2 TESSALONISENSE 2:1-3
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, wanneer ons Here Jesus Christus kom, dan sal Hy ons bymekaarmaak om by Hom te wees. Maar ons wil julle waarsku: Julle moenie dat mense julle hieroor deurmekaar maak of bekommerd maak nie. Want daar is mense wat sê dat die dag van die Here al klaar gekom het. Hierdie mense sê dat die dinge wat hulle dink, van die Here self kom, of hulle sê iemand het dit vir hulle geleer, of hulle sê hulle het 'n brief van ons gekry wat so leer. Maar julle moenie dat iemand vir julle verkeerd leer nie, want daar moet eers 'n paar ander dinge gebeur voordat die dag van die Here kom. Daar sal baie mense wees wat nie meer na God se wette luister nie. Hulle leier sal iemand wees wat glad nie na God se wette wil luister nie. Daarom sal God hom eendag straf.
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek 'n ernstige versoek aan julle: Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie – of dit nou vir julle gesê word in 'n profetiese uitspraak of in 'n preek of in 'n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat die koms van ons Here Jesus •Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur 'n geestesuitspraak of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou smeek ons julle, broeders, by die wederkoms van onse Here Jesus Christus en deur ons samekoms by Hom, dat julle nie gou in gedagtes geskud of verskrik word nie, nie deur gees of deur woord of deur brief soos van ons af nie, aangesien die dag van Christus naby is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want daardie dag sal nie kom as daar eers 'n afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Die Boodskap (DB)
My liewe broers en susters, ek wil nou ernstig met julle praat oor daardie dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Van daardie dag af sal ons vir altyd saam met Hom in sy nuwe wêreld gaan bly. Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het. Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe.
2 TESSALONISENSE 2:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, ons rig ’n versoek tot julle oor die dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom en ons by Hom bymekaargebring word: Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word deur ’n profesie of ’n uitspraak of ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees en wat beweer dat die Dag van die Here alreeds gekom het nie. Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie.