2 KORINTIËRS 1:16-22
2 KORINTIËRS 1:16-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe. Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê? So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Bybel vir almal (ABA)
Want ek wou eers na julle toe gaan en dan na die provinsie Masedonië. Ek wou dan weer van Masedonië terugkom na julle toe. Ek wou hê dat julle my moet help om na die provinsie Judea te gaan. Dit is wat ek wou doen. Ek het nie vir julle 'n leuen vertel nie, maar toe het ek nie van Masedonië teruggekom na julle toe nie. Ek het nie gedoen soos die mense van die wêreld doen nie. Hulle doen nie wat hulle sê nie. Hulle sê “ja,” maar dit kan ook “nee” wees. Julle weet dat God doen wat Hy belowe. So doen ons ook wat ons belowe. Wanneer ons “ja” sê, dan is dit “ja,” en wanneer ons “nee” sê, dan is dit “nee.” Julle moet onthou dat ek en Silvanus en Timoteus die boodskap oor die Seun van God, Jesus Christus, vir julle gebring het. En julle weet dat Jesus nie “ja” én “nee” is nie. Jesus is God se “ja.” Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het. Daarom, wanneer ons “amen” sê, dan sê ons dat alles waar is wat ons van Christus glo. En so prys ons vir God. God is die Een wat vir ons sê dat ons en julle saam aan Christus behoort. God het ook gesê dat ons vir Hom moet werk. Hy het gewys dat ons aan Hom behoort toe Hy die Heilige Gees in ons harte gegee het. Die Heilige Gees sê vir ons dat ons altyd aan Hom sal behoort.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en by julle langs deurgaan na Macedónië, om weer van Macedónië af by julle te kom en deur julle voortgehelp te word na Judéa. Het ek dan miskien ligsinnig gehandel toe ek my dit voorgeneem het? Of wat ek my voorneem, neem ek my dit voor na die vlees sodat by my tegelyk is: ja ja, en nee nee? So waar as God getrou is — ons woord tot julle was nie ja en nee nie! Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is, deur my en Silvánus en Timótheüs, was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe. Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê? So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek wou by julle langs deurreis na Macedonië, om weer van Macedonië af na julle terug te kom, en deur julle na Judea toe voortgehelp te word. Ek het tog nie ligtelik gehandel toe ek my dit voorgeneem het nie? Of beplan ek wat ek beplan uit menslike swakheid, sodat, wat my betref “ja, ja” tegelyk “nee, nee” kan wees? Maar God is getrou – ons woorde aan julle is nie tegelyk “ja” en “nee” nie; want Jesus •Christus, die •Seun van God, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my en Silvanus en Timoteus, was nie “ja” én “nee” nie – inteendeel, in Hom het dit “ja” geword. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “•amen” aan God, tot sy eer. Dit is God wat ons saam met julle in Christus 'n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En om by julle verby te trek na Masedonië en om uit Masedonië na julle terug te keer en van julle op my pad na Judéa gebring te word. Toe ek dan so gesind was, het ek lig gebruik? of die dinge wat ek voorneem, besluit ek volgens die vlees, dat daar by my ja, ja en nee nee sou wees? Maar soos God waaragtig is, was ons woord aan julle nie ja en nee nie. Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is, ook deur my en Silvanus en Timotheus, was nie ja en nee nie, maar in Hom was ja. Want al die beloftes van God in hom is ja, en in Hom Amen, tot eer van God deur ons. En Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God; wat ons ook verseël het en die krag van die Gees in ons harte gegee het.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Die Boodskap (DB)
Later op pad terug van daar af sou ek dan ’n tweede maal by julle kom oorbly het. So sou julle sommer twee keer deel kon hê in al die wonderlike hemelse geskenke wat God vir my gegee het. Boonop sou julle my tydens my tweede besoek kon help met al my voorbereidings vir my reis na Judea. Ongelukkig het hierdie planne toe nie so uitgewerk nie. Miskien dink julle by julleself: “Daardie Paulus sê een ding, maar doen iets anders. Hy belowe hy kom ons besoek, maar dan daag hy nie op nie.” Het ek sommer uit my eie hierdie besluite geneem, sonder om eers te vra wat God se wil is? Is ek ’n regte jabroer wat die een ding sê en ’n ander ding doen? Nee, glad nie. God weet ek praat die waarheid met julle. Julle weet ook dat ek julle nie bedrieg het toe ek en Silvanus en Timoteus vroeër daar by julle gewerk het nie. Ons het mos nie die een dag een ding gesê en die volgende dag iets anders kwytgeraak nie. Ons het net met julle oor Jesus Christus, die Seun van God, gepraat. Hy is die bewys dat God getrou is. Christus sê nooit een ding en doen dan iets anders nie. Hy maak al God se beloftes in die Bybel waar. Hierop kan ons almal net “ja en amen” sê, of hoe? En wanneer ons dit doen, word God se Naam grootgemaak. God het ons almal saam stewig in Christus geanker. Hy is die fondament op wie ons lewe gebou is. God het ons ook met sy groot krag toegerus en ons eenkant gesit sodat ons Hom voltyds kan dien. Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort. Dit is die Heilige Gees. God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito, die eerste betaling van sy kant af om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag.
2 KORINTIËRS 1:16-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wou op die deurreis na Masedonië by julle aandoen en weer ’n keer op die terugreis van Masedonië af, om dan met julle hulp verder na Judea toe gestuur te word. Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ’n “ja” as ek eintlik ’n “nee” bedoel? God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie “ja” en terselfdertyd “nee” is nie. Want die Seun van God, Christus Jesus, wat deur ons – dit is deur my, Silvanus en Timoteus – onder julle verkondig is, is nie terselfdertyd “ja” en “nee” nie. In Hom het God se “ja” plaasgevind, want al die baie beloftes van God in Christus Jesus is ’n volmondige “ja”. Daarom is dit ook deur Christus se toedoen dat ons, om God te verheerlik, daarop “Amen” sê. Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het. Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee.