2 TESSALONISENSE 2:1-7

2 TESSALONISENSE 2:1-7 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, wanneer ons Here Jesus Christus kom, dan sal Hy ons bymekaarmaak om by Hom te wees. Maar ons wil julle waarsku: Julle moenie dat mense julle hieroor deurmekaar maak of bekommerd maak nie. Want daar is mense wat sê dat die dag van die Here al klaar gekom het. Hierdie mense sê dat die dinge wat hulle dink, van die Here self kom, of hulle sê iemand het dit vir hulle geleer, of hulle sê hulle het 'n brief van ons gekry wat so leer. Maar julle moenie dat iemand vir julle verkeerd leer nie, want daar moet eers 'n paar ander dinge gebeur voordat die dag van die Here kom. Daar sal baie mense wees wat nie meer na God se wette luister nie. Hulle leier sal iemand wees wat glad nie na God se wette wil luister nie. Daarom sal God hom eendag straf. Hierdie leier sal teen alles wees wat God doen. Hy sal sê hy is belangriker as God of die gode, belangriker as enige iets wat mense aanbid. Hy sal ook in die tempel van God gaan sit en maak of hy God is. Onthou julle dat ek julle teen hierdie dinge gewaarsku het toe ek nog by julle was? Daar is nou iets wat hierdie slegte leier keer, hy kan nie nou doen wat hy wil doen nie. Julle weet wat dit is wat hom keer. Hy sal net kan doen wat hy wil doen wanneer God besluit hy mag dit doen. Niemand weet dit nie, maar hierdie slegte leier laat mense nou al klaar besluit om nie na God se wette te luister nie. Maar daar is een wat hom keer, en wanneer daardie een nie meer daar is nie, dan sal almal dit weet.

2 TESSALONISENSE 2:1-7 Die Boodskap (DB)

My liewe broers en susters, ek wil nou ernstig met julle praat oor daardie dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Van daardie dag af sal ons vir altyd saam met Hom in sy nuwe wêreld gaan bly. Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het. Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe. Hy sal dink hy is baie beter as God. Daarom sal hy weier om voor Hom te buig. Maar dis nie al nie. Hierdie goddelose figuur sal voorgee dat hy self God is. Hy sal daar in die tempel waar die mense bymekaarkom om God te aanbid, gaan sit en sê: “Ek is God!” Het julle dan al hierdie dinge vergeet? Ek het dit so mooi vir julle verduidelik toe ek daar by julle was. Hierdie goddelose mens is nog nie op die toneel nie. Hy word nog teruggehou. Ek het ’n hele paar keer vir julle vertel wie dit is wat hom keer om nou al sy verskyning te maak, want die tyd is nog nie reg vir sy koms nie. Maar moenie dink alles is rustig en veilig nie. Agter die skerms is die bose magte hard aan die werk. Hulle wag net vir die oomblik wanneer die een wat die goddelose figuur terughou, self van die toneel verdwyn.