2 TESSALONISENSE 2

2
Voor die Here se terugkeer moet daar nog sekere dinge gebeur
1Broers en susters#2:1 Grondteks Broers., ons rig ’n versoek tot julle oor die dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom en ons by Hom bymekaargebring word: 2Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word deur ’n profesie#2:2 Grondteks ’n gees. of ’n uitspraak of ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees en wat beweer dat die Dag van die Here alreeds gekom het nie.
3Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring#2:3a Grondteks die seun van die verderf., na vore getree#2:3b Grondteks verskyn. het nie. 4Hy sal hom verset teen alles wat god genoem word en hom verhef bo alles wat ’n voorwerp van aanbidding is. Sy doel is om in die tempel van God te gaan sit en voor te gee dat hy self God is.
5Onthou julle nie? Toe ek nog by julle was, het ek julle van hierdie dinge vertel. 6Dan weet julle ook wat hom nog daarvan terughou om op sy bestemde tyd na vore te tree. 7Die wetteloosheid werk inderdaad alreeds in die geheim, maar net totdat die een wat dit terughou, uit die weg geruim is – 8dán sal die wettelose op die toneel verskyn. Hy sal egter deur die asem#2:8a Of gees. uit die Here Jesus se mond doodgemaak en deur die glans#2:8b Grondteks verskyning. van sy koms vernietig word. 9Satan sal dit bewerk dat die wettelose mens se koms gepaardgaan met groot#2:9 Grondteks alle. magsvertoon en tekens en vals wonderwerke. 10Sy koms sal ook gepaardgaan met allerhande#2:10a Grondteks alle. bose misleiding van dié wat verlore gaan. Hulle gaan verlore omdat hulle nie die waarheid liefgehad#2:10b Grondteks die liefde van die waarheid aangeneem. en tot hulle verlossing aanvaar het nie.
11Daarom stuur God ’n kragtige dwaling#2:11 Grondteks ’n werking van dwaling. na hulle sodat hulle die leuen glo. 12Só sal almal veroordeel word wat nie die waarheid geglo het nie, maar die kwaad#2:12 Grondteks ongeregtigheid. gekies het.
Julle moet vasstaan in die geloof
13Maar, broers en susters#2:13a, 15a Grondteks broers., geliefdes van die Here, dit pas ons om God altyd oor julle te dank. God het julle immers gekies om as eerstes#2:13b Grondteks eerste vrug van die oes. verlos te word.#2:13c Sommige manuskripte God het julle immers van die begin af uitverkies om verlos te word. Hy verlos julle deur die Gees wat julle aan Hom toewy en deur geloof in die waarheid. 14Deur die Goeie Nuus wat ons verkondig, het God julle hiertoe geroep sodat julle die heerlikheid van ons Here Jesus Christus kan verkry.
15Met dit in gedagte, broers en susters#2:13a, 15a Grondteks broers., staan vas! Hou by al die oorgelewerde geloofswaarhede#2:15b Grondteks die tradisies. wat julle geleer het, of dit nou deur ons woorde of briewe was.
16Verder, mag ons Here Jesus Christus en God ons Vader – Hý wat ons liefgehad het en wat ons deur sy genade ’n ewige troos en ’n goeie vooruitsig#2:16 Grondteks hoop. gegee het – mag Hy self 17julle harte vertroos en julle sterk maak in elke goeie daad en woord.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid