2 Samuel 5:1-10

2 Samuel 5:1-10 AFR20

Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en gesê: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie. Selfs in die verlede, toe Saul oor ons koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die HERE het vir u gesê, ‘Jy sal herder wees van my volk Israel, en jy sal 'n leier word oor Israel.’ ” Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het koning Dawid voor die HERE 'n verbond met hulle gesluit in Hebron; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel. Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank regeer. In Hebron was hy koning oor Juda sewe jaar en ses maande lank, en in Jerusalem was hy koning oor die hele Israel en Juda drie-en-dertig jaar lank. Die koning en sy manne het na Jerusalem gegaan, na die Jebusiete wat in dié gebied gewoon het. Die Jebusiete het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie! Selfs blindes en kreupeles sal jou afweer deur te sê, ‘Dawid sal hier nie inkom nie!’ ” En tog het Dawid die vesting van Sion, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. Dawid het daardie dag gesê: “Elkeen wat die Jebusiete wil verslaan, moet deur die watertonnel kruip om die kreupeles en blindes by te kom, hulle wat veragtelik is vir Dawid.” Daarom word daar gesê: “'n Blinde en 'n kreupele mag nie die huis binnekom nie.” Dawid het in die vesting gaan woon en dit die Stad van Dawid genoem. Dawid het rondom bouwerke opgerig, van die terrasse af na binne. Dawid het al hoe sterker geword. Die HERE, die God van alle magte, was met hom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Samuel 5:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid