2 Konings 8:1-15

2 Konings 8:1-15 AFR20

Elisa het gepraat met die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, en gesê: “Maak gereed en gaan, jy en jou huisgesin; gaan bly as •vreemdeling waar jy ook al kan, want die HERE het 'n hongersnood aangekondig. Die ergste is, dit het gekom om sewe jaar lank oor die land te heers.” Die vrou het gereedgemaak en gedoen wat die man van God gesê het. Sy en haar huisgesin het gegaan, en sy het sewe jaar lank as vreemdeling in die land van die Filistyne gebly. Aan die einde van die sewe jaar het die vrou teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het uitgegaan om haar op die koning te beroep oor haar huis en haar grond. Die koning was juis in gesprek met Gehasi, die dienaar van die man van God, en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dade wat Elisa gedoen het.” Hy was besig om vir die koning te vertel hoe Elisa 'n dooie lewend gemaak het, en juis toe kom die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, daar aan met die beroep op die koning oor haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “My heer die koning, dit is die vrou, en dit is haar seun wat Elisa lewend gemaak het!” Die koning vra toe die vrou uit en sy vertel hom. Daarna het die koning 'n paleisamptenaar aan haar beskikbaar gestel en gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, ook die volle opbrengs van die grond, vanaf die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.” Elisa het in Damaskus gekom toe Ben-Hadad, koning van Aram, siek was. Hy is ingelig: “Die man van God het hier aangekom.” Die koning sê toe vir Gasael: “Neem 'n geskenk saam en gaan ontmoet die man van God. Raadpleeg dan die HERE deur hom en vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” Gasael het gegaan om hom te ontmoet; hy het 'n geskenk en van alles wat goed was in Damaskus, saamgeneem – 'n vrag vir veertig kamele. Hy het gekom, voor Elisa gaan staan en gesê: “U seun Ben-Hadad, koning van Aram, het my na u gestuur om te vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” Elisa het vir hom gesê: “Gaan sê, ‘Jy sal beslis nie herstel nie. Die HERE het aan my geopenbaar dat jy beslis sal sterf.’ ” Elisa se blik het verstar en hy het hom aangestaar totdat Gasael verleë was. Toe huil die man van God. Gasael het gevra: “Waarom huil my heer?” Hy het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Hulle versterkte stede sal jy aan die brand steek, hulle jong manne gaan jy met die swaard vermoor, hulle kinders sal jy te pletter slaan en hulle swanger vroue sal jy oopsny. ” Gasael het egter gesê: “Maar wat is u dienaar, 'n hond, dat hy iets so erg sal doen?” Toe sê Elisa: “Die HERE het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.” Hy het van Elisa af weggegaan en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Hy het geantwoord: “Hy het vir my gesê dat u beslis sal leef.” Maar die volgende oggend het Gasael 'n deken geneem en dit in water gedompel. Hy het dit oor die koning se gesig getrek, en hy het gesterf. Gasael het toe in sy plek koning geword.