2 TESSALONISENSE 1:4-5
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Bybel vir almal (ABA)
Daarom sê ons mooi dinge oor julle in die ander gemeentes van God. Ons vertel vir hulle dat julle aanhou om lief te wees vir God en dat julle aanhou om vas te glo, ook wanneer julle baie swaar kry omdat mense baie slegte dinge aan julle doen en julle verdruk. Julle kry swaar, en dit wys dat God reg oordeel oor mense. Julle kry nou swaar omdat julle behoort aan God wat Koning is, maar so maak God julle gereed vir die tyd wanneer Hy Koning sal wees oor almal.
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur — 'n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur. Dit alles is 'n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly.
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom spog ons op ons beurt onder die •gemeentes van God oor julle volharding en geloofsvertroue, te midde van al die vervolging en verdrukking wat julle verduur. Dit is 'n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die •koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly.
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sodat ons self in julle roem in die gemeentes van God vir julle geduld en geloof in al julle vervolginge en verdrukkinge wat julle verduur. Wat 'n duidelike teken is van die regverdige oordeel van God, sodat julle die koninkryk van God waardig geag kan word, waarvoor julle ook ly.
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Die Boodskap (DB)
Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly.
2 TESSALONISENSE 1:4-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur. God sal die dinge wat julle deurmaak, gebruik om te wys dat Hy regverdig oordeel. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly.