2 SAMUEL 5:1-10

2 SAMUEL 5:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die leiers van al die stamme van Israel het na Dawid toe gekom in die stad Hebron en hulle het vir hom gesê: “Jy weet ons is jou mense. Toe Saul ons koning was, het jy ook vir Israel in die oorlog gelei, en die Here het vir jou gesê: “Jy moet 'n herder wees vir my volk Israel, jy moet koning wees oor my volk Israel.” Al die leiers van Israel het na die koning toe gekom in Hebron. Koning Dawid het met hulle 'n ooreenkoms gemaak by die tempel in Hebron. Hulle het vir Dawid gesalf om koning te wees oor Israel. Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 40 jaar lank koning. In Hebron het hy sewe jaar en ses maande regeer oor die Juda-stam en in Jerusalem het hy 33 jaar regeer oor die hele Israel en oor die Juda-stam. Toe die koning en sy manne by Jerusalem gekom het, het die Jebusiete wat daar gewoon het, vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier kan inkom nie. Mense wat swak is, sal jou kan keer, jy sal nie hier inkom nie, ja, mense wat nie kan sien nie en wat nie kan loop nie, sal jou keer.” Hulle het gedink Dawid sal nie in die stad kan inkom nie, maar Dawid het die stad Sion wat sterk mure gehad het, oorwin, dit is nou die Dawidstad. Dawid het daardie dag gesê: “As iemand die Jebusiete wil oorwin, dan sal hy deur die watertonnel moet gaan om by hulle te kom, by die mense wat nie kan sien of kan loop nie. Ek haat hierdie mense.” Dit is hoekom hulle sê mense wat nie kan sien of kan loop nie, mag nie in die tempel kom nie. Dawid het gaan woon in die stad wat sterk mure het en hy het dit die Dawidstad genoem. Hy self het geboue gebou, van die terrasse tot teen sy paleis. Dawid het 'n belangrike koning geword. Die Here, die God wat oor alles regeer, was by hom.

2 SAMUEL 5:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE kom al die stamme van Israel na Dawid in Hebron, en hulle spreek en sê: Hier is ons, u been en u vlees is ons! Gister sowel as eergister toe Saul koning oor ons was, het ú Israel uit- en ingelei; en die HERE het aan u gesê: Jý moet my volk Israel oppas, en jý moet 'n vors wees oor Israel. So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het met hulle 'n verbond in Hebron gesluit voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf. Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer. In Hebron het hy oor Juda sewe jaar en ses maande geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer. Toe die koning met sy manne na Jerusalem wegtrek teen die Jebusiete, die bewoners van die land, het hulle met Dawid gespreek en gesê: Jy sal hier nie inkom nie, maar die blindes en lammes sal jou verdrywe — dit wil sê: Dawid sal hier nie inkom nie. Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid. En Dawid het daardie dag gesê: Elkeen wat 'n Jebusiet verslaan, laat hom in die waterkanaal neerwerp die lammes sowel as die blindes, van wie Dawid se siel 'n afkeer het! Daarom sê hulle: 'n Blinde en 'n lamme mag nie in die huis kom nie. En Dawid het in die bergvesting gaan woon en dit die stad van Dawid genoem; en Dawid het rondom, van Millo af na die binnekant, gebou. En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die HERE, die God van die leërskare, was met hom.

2 SAMUEL 5:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê: “Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees; ja, jy moet heerser oor Israel wees!” So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. In Hebron was hy sewe en 'n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda. Die koning en sy manskappe het teen Jerusalem opgetrek. Die Jebusiete het hierdie gebied bewoon. Daar is aan Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou.” Ja, daar is beweer: “Dawid sal hier nie inkom nie!” En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad. Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat 'n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.” Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word 'n blinde of 'n kreupele mag nie in die tempel inkom nie. Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis. Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom.

2 SAMUEL 5:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en gesê: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie. Selfs in die verlede, toe Saul oor ons koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die HERE het vir u gesê, ‘Jy sal herder wees van my volk Israel, en jy sal 'n leier word oor Israel.’ ” Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het koning Dawid voor die HERE 'n verbond met hulle gesluit in Hebron; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel. Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank regeer. In Hebron was hy koning oor Juda sewe jaar en ses maande lank, en in Jerusalem was hy koning oor die hele Israel en Juda drie-en-dertig jaar lank. Die koning en sy manne het na Jerusalem gegaan, na die Jebusiete wat in dié gebied gewoon het. Die Jebusiete het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie! Selfs blindes en kreupeles sal jou afweer deur te sê, ‘Dawid sal hier nie inkom nie!’ ” En tog het Dawid die vesting van Sion, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. Dawid het daardie dag gesê: “Elkeen wat die Jebusiete wil verslaan, moet deur die watertonnel kruip om die kreupeles en blindes by te kom, hulle wat veragtelik is vir Dawid.” Daarom word daar gesê: “'n Blinde en 'n kreupele mag nie die huis binnekom nie.” Dawid het in die vesting gaan woon en dit die Stad van Dawid genoem. Dawid het rondom bouwerke opgerig, van die terrasse af na binne. Dawid het al hoe sterker geword. Die HERE, die God van alle magte, was met hom.

