2 KONINGS 8:1-15
2 KONINGS 8:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Elisa het voorheen 'n vrou se seun weer laat lewe. Hy het met haar gaan praat en vir haar gesê: “Jy moet gereedmaak en weggaan, jy en jou huisgesin, en jy moet gaan woon in 'n ander land waar jy 'n vreemdeling is, want die Here het gesê daar sal sewe jaar lank hongersnood in hierdie land wees.” Die vrou het gereedgemaak en sy het gedoen wat die man van God vir haar gesê het. Sy en haar huisgesin het sewe jaar lank in Filistyne-land gaan woon, hulle was daar vreemdelinge. Ná die sewe jaar het die vrou teruggekom uit Filistyne-land. Sy het toe vir die koning gaan vra dat hy haar moet help sodat sy haar huis en haar grond kan terugkry. Die koning was besig om te praat met Gehasi, die jongman wat vir die man van God gewerk het. Die koning het gevra Gehasi moet vir hom vertel van al die wonderlike dinge wat Elisa gedoen het. Gehasi het vir die koning vertel dat Elisa 'n seun wat dood was, weer laat lewe het. Daardie selfde tyd het die seun se ma daar gekom. Sy het gevra dat die koning haar moet help om haar huis en haar grond terug te kry. Gehasi sê toe: “Meneer die koning, hier is die vrou, en hier is haar seun, Elisa het hom weer laat lewe.” Die koning het vir die vrou gevra wat gebeur het, en sy het vir hom alles vertel. Die koning het toe 'n amptenaar saam met haar laat gaan en hy het vir die amptenaar gesê: “Sy moet alles terugkry wat aan haar behoort, ook al die geld vir die koring wat op haar grond gegroei het, van die dag toe sy uit die land gegaan het, tot nou toe.” Elisa het in Damaskus gekom. Koning Ben-Hadad van Damaskus was siek en toe hy hoor die man van God het in Damaskus aangekom, het hy vir Gasael gesê: “Jy moet 'n present saamneem en na die man van God toe gaan. Jy moet vir hom sê ek is siek en hy moet vir die Here vra of ek sal gesond word of sal sterf.” Gasael het na Elisa toe gegaan en hy het 'n present saamgeneem. Dit was van die beste goed van Damaskus, en hulle het dit op 40 kamele gepak. Gasael het by Elisa gekom en gesê: “Koning Ben-Hadad het my na jou toe gestuur om te vra of hy sal gesond word of sal sterf, want hy is siek.” Elisa het geantwoord: “Sê vir Ben-Hadad hy sal nie gesond word nie. Hy sal sterf, dit is seker. Die Here het dit vir my gewys.” Elisa het lank na Gasael gekyk, Gasael het later nie geweet wat om te doen nie. Elisa het toe gehuil. Gasael het gevra: “Hoekom huil jy, Meneer?” En Elisa het gesê: “Ek huil omdat ek weet watter slegte dinge jy aan die mense van Israel sal doen. Jy sal hulle stede verbrand, hulle jongmanne doodmaak, hulle babas stukkend slaan en hulle vroue oopsny wat babas verwag.” Gasael het gesê: “Ek is nie belangrik nie, ek is soos 'n hond wat niks beteken nie. Ek sal nie daardie slegte dinge doen nie.” En toe sê Elisa: “Die Here het vir my gewys dat jy die koning van die Arameërs sal word.” Gasael het weggegaan van Elisa en hy het by sy koning gekom. Toe die koning vir hom vra wat Elisa gesê het, het hy gesê: “Hy het vir my gesê dat jy gesond sal word, dit is seker.” Maar die volgende dag het Gasael 'n laken natgemaak en hy het dit oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk sodat hy nie kon asemhaal nie. Ben-Hadad het gesterf en Gasael het toe koning geword in Ben-Hadad se plek.
2 KONINGS 8:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Elísa het met die vrou gespreek wie se seun hy lewendig gemaak het, en gesê: Maak jou klaar en vertrek, jy met jou huisgesin, en vertoef as vreemdeling waar jy kan vertoef, want die HERE het 'n hongersnood geroep — wat ook vir sewe jaar oor die land gekom het. Die vrou maak haar toe klaar om te doen volgens die woord van die man van God: sy het getrek met haar huisgesin en as vreemdeling sewe jaar lank in die land van die Filistyne vertoef. En aan die einde van sewe jaar het die vrou uit die land van die Filistyne teruggekom en uitgegaan om 'n beroep te doen op die koning vanweë haar huis en haar grond. Die koning was juis besig om met Gehási, die dienaar van die man van God, te spreek en te sê: Vertel my tog al die groot dinge wat Elísa gedoen het. En terwyl hy die koning vertel hoe hy die dooie lewendig gemaak het, roep die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, juis die koning aan vanweë haar huis en haar grond. En Gehási sê: My heer die koning, dít is die vrou, en dít is haar seun wat Elísa lewendig gemaak het. En die koning het die vrou ondervra, en sy het hom vertel. Toe gee die koning haar 'n sekere hofdienaar en sê: Laat haar alles terugkry wat aan haar behoort, en ook die hele opbrings van die grond, van die dag af dat sy die land verlaat het, tot nou toe. EN Elísa het in Damaskus aangekom, terwyl Bénhadad, die koning van Aram, siek was; en aan hom is meegedeel en gesê: Die man van God het hierheen gekom. Toe sê die koning vir Hásael: Neem 'n geskenk in jou hand en gaan die man van God tegemoet en raadpleeg die HERE deur hom en vra: Sal ek van hierdie siekte gesond word? Daarop het Hásael hom tegemoetgegaan en 'n geskenk in sy hand geneem, naamlik allerhande kosbare goed van Damaskus, 'n vrag vir veertig kamele; en hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: U seun Bénhadad, die koning van Aram, stuur my na u om te vra: Sal ek van hierdie siekte gesond word? En Elísa antwoord hom: Gaan sê: Jy sal sekerlik nie gesond word nie; want die HERE het my laat sien dat hy sekerlik sal sterwe. En hy het sy gesig strak na hom gerig totdat hy verleë was; en die man van God het geween. Toe sê Hásael: Waarom ween my heer? En hy antwoord: Omdat ek weet watter kwaad jy die kinders van Israel sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard ombring en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny. Maar Hásael sê: Wat is u dienaar, die hond, dat hy hierdie groot ding sou doen? En Elísa antwoord: Die HERE het my jou laat sien as koning oor Aram. Daarop het hy van Elísa af weggegaan, en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: Wat het Elísa vir jou gesê? En hy antwoord: Hy het vir my gesê: U sal sekerlik gesond word. Maar die volgende dag het hy die bedsprei geneem en dit in die water gesteek en oor sy gesig uitgesprei, sodat hy gesterf het; en Hásael het in sy plek koning geword.
2 KONINGS 8:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elisa het vir die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, gesê: “Maak klaar om te vertrek, jy en jou huisgesin. Gaan bly op enige plek in die buiteland waar jy blyplek kan kry, want die Here het 'n hongersnood van sewe jaar vir hierdie land bepaal, en dit het al klaar begin.” Die vrou het klaargemaak soos die profeet gesê het, en met haar gesin vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan bly. Aan die einde van die sewe jaar het sy uit die land van die Filistyne teruggekeer. Sy het na die koning toe gegaan om by hom te pleit vir haar huis en haar grond. Die koning was in gesprek met Gehasi, die slaaf van die man van God. Hy het gevra: “Vertel 'n bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.” Terwyl hy vir die koning vertel van die dooie vir wie Elisa in die lewe teruggebring het, kom die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, juis by die koning pleit vir haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “U Majesteit, dit is die vrou hierdie, en dit is haar seun vir wie Elisa in die lewe teruggebring het.” Die koning het die vrou uitgevra, en sy het hom alles vertel. Die koning het 'n paleisamptenaar tot haar beskikking gestel met die opdrag: “Sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die hele opbrengs van die grond van die dag af dat sy die land verlaat het tot nou toe.” Toe Elisa in Damaskus kom, was koning Ben-Hadad van Aram juis siek. Toe hulle hom meedeel dat die man van God daar aangekom het, het die koning vir Gasael gesê: “Neem geskenke saam met jou en gaan na die man van God toe. Gaan raadpleeg die Here deur hom of ek van hierdie siekte gesond sal word.” Gasael het hom tegemoet gegaan met geskenke van allerhande pragtige Damaskusware, 'n vrag vir veertig kamele. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienswillige, koning Ben-Hadad van Aram, het my na u toe gestuur om te vra of hy van sy siekte gesond sal word.” Elisa het vir Gasael gesê: “Gaan sê vir jou koning hy sal nie gesond word nie, want die Here het aan my geopenbaar dat hy sal sterwe.” Die man van God het vir Gasael met 'n strak gesig aangekyk totdat hy verleë geword het. Toe het Elisa in trane uitgebars. “Waarom huil u?” het Gasael gevra. Elisa het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Jy sal hulle vestings in vlamme laat opgaan, hulle jongmanne doodmaak, hulle kindertjies verpletter en hulle swanger vrouens oopsny.” Maar Gasael het gesê: “Ek het nie enige mag nie, hoe sou ek so iets kon doen!” Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.” Gasael het van Elisa af weggegaan en by sy koning gekom. Dié het hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Gasael antwoord toe: “Hy het vir my gesê u sal lewe.” Die volgende môre het Gasael 'n doek gevat, dit in water gesteek en oor die koning se gesig getrek, en die koning het gesterf. Gasael het hom as koning opgevolg.
2 KONINGS 8:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elisa het gepraat met die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, en gesê: “Maak gereed en gaan, jy en jou huisgesin; gaan bly as •vreemdeling waar jy ook al kan, want die HERE het 'n hongersnood aangekondig. Die ergste is, dit het gekom om sewe jaar lank oor die land te heers.” Die vrou het gereedgemaak en gedoen wat die man van God gesê het. Sy en haar huisgesin het gegaan, en sy het sewe jaar lank as vreemdeling in die land van die Filistyne gebly. Aan die einde van die sewe jaar het die vrou teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het uitgegaan om haar op die koning te beroep oor haar huis en haar grond. Die koning was juis in gesprek met Gehasi, die dienaar van die man van God, en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dade wat Elisa gedoen het.” Hy was besig om vir die koning te vertel hoe Elisa 'n dooie lewend gemaak het, en juis toe kom die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, daar aan met die beroep op die koning oor haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “My heer die koning, dit is die vrou, en dit is haar seun wat Elisa lewend gemaak het!” Die koning vra toe die vrou uit en sy vertel hom. Daarna het die koning 'n paleisamptenaar aan haar beskikbaar gestel en gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, ook die volle opbrengs van die grond, vanaf die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.” Elisa het in Damaskus gekom toe Ben-Hadad, koning van Aram, siek was. Hy is ingelig: “Die man van God het hier aangekom.” Die koning sê toe vir Gasael: “Neem 'n geskenk saam en gaan ontmoet die man van God. Raadpleeg dan die HERE deur hom en vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” Gasael het gegaan om hom te ontmoet; hy het 'n geskenk en van alles wat goed was in Damaskus, saamgeneem – 'n vrag vir veertig kamele. Hy het gekom, voor Elisa gaan staan en gesê: “U seun Ben-Hadad, koning van Aram, het my na u gestuur om te vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” Elisa het vir hom gesê: “Gaan sê, ‘Jy sal beslis nie herstel nie. Die HERE het aan my geopenbaar dat jy beslis sal sterf.’ ” Elisa se blik het verstar en hy het hom aangestaar totdat Gasael verleë was. Toe huil die man van God. Gasael het gevra: “Waarom huil my heer?” Hy het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Hulle versterkte stede sal jy aan die brand steek, hulle jong manne gaan jy met die swaard vermoor, hulle kinders sal jy te pletter slaan en hulle swanger vroue sal jy oopsny. ” Gasael het egter gesê: “Maar wat is u dienaar, 'n hond, dat hy iets so erg sal doen?” Toe sê Elisa: “Die HERE het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.” Hy het van Elisa af weggegaan en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Hy het geantwoord: “Hy het vir my gesê dat u beslis sal leef.” Maar die volgende oggend het Gasael 'n deken geneem en dit in water gedompel. Hy het dit oor die koning se gesig getrek, en hy het gesterf. Gasael het toe in sy plek koning geword.
2 KONINGS 8:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Elísa met die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, gespreek en gesê: Staan op en gaan jy en jou huisgesin en vertoef as vreemdeling waar jy ook al kan vertoef, want die HERE het hongersnood geroep; en dit sal ook sewe jaar oor die land kom. Toe het die vrou haar klaargemaak en gedoen volgens die woord van die man van God; en sy het saam met haar huisgesin gegaan en sewe jaar as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef. En aan die einde van sewe jaar het die vrou teruggekeer uit die land van die Filistyne, en sy het uitgegaan om die koning aan te roep oor haar huis en haar land. En die koning het met Gehasi, die dienaar van die man van God, gespreek en gesê: Vertel my tog al die groot dinge wat Elísa gedoen het. En terwyl hy besig was om die koning te vertel hoe hy 'n dooie liggaam lewend gemaak het, kyk, die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, het na die koning geroep vir haar huis en haar land. Toe sê Gehasi: My heer die koning, dit is die vrou en dit is haar seun wat Elísa lewend gemaak het. En toe die koning die vrou vra, het sy hom vertel. Toe het die koning vir haar 'n sekere offisier aangestel en gesê: Gee terug alles wat aan haar behoort, en al die vrugte van die veld van die dag af dat sy die land verlaat het, tot nou toe. En Elísa het in Damaskus gekom; en Bénhadad, die koning van Aram, was siek; en aan hom is meegedeel en gesê: Die man van God het hierheen gekom. Toe sê die koning vir Hásael: Neem 'n geskenk in jou hand en gaan die man van God tegemoet en raadpleeg die HERE deur hom en sê: Sal ek van hierdie siekte gesond word? Daarop het Hásael hom tegemoetgegaan en 'n geskenk saamgeneem, van al die goeie dinge van Damaskus, veertig kamele se las, en hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: U seun Benhadad, die koning van Aram, het my na u gestuur om te sê, Sal ek van hierdie siekte herstel? Toe sê Elísa vir hom: Gaan sê vir hom: Jy sal sekerlik gesond word, maar die HERE het my laat blyk dat hy sekerlik sal sterwe. En hy het sy aangesig vasgehou totdat hy beskaamd was, en die man van God het geween. Toe sê Hásael: Waarom ween my heer? En hy antwoord: Omdat Ek weet watter onheil U die kinders van Israel sal aandoen: hulle vestings sal U aan die brand steek, en hulle jongmanne sal U met die swaard doodmaak en hulle kinders verpletter en hulle vroue verskeur het met kind. En Hásael sê: Maar wat, is u dienaar 'n hond, dat hy hierdie groot ding sou doen? En Elísa antwoord: Die HERE het my laat sien dat jy koning sal wees oor Aram. Hy het toe van Elísa af weggegaan en by sy heer gekom; wat vir hom gesê het: Wat het Elísa vir jou gesê? En hy antwoord: Hy het vir my gesê dat jy sekerlik gesond moet word. En die volgende dag het hy 'n dik doek geneem en dit in water gedoop en dit oor sy aangesig uitgesprei, sodat hy gesterf het; en Hásael het in sy plek geregeer.
2 KONINGS 8:1-15 Die Boodskap (DB)
Elisa het vir die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, gesê: “Vat jou familie en gaan bly op ’n plek in die buiteland. Die Here het bepaal dat daar in ons land ’n hongersnood gaan wees wat sewe jaar lank gaan aanhou.” Die vrou het dit gedoen en vir sewe jaar in die land van die Filistyne gaan woon. Na die hongersnood het sy na Israel toe teruggekom. Sy het toe met die koning gaan praat om haar huis en haar grond te probeer terugkry. Die koning was net toe besig om met Gehasi, Elisa se assistent, te gesels. Hy het vir Gehasi gevra: “Vertel my ’n bietjie van die groot dinge wat Elisa gedoen het.” Terwyl Gehasi besig was om te vertel van die keer toe Elisa die seun lewendig gemaak het, kom die vrou net daar aan om met die koning te praat oor haar huis en haar grond. “Kyk, U Majesteit!” het Gehasi uitgeroep. “Dít is die vrou en haar seun wat deur Elisa lewendig gemaak is!” “Is dit waar?” het die koning haar gevra. Sy het alles bevestig. Die koning het ’n amptenaar van die paleis saam met haar gestuur. Hy het vir die amptenaar gesê: “Sorg dat sy alles kry wat aan haar behoort. Sorg verder ook dat sy die waarde ontvang van die oeste wat op haar lande ingesamel is van die tyd wat sy weg was.” Elisa het Damaskus, die hoofstad van Aram, besoek terwyl die koning, Ben-Hadad, siek in die bed was. Iemand het vir Ben-Hadad vertel dat Elisa in die stad was. Toe hy dit hoor, het Ben-Hadad vir Gasael na Elisa toe gestuur. “Neem geskenke saam en gaan vra vir die man van God Hy moet die Here vra of ek weer gesond gaan word,” het hy beveel. Gasael het 40 kamele gelaai met die beste produkte uit Damaskus as ’n geskenk vir Elisa. Toe hy by hom aankom, het hy gesê: “U kneg, Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy weer gesond sal word.” Elisa het geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal gesond word,’ maar die Here het my laat weet dat hy eintlik gaan sterf.” Elisa het stip na Gasael gekyk, totdat Gasael ongemaklik begin raak het. Toe het Elisa begin huil. Gasael het gevra: “Waarom huil u, Meneer?” “Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy met die Israeliete gaan doen,” het hy geantwoord. “Ek weet jy gaan hulle vestingstede aan die brand steek, hulle jongmans doodmaak, hulle kinders teen die grond doodslaan en dat jy hulle swanger vroue gaan oopsny.” “Maar, Meneer, hoe kan ek wat eintlik niemand is nie, iets so verskrikliks doen?” het hy gevra. Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my bekend gemaak dat jy die koning van Aram gaan word.” Gasael is toe terug na Ben-Hadad toe. Ben-Hadad het gevra: “Wat sê Elisa?” “Hy sê u gaan beslis gesond word,” het Gasael geantwoord. Maar die volgende dag het hy ’n laken gevat en dit natgemaak. Hy het toe die nat doek oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk en hom versmoor. Daarna het Gasael in Ben-Hadad se plek koning van Aram geword.
2 KONINGS 8:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elisa het vir die vrou wie se seun hy weer laat lewe het, gesê: “Roep jou huisgesin bymekaar en trek weg na ’n ander plek toe, want die HERE het bepaal dat daar oor Israel ’n hongersnood sal kom wat sewe jaar sal duur.” Die vrou het gemaak soos die man van God vir haar gesê het. Sy en haar gesin het toe vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan woon. Toe die hongersnood na sewe jaar verby was, het sy teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het na die koning toe gegaan en hom gesmeek om haar huis en grond weer terug te kry. Die koning was besig om met Gehasi, die dienaar van die man van God, te praat. Die koning het so pas vir hom gesê: “Vertel my tog van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.” Gehasi was besig om die koning te vertel van die seun wat Elisa weer laat lewe het. Op daardie oomblik het die ma van die seun ingekom om haar versoek oor haar huis en haar grond aan die koning te stel. “My heer!” roep Gehasi uit. “Dis die vrou, en dis haar seun, die een wat Elisa weer laat lewe het!” “Is dit so?” vra die koning vir haar. Sy het hom toe alles vertel. Daarop beveel hy een van sy amptenare om haar behulpsaam te wees en sê: “Jy moet sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die waarde van enige oes wat gedurende haar afwesigheid ingesamel is.” Op ’n keer het Elisa na Damaskus, die hoofstad van Aram, gegaan. Op dié tydstip was koning Ben-Hadad, die koning van Aram, siek. Iemand het vir die koning vertel dat die man van God daar aangekom het. Toe die koning dit hoor, sê hy vir Gasael: “Neem geskenke en gaan na die man van God toe. Sê vir hom hy moet die HERE vra of ek van hierdie siekte gesond sal word.” Gasael neem toe van die mooiste handelsware van Damaskus en laai dit op 40 kamele as ’n geskenk vir Elisa. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienaar Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy gesond sal word.” Elisa het geantwoord: “Gaan en sê vir hom: ‘Jy sal beslis gesond word.’ Maar die HERE het aan my bekendgemaak dat hy beslis sal sterf.” Elisa het stip na Gasael gekyk sodat Gasael ongemaklik geword het. Toe het die man van God in trane uitgebars. “Waarom huil u, Meneer?” vra Gasael. Elisa antwoord hom: “Ek huil omdat ek weet van die verskriklike dinge wat jy die Israeliete sal aandoen. Jy sal hulle vestings afbrand, hulle jong mans doodmaak, hulle kinders teen die grond verpletter en hulle swanger vroue oopsny!” Gasael antwoord: “Hoe kan ek, wat niksbeduidend is, so iets doen?” Maar Elisa antwoord: “Die HERE het vir my bekendgemaak dat jy koning oor Aram sal word.” Gasael het van Elisa teruggegaan en by die koning aangekom. Die koning vra hom: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Hy antwoord: “Hy het gesê u sal beslis gesond word.” Die volgende dag het Gasael ’n doek gevat, dit met water deurweek en dit oor die koning se gesig gegooi sodat die koning gesterf het. Gasael het hom as koning van Aram opgevolg.