2 KORINTIËRS 11:2-4
2 KORINTIËRS 11:2-4 Bybel vir almal (ABA)
Ek is baie lief vir julle, soos God lief is vir julle. Ek is soos 'n pa wat belowe het dat sy dogter met 'n man sal trou wat die pa vir haar gekies het. Daardie man is Christus. Ek wil hê dat julle soos 'n maagd moet wees, ek wil julle vir Christus gee, julle moet net aan Hom behoort. Maar ek is bang dat iemand julle sal verlei sodat julle nie aanhou om aan Christus te dink nie. Want dan behoort julle nie net aan Hom nie. Dit is soos toe die slang vir Eva verlei het omdat hy so skelm was. Want dit lyk vir my julle glo en aanvaar maklik iemand wat kom en wat vir julle van 'n ander Jesus vertel, nie dieselfde Jesus wat ons vir julle gepreek het nie. Of julle aanvaar miskien 'n ander gees en boodskap, nie die Gees van God en die goeie boodskap wat ons vir julle gebring het nie.
2 KORINTIËRS 11:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.
2 KORINTIËRS 11:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.
2 KORINTIËRS 11:2-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan •Christus, verbind het, om julle as 'n rein maagd aan Hom aan te bied. Maar ek is bang dat, soos die slang vir Eva met sy geslepenheid mislei het, julle gedagtes dalk bederf kan raak, verwyderd van die opregte en reine toewyding aan Christus. Want as iemand 'n ander Jesus kom verkondig wat ons nie verkondig het nie, of julle ontvang 'n ander gees wat julle nie ontvang het nie, of 'n ander evangelie wat julle nie aanvaar het nie, verdra julle dit geredelik.
2 KORINTIËRS 11:2-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ek is jaloers oor julle met godvrugtige jaloersheid, want ek het jou aan een man verbind, om jou as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne enigsins bedorwe sou word van die eenvoud wat in Christus is. Want as hy wat kom, 'n ander Jesus verkondig, wat ons nie verkondig het nie, of as julle 'n ander gees ontvang wat julle nie ontvang het nie, of 'n ander evangelie wat julle nie aangeneem het nie, kan julle hom goed verdra.
2 KORINTIËRS 11:2-4 Die Boodskap (DB)
Julle weet ek gee verskriklik baie om vir julle. Met ’n ywer wat van God af kom, wil ek julle oppas en beskerm. Ja, ek het as’t ware die verlowing tussen julle en Christus gereël. Daarom is dit ook my plig om julle eendag soos ’n bruid aan Christus af te gee. En ek wil julle soos ’n jongmeisie wat nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad het nie, na haar bruidegom toe vat. Skoon en rein. Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie. Julle gee my slapelose nagte! Julle glo elkeen wat deesdae daar by julle kom preek, ook al praat hulle oor heeltemal ’n ander Jesus as ek. Dit maak nie vir julle saak of hulle ’n ander evangelie na julle toe bring as die een wat julle by my gehoor het, en of hulle oor ’n ander gees met julle praat as die Een oor wie ek praat nie, julle eet dit alles vir soetkoek op! Op die oomblik tree daar juis sulke mense by julle op. Kom ek sê sommer reguit vir julle dat daardie sogenaamde wonderlike apostels nie so belangrik is as wat hulle julle probeer wysmaak nie.
2 KORINTIËRS 11:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek is jaloers oor julle eer, want julle is soos ’n jong meisie wat ek aan net een bruidegom toegesê het, en wat ek daarom vlekkeloos aan Christus wil oorhandig. Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het. As iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, of ’n ander gees as die Heilige Gees of ’n ander evangelie aanvaar as dié wat julle van ons ontvang het, is julle só maklik tevrede daarmee.