2 Thessalonisense 1

1
1 Paulus en Silvanus en Timoteus,
aan die •gemeente van Thessalonika in God, ons Vader, en die Here Jesus •Christus:
2 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
Danksegging en bemoediging
3Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem. 4Daarom spog ons op ons beurt onder die •gemeentes van God oor julle volharding en geloofsvertroue, te midde van al die vervolging en verdrukking wat julle verduur. 5Dit is 'n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die •koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly.
6 Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld, 7en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele, 8in 'n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.
9Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here en sy magtige heerlikheid. 10Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy •heiliges verheerlik te word – ja, om deur alle gelowiges bewonder te word – omdat ons getuienis teenoor julle geglo is.
11Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, 12sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus •Christus.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid