2 PETRUS 3:17-18
2 PETRUS 3:17-18 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, julle weet klaar dat hierdie dinge later sal gebeur. Daarom moet julle baie goed oppas, want daar is mense wat nie gehoorsaam is aan die wette van God nie. Julle moenie dat hulle vir julle ook laat lewe soos hulle lewe nie, want dan sal julle nie meer seker wees van die dinge wat julle glo nie. Nee, julle moet aanhou om meer en meer te glo in die genade van ons Here en Redder, Jesus Christus, en om Hom beter te leer ken. Daarom moet ons Hom prys, nou en vir altyd. Amen.
2 PETRUS 3:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.
2 PETRUS 3:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen.
2 PETRUS 3:17-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. •Amen.
2 PETRUS 3:17-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vantevore weet, pas op dat julle ook nie, wat deur die dwaling van die goddelose weggelei word nie, uit julle eie standvastigheid val. Maar groei in genade en in die kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die eer toe, nou en tot in ewigheid. Amen.
2 PETRUS 3:17-18 Die Boodskap (DB)
My liewe broers en susters, ek het julle nou behoorlik gewaarsku teen die mense wat die goeie nuus verdraai. Nou weet julle vooruit wat alles op julle wag. Pas op vir hulle! Moenie deur hulle sondes en skewe leringe meegesleur word nie. Staan sterk in julle geloof. Leef net elke dag nog meer uit die liefdevolle goedheid wat ons Here en ons Verlosser, Jesus Christus, vir julle gee. En moet nooit ophou om meer en meer oor Hom te leer nie. Aan ons Here behoort al die heerlikheid, nou en vir altyd. Vir seker!
2 PETRUS 3:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie saamgesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie. Ek wil nie hê dat julle julle eie standvastigheid verloor nie. Sorg liewer dat julle steeds groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.