jy het saam met baie ander getuies gehoor wat ek vir mense geleer het. Jy moet hierdie dinge vertel vir mense wat sal doen wat hulle belowe het, mense wat die dinge ook vir ander mense sal kan leer. 3Jy moet soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus ook swaarkry saam met die ander gelowiges. 4'n Soldaat wat besig is om sy werk te doen en wat wil hê dat sy offisier tevrede moet wees met hom, moenie ook ander werk wil doen nie. 5Dit is soos wanneer iemand deelneem aan 'n atletiekbyeenkoms. Hy moet gehoorsaam wees aan al die reëls, anders kan hy nie wen nie. 6Die boer wat hard gewerk het, moet die eerste persoon wees wat mag eet van die koring of die vrugte. 7Jy moet goed dink oor wat ek vir jou sê, want die Here sal jou help om dit alles goed te verstaan.
Jy moet altyd aan Jesus Christus dink
8Jy moet altyd aan Jesus Christus dink. Hy was van die nageslag van Dawid, en God het Hom weer laat lewe. Dit is die goeie boodskap wat ek preek. 9En omdat ek hierdie goeie boodskap preek, het die mense my laat swaarkry en hulle het my soos 'n skelm toegesluit in die tronk. Maar hulle kan nie die boodskap van God in die tronk toesluit en dit keer nie. 10Daarom is ek tevrede en hou ek aan om te doen wat ek moet doen. God het mense gekies, en ek doen dit vir daardie mense. Ek wil hê dat Christus Jesus ook vir hulle moet red en dat hulle vir altyd by God kan wees, God wat Koning is. 11Wat ek nou wil sê, is waar:
Christus het gesterf,
en ons het saam
met Hom gesterf.
God het vir Christus
weer laat lewe,
daarom sal ons ook saam
met Christus lewe.
12As ons aanhou om in Christus
te glo,
dan sal ons ook saam
met Hom regeer soos konings.
As ons nie vir mense wil sê
dat ons aan Christus
behoort nie,
dan sal Christus sê
dat ons nie aan Hom
behoort nie.
13As ons ontrou is,
dan sal Christus nog altyd doen
wat Hy belowe het,
want Hy kan nie anders wees
as wat Hy is nie.
Timoteus moet sy werk goed doen
14Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die gelowiges te sê. Jy moet hulle ernstig waarsku, jy moet vir hulle sê dat God hoor wat jy sê. Jy moet hulle waarsku dat hulle nie met mekaar moet baklei oor woorde nie. Dit help niks wanneer mense so stry nie, en dit is sleg vir die mense wat hoor hoe hulle stry. 15Jy moet hard probeer om God só te dien dat Hy tevrede sal wees met jou werk. Jy moet só werk dat jy nie skaam sal wees daaroor nie. Jy moet op die regte manier vir die mense vertel van die waarheid. 16Jy moenie luister na die stories van mense wat niks weet van God nie. Mense wat daardie dinge sê, sal meer en meer verkeerde dinge doen. 17En die dinge wat hulle sê, sal verder en verder groei, soos kanker. Himeneus en Filetus het ook dieselfde dinge gesê. 18Hulle het gesê dat God die mense wat dood is, klaar weer laat lewe het. So het hulle opgehou om die waarheid te vertel en hulle het party mense laat ophou glo in Christus. 19Maar God het 'n fondament gebou wat vas staan. Daar is op die fondament geskryf: Die Here ken die mense wat aan Hom behoort en Elkeen wat die Naam van die Here gebruik en tot Hom bid, moet ophou om verkeerde dinge te doen.
20In 'n groot huis is daar borde en bakke van goud en silwer, maar daar is ook dinge van hout en klei. 'n Mens gebruik party dinge wanneer daar 'n spesiale fees is, en 'n mens gebruik party dinge elke dag. 21'n Mens moet jouself reinig van al die verkeerde dinge, jy moet wegbly van die verkeerde dinge. Dan sal jy wees soos 'n spesiale bord of bak. Jy sal dan gewy wees, en jou Eienaar sal jou goed kan gebruik, want jy sal dan enige iets kan doen wat goed is. 22Daarom, jy moet wegvlug van die verkeerde dinge wat jongmense graag wil doen. Jy moet aanhou probeer om te doen wat reg is, jy moet in Christus glo, jy moet lief wees vir mense en jy moet in vrede lewe met ander mense. Jy moet dit doen saam met die mense wat net die Here dien. 23Jy moenie soos party ander mense stry oor dwase dinge nie. Die mense wat nog niks geleer het nie, doen dit. Jy weet dat hierdie dinge mense laat baklei. 24'n Dienaar van die Here moenie twis met ander mense nie, hy moet vriendelik wees met almal. Die dienaar moet vir ander mense kan leer en hy moet geduldig wees, ook wanneer hy swaarkry. 25As mense vir die gelowiges ander dinge leer as wat die dienaar van die Here vir hulle leer, dan moet die dienaar vir hulle sê dat hulle verkeerd is, maar hy moet dit mooi vir hulle sê. Miskien sal God hulle harte verander sodat hulle sal lewe soos Hy wil hê en sodat hulle die waarheid sal leer ken. 26 Die duiwel het hierdie mense gevang om te doen wat hy wil hê. Miskien sal hulle weer reg kan dink en kan loskom uit die duiwel se vangstrik.

Tans Gekies:

2 Timoteus 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid