2 TIMOTEUS 1:5-7
2 TIMOTEUS 1:5-7 Bybel vir almal (ABA)
Ek onthou dat jy waarlik in Christus glo. Jou ouma Loïs en jou ma Eunice het ook in Christus geglo. Ek is baie seker dat jy nou ook in Christus glo, soos hulle. Daarom sê ek jy moet onthou dat God 'n genadegawe vir jou gegee het. Hy het dit vir jou gegee toe ek my hande op jou gesit het. Jy moet onthou om daardie genadegawe altyd weer lewendig te laat word, soos 'n vuur wat weer lewendig word wanneer jy dit blaas. God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen.
2 TIMOTEUS 1:5-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat — daarvan is ek oortuig — ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.
2 TIMOTEUS 1:5-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.
2 TIMOTEUS 1:5-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou om die genadegawe van God, wat in jou is, deurdat ek jou die hande opgelê het, opnuut aan te vuur. God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.
2 TIMOTEUS 1:5-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As ek die ongeveinsde geloof wat in jou is, in herinnering roep, wat eers in jou grootmoeder Loïs en jou moeder Eunice gewoon het; en ek is daarvan oortuig ook in jou. Daarom herinner ek jou dat jy die gawe van God wat in jou is, verwek deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie 'n gees van vrees gegee nie; maar van krag en liefde en selfbeheersing.
2 TIMOTEUS 1:5-7 Die Boodskap (DB)
Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die Here vertrou soos hulle. Jy onthou mos dat God jou ’n baie spesiale gawe gegee het toe ek my hande op jou gelê het. Maak seker dat daardie gawe net al hoe sterker word. Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.
2 TIMOTEUS 1:5-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek dink terug aan jou opregte geloof. Eers het jou ouma Loïs en jou ma Eunice hierdie geloof gehad en – daarvan is ek seker – jy het dit ook. Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur aan te blaas. Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.