2 KRONIEKE 32:24-26 - Compare All Versions
2 KRONIEKE 32:24-26 ABA (Bybel vir almal)
In daardie tyd het Hiskia baie siek geword, hy het amper gesterf. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat. Die Here het 'n wonderwerk met Hiskia laat gebeur. Die Here was goed vir Hiskia, maar Hiskia het nie gedoen wat hy moes doen nie, hy was hoogmoedig. Daarom het die Here kwaad geword vir Hiskia en vir die mense van Juda en Jerusalem. Toe het Hiskia homself verneder en hy het opgehou om hoogmoedig te wees, hy en die mense van Jerusalem. Die Here het hulle nie gestraf terwyl Hiskia gelewe het nie, Hy het hulle later gestraf.
2 KRONIEKE 32:24-26 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
IN dié dae het Jehiskía dodelik siek geword, maar hy het tot die HERE gebid, en Hy het met hom gespreek en hom 'n wonderteken gegee. Maar Jehiskía het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword. Daarom was daar 'n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem. Maar Jehiskía het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Jehiskía nie.
2 KRONIEKE 32:24-26 AFR83 (Afrikaans 1983)
Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur. Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie.
2 KRONIEKE 32:24-26 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
In daardie dae het Hiskia tot die dood toe siek geword. Toe hy tot die HERE gebid het, het Hy hom geantwoord en vir hom 'n teken gegee. Omdat Hiskia se hart egter hoogmoedig geraak het, het hy nie in ooreenstemming met die weldaad teenoor hom gereageer nie. Toe het 'n oordeel uit toorn teen hom en teen Juda en Jerusalem losgebreek. Maar Hiskia het hom verootmoedig oor die hoogmoed van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die oordeel uit toorn van die HERE in die dae van Hiskia nie teen hulle voortgeduur het nie.
2 KRONIEKE 32:24-26 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
In daardie dae was Hiskia siek tot die dood toe en hy het tot die HERE gebid; en hy het met hom gespreek, en hy het hom 'n teken gegee. Maar Hiskía het nie weer vergeld volgens die weldaad wat aan hom gedoen is nie; want sy hart was verhewe; daarom was daar toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem. Maar Hiskia het hom verneder weens die trots van sy hart, hy sowel as die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Hiskía nie.
2 KRONIEKE 32:24-26 DB (Die Boodskap)
Hiskia het in dié tyd ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid. Sy gebed is verhoor en hy het gesond geword. Maar Hiskia het nie reg gemaak nadat die Here hierdie groot guns aan hom bewys het nie. Hy was vol van homself. Daarom het die Here kwaad geword vir hom en vir Juda en Jerusalem. Hiskia het toe erken dat hy hoogmoedig geword het en die inwoners van Jerusalem het hulleself verneder. Daarom het die Here se wraak hulle nie in Hiskia se tyd getref nie.
2 KRONIEKE 32:24-26 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Hy het tot die HERE gebid, en God het hom gesond gemaak en ’n wonderteken gegee. Maar Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die goedheid wat aan hom bewys is nie en het trots geword. Daarom het die toorn van die HERE hom, Juda en Jerusalem getref. Toe het Hiskia berou gehad oor sy trots en so ook die inwoners van Jerusalem. Die HERE se toorn het toe nie tydens Hiskia se regering oor hulle gekom nie.