2 Kronieke 32

32
Sanherib van Assirië val Juda binne
1Na hierdie optrede van Hiskia waarin hy sy lojaliteit aan die Here bewys het, het koning Sanherib van Assirië Juda aangeval. Hy het die versterkte stede met sy leër omsingel. 2Toe Hiskia besef dat Sanherib op pad was om Jerusalem aan te val, 3het hy ’n vergadering met sy amptenare en militêre raadgewers gehou. Hy wou al die waterfonteine buite die stad afseël en hulle het die gedagte ondersteun. 4’n Groot klomp werkers is toe opgeroep om die fonteine te verseël en die stroom water te blokkeer wat deur die land vloei. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriese konings nou hier kom en baie water hê?”
5Hiskia het hard gewerk om Jerusalem te beveilig deur alle swak plekke in die muur te herbou en dit met torings te versterk en deur ’n tweede muur rondom die stad te bou. Hy het ook baie wapens en skilde laat maak. 6Daarna het hy bevelvoerders oor die soldate aangestel en hulle op die plein by die stadspoort laat vergader. Hy het hulle toegespreek: 7“Wees sterk en dapper! Moenie bang wees vir die Assiriese koning en sy groot leër nie. By ons is daar ’n sterker mag as by hom. 8Hy het net mense in sy leër, maar ons het die Here ons God aan ons kant. Hy help ons en