2 KONINGS 18:9-12
2 KONINGS 18:9-12 Bybel vir almal (ABA)
In die vierde jaar nadat Hiskia koning geword het, in die sewende jaar nadat Hosea seun van Ela koning van Israel geword het, het koning Salmaneser van Assirië gekom en hy het Samaria van al die kante aangeval. Hy het die stad ná drie jaar oorwin. Dit was in die sesde jaar nadat Hiskia koning geword het, en in die negende jaar nadat Hosea koning van Israel geword het. Die koning van Assirië het die mense van Israel gevang en weggevat na Assirië. Hy het hulle laat woon in die stad Galag en by die Gabor-rivier in die land Gosan en in die stede van Medië. Dit het gebeur omdat die mense van Israel nie gehoorsaam was aan hulle God die Here nie. Hulle het nie gedoen wat die Here in sy verbond gesê het nie. Hulle het ook nie gedoen wat Moses, die dienaar van die Here, gesê het nie. Hulle was ongehoorsaam en hulle het nie gedoen wat hulle moes doen nie.
2 KONINGS 18:9-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar in die vierde jaar van koning Hiskía — dit was die sewende jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel — het Salmanéser, die koning van Assirië, teen Samaría opgetrek en dit beleër; en hulle het dit ingeneem aan die einde van drie jaar; in die sesde jaar van Hiskía — dit was die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel — is Samaría ingeneem. En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat bly in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië; omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die HERE hulle God nie, maar sy verbond oortree het — alles wat Moses, die kneg van die HERE, beveel het — sonder om daarna te luister en te handel.
2 KONINGS 18:9-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër. Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower. Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië. Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie.
2 KONINGS 18:9-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia – dit was die sewende regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel – het Salmaneser, die koning van Assirië, teen Samaria opgetrek en dit beleër. En ná verloop van drie jaar het hy dit ingeneem. In die sesde regeringsjaar van Hiskia – dit was die negende regeringsjaar van Hosea, die koning van Israel – is Samaria ingeneem. Die koning van Assirië het Israel weggevoer in ballingskap na Assirië, en hulle in Galag en aan die Gabor, die rivier van Gosan, hervestig, en ook in die dorpe van Medië. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die stem van die HERE hulle God nie en sy verbond oortree het – alles wat Moses, die dienskneg van die HERE beveel het. Hulle het nie geluister nie en dit nie uitgevoer nie.
2 KONINGS 18:9-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die vierde jaar van koning Hiskía, dit was die sewende jaar van Hoséa seun van Ela, die koning van Israel, het Salmaneser, die koning van Assirië, opgetrek teen Samaría en dit beleër. En aan die einde van drie jaar het hulle dit ingeneem: in die sesde jaar van Hiskía, dit is die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel, is Samaria ingeneem. En die koning van Assirië het Israel na Assirië weggevoer en hulle in Hala en in Habor by die rivier van Gosan en in die stede van die Meders gesit. Omdat hulle nie na die stem van die HERE hulle God geluister het nie, maar sy verbond oortree het en alles wat Moses, die kneg van die HERE, beveel het, en hulle nie geluister en hulle nie gedoen het nie.
2 KONINGS 18:9-12 Die Boodskap (DB)
Gedurende die vierde jaar wat Hiskia regeer het (dit was in Hosea van Israel se sewende jaar), het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die hoofstad Samaria van die buitewêreld afgesny. Drie jaar later, in Hiskia se sesde jaar en Hosea se negende jaar, het hulle Samaria ingeneem. Die Assiriese koning het die Israeliete as gevangenes na Assirië weggevoer. Hulle is in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië hervestig. Dit het gebeur omdat hulle nie gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. Hulle het die ooreenkoms wat die Here deur sy dienaar Moses met hulle gesluit het, verbreek. Hulle het hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie.
2 KONINGS 18:9-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia was Hosea seun van Ela in sy sewende regeringsjaar in Israel. In daardie jaar het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die stad Samaria beleër. Na drie jaar, gedurende die sesde jaar van koning Hiskia se bewind en die negende jaar van koning Hosea se regering in Israel, is Samaria verower. Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die HERE hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die HERE deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.