2 TESSALONISENSE 2:1-12
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, wanneer ons Here Jesus Christus kom, dan sal Hy ons bymekaarmaak om by Hom te wees. Maar ons wil julle waarsku: Julle moenie dat mense julle hieroor deurmekaar maak of bekommerd maak nie. Want daar is mense wat sê dat die dag van die Here al klaar gekom het. Hierdie mense sê dat die dinge wat hulle dink, van die Here self kom, of hulle sê iemand het dit vir hulle geleer, of hulle sê hulle het 'n brief van ons gekry wat so leer. Maar julle moenie dat iemand vir julle verkeerd leer nie, want daar moet eers 'n paar ander dinge gebeur voordat die dag van die Here kom. Daar sal baie mense wees wat nie meer na God se wette luister nie. Hulle leier sal iemand wees wat glad nie na God se wette wil luister nie. Daarom sal God hom eendag straf. Hierdie leier sal teen alles wees wat God doen. Hy sal sê hy is belangriker as God of die gode, belangriker as enige iets wat mense aanbid. Hy sal ook in die tempel van God gaan sit en maak of hy God is. Onthou julle dat ek julle teen hierdie dinge gewaarsku het toe ek nog by julle was? Daar is nou iets wat hierdie slegte leier keer, hy kan nie nou doen wat hy wil doen nie. Julle weet wat dit is wat hom keer. Hy sal net kan doen wat hy wil doen wanneer God besluit hy mag dit doen. Niemand weet dit nie, maar hierdie slegte leier laat mense nou al klaar besluit om nie na God se wette te luister nie. Maar daar is een wat hom keer, en wanneer daardie een nie meer daar is nie, dan sal almal dit weet. En dan sal almal kan sien wie die slegte leier is, die een wat glad nie na God se wette wil luister nie. En wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hierdie slegte leier doodmaak, so maklik soos 'n mens iets met jou asem wegblaas. Ja, die slegte leier sal verdwyn wanneer hy sien dat die Here Jesus kom en dat Hy Koning is. Wanneer die slegte leier begin werk, dan sal die Satan vir hom sê wat om te doen. Die slegte leier sal die krag hê om wonderwerke en ander wonderlike dinge te doen wat mense sal bedrieg. Die slegte leier sal die mense wat verlore gaan, bedrieg met alles wat hy verkeerd doen. Die mense sal hom volg, want hulle het nie hulle harte oopgemaak nie en hulle het nie lief geword vir die ware goeie boodskap oor die Here Jesus nie. As hulle dit gedoen het, dan sou God hulle gered het. God het hierdie mense verkeerd laat dink en daarom glo hulle die slegte leier se leuens. En so sal God almal straf wat nie die ware goeie boodskap oor die Here Jesus geglo het nie. Dit is al die mense wat daarvan gehou het om verkeerde dinge te doen.
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek 'n ernstige versoek aan julle: Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie – of dit nou vir julle gesê word in 'n profetiese uitspraak of in 'n preek of in 'n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En julle weet nou wat hom nog teëhou, sodat hy eers as dit sy tyd is, sy verskyning sal maak. Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees, en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig. Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaardgaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat die koms van ons Here Jesus •Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur 'n geestesuitspraak of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die •tempel gaan sit en hom as God voordoen. Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie? En nou weet julle wat dit is wat hom terughou, om op sy eie tyd geopenbaar te word. Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou smeek ons julle, broeders, by die wederkoms van onse Here Jesus Christus en deur ons samekoms by Hom, dat julle nie gou in gedagtes geskud of verskrik word nie, nie deur gees of deur woord of deur brief soos van ons af nie, aangesien die dag van Christus naby is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want daardie dag sal nie kom as daar eers 'n afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf; wat hom teëstaan en hom verhef bo alles wat God genoem word, of wat aanbid word; sodat hy as God in die tempel van God sit en homself wys dat hy God is. Onthou julle nie dat ek hierdie dinge vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou weet julle wat dit weerhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid werk alreeds; net hy wat nou laat, sal dit laat totdat hy uit die weg geruim is. En dan sal daardie goddelose geopenbaar word, wat die Here sal vernietig met die gees van sy mond en sal vernietig met die glans van sy koms. Selfs hy wie se koms is na die werking van Satan met alle krag en tekens en wonders van die leuen, En met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan; omdat hulle die liefde vir die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle 'n sterk dwaling stuur, dat hulle 'n leuen sou glo. Sodat almal veroordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Die Boodskap (DB)
My liewe broers en susters, ek wil nou ernstig met julle praat oor daardie dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Van daardie dag af sal ons vir altyd saam met Hom in sy nuwe wêreld gaan bly. Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het. Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe. Hy sal dink hy is baie beter as God. Daarom sal hy weier om voor Hom te buig. Maar dis nie al nie. Hierdie goddelose figuur sal voorgee dat hy self God is. Hy sal daar in die tempel waar die mense bymekaarkom om God te aanbid, gaan sit en sê: “Ek is God!” Het julle dan al hierdie dinge vergeet? Ek het dit so mooi vir julle verduidelik toe ek daar by julle was. Hierdie goddelose mens is nog nie op die toneel nie. Hy word nog teruggehou. Ek het ’n hele paar keer vir julle vertel wie dit is wat hom keer om nou al sy verskyning te maak, want die tyd is nog nie reg vir sy koms nie. Maar moenie dink alles is rustig en veilig nie. Agter die skerms is die bose magte hard aan die werk. Hulle wag net vir die oomblik wanneer die een wat die goddelose figuur terughou, self van die toneel verdwyn. Dan sal daardie goddelose mens sy opwagting maak. Natuurlik sal die Here Jesus persoonlik met hom afreken. Wanneer Hy terugkom na die wêreld toe, sal Hy hierdie goddelose figuur met een asemteug wegblaas. Sy glans en glorie is genoeg om hierdie wettelose mens in ’n oogwink te vernietig. Tot by die wederkoms sal hierdie goddelose figuur met al sy bose planne besig wees. Sy krag kom direk van Satan af. Daarom sal hy in staat wees om groot wonders en vals tekens te doen. Hierdie goddelose figuur sal dit gebruik om mense te mislei. Hy sal almal wat hulle rug vir God gedraai het, aanspoor om die vieslikste sondes te doen. Dit gebeur omdat hulle die kans van ’n leeftyd deur hulle vingers laat glip het om in Christus te glo en sy verlossing te ervaar. God sal hulle toelaat om agter hierdie dwalings aan te hardloop sodat hulle al hierdie leuens uit die hel glo. Die uiteinde van almal wat weier om in die waarheid te glo en wat gekies het om hulle aan al wat sonde is oor te gee, is God se verskriklike straf.
2 TESSALONISENSE 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, ons rig ’n versoek tot julle oor die dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom en ons by Hom bymekaargebring word: Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word deur ’n profesie of ’n uitspraak of ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees en wat beweer dat die Dag van die Here alreeds gekom het nie. Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie. Hy sal hom verset teen alles wat god genoem word en hom verhef bo alles wat ’n voorwerp van aanbidding is. Sy doel is om in die tempel van God te gaan sit en voor te gee dat hy self God is. Onthou julle nie? Toe ek nog by julle was, het ek julle van hierdie dinge vertel. Dan weet julle ook wat hom nog daarvan terughou om op sy bestemde tyd na vore te tree. Die wetteloosheid werk inderdaad alreeds in die geheim, maar net totdat die een wat dit terughou, uit die weg geruim is – dán sal die wettelose op die toneel verskyn. Hy sal egter deur die asem uit die Here Jesus se mond doodgemaak en deur die glans van sy koms vernietig word. Satan sal dit bewerk dat die wettelose mens se koms gepaardgaan met groot magsvertoon en tekens en vals wonderwerke. Sy koms sal ook gepaardgaan met allerhande bose misleiding van dié wat verlore gaan. Hulle gaan verlore omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle verlossing aanvaar het nie. Daarom stuur God ’n kragtige dwaling na hulle sodat hulle die leuen glo. Só sal almal veroordeel word wat nie die waarheid geglo het nie, maar die kwaad gekies het.