2 SAMUEL 5:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gekom en gespreek en gesê: Kyk, ons is jou been en jou vlees. Ook in die verlede, toe Saul koning oor ons was, was jy die een wat Israel uitgelei en ingebring het; en die HERE het vir jou gesê: Jy moet my volk Israel oppas, en jy moet 'n owerste oor Israel wees. Toe het al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het 'n verbond met hulle gesluit in Hebron voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf. Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. In Hebron het hy sewe jaar en ses maande oor Juda geregeer; en in Jerusalem het hy drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer. En die koning en sy manne het na Jerusalem gegaan na die Jebusiete, die inwoners van die land, wat met Dawid gespreek en gesê het: As jy nie die blindes en die kreupeles wegneem nie, sal jy nie hier inkom nie. Maar Dawid het die vesting van Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid. En Dawid het daardie dag gesê: Elkeen wat op die roeiput klim en die Jebusiete en die kreupeles en die blindes verslaan wat deur Dawid se siel gehaat word, hy moet owerste en owerste wees. Daarom het hulle gesê: Die blindes en kreupeles sal nie in die huis ingaan nie. Dawid het toe in die fort gaan woon en dit die stad van Dawid genoem. En Dawid het rondom gebou van Millo af en binnetoe. En Dawid het verder gegaan en groot geword, en die HERE, die God van die leërskare, was met hom.

2 SAMUEL 5:1-10 Die Boodskap (DB)

Al die stamme van Israel se leiers het na Dawid in Hebron gekom. Hulle het vir hom gesê: “Ons is eintlik mos maar familie van u. Vroeër toe Saul nog ons koning was, was ú die een wat Israel altyd in die oorlog gelei het. Die Here het ook vir u gesê: Jý moet my volk Israel se herder wees. Jý moet die leier van Israel wees.” So het al die stamhoofde van Israel na die koning in Hebron gekom. Dawid het by die Here se altaar ’n ooreenkoms met hulle gesluit en hulle het hom koning gemaak oor Israel. Dawid was 30 toe hy koning geword het en hy het vir 40 jaar regeer. Oor Juda alleen het hy vir sewe en ’n half jaar in Hebron regeer en oor die hele Israel en Juda saam was hy vir 33 jaar koning in Jerusalem. Die koning het met sy manne na Jerusalem opgetrek om teen die Jebusiete, die mense van daardie gebied, te veg. Die Jebusiete het vir Dawid geskree: “Jy sal nooit in hierdie plek inkom nie! Ag man, die mense wat blind en kruppel is, sal sorg dat jy hier uitbly!” Só seker was hulle dat Dawid nie die plek sal kan inneem nie. En tog het Dawid die veilige plek met die muur om op Sionberg ingeneem. Dis later die Stad van Dawid genoem. Dawid het daardie dag nog gesê: “Iemand wat die Jebusiete wil wen, moet hulle deur die watertonnel bykom.” Dawid het die woorde oor “dié wat kruppel en blind is” verpes. Dis waarom die mense later ’n spreekwoord daarvan gemaak het wat sê: “Iemand of iets wat blind of kruppel is, moet uit die tempel uitbly.” Dawid het in die veilige plek met die muur om gaan woon. Hy het dit die Stad van Dawid genoem. Hy het daar rondom laat bou, van die keerwal af binnetoe. Dawid het sterker en sterker geword, want die magtige Here het hom gehelp.

2 SAMUEL 5:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal bloedverwante. ’n Lang tyd al, selfs destyds toe Saul ons koning was, was u eintlik maar die een wat Israel in gevegte gelei het. En die HERE het vir u gesê: ‘Jy sal die herder van my volk Israel wees. Jy sal heerser oor Israel wees.’” Dawid het toe daar in Hebron voor die HERE ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit, en hulle het hom as koning van Israel gesalf. Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het altesaam 40 jaar lank regeer. Hy het sewe en ’n half jaar in Hebron oor Juda regeer, en in Jerusalem 33 jaar oor Israel en Juda saam. Dawid en sy persoonlike leër het teen Jerusalem opgeruk waar die Jebusiete gewoon het. “Jy sal nooit hier inkom nie,” tart die Jebusiete hom en sê: “Selfs die blindes en die lammes sal julle hier uit hou!” Hulle het gedink: “Dawid sal nooit hier kan inkom nie.” Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower. Dit word nou genoem die Stad van Dawid. Daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ’n Jebusiet wil verslaan, moet die watertonnel gebruik om daardie sogenaamde lammes en blindes te bereik, want ek, Dawid, het ’n afsku aan hulle.” Dit is die oorsprong van die spreekwoord: “Die lammes en die blindes mag nie in die tempel ingaan nie.” Dawid het toe die vesting sy tuiste gemaak en dit die Stad van Dawid genoem. Hy het verdere versterkings rondom gebou. Dit was vanaf die Milloterras in die rigting van die paleis. Dawid het al sterker geword, want die HERE, die Almagtige, was met hom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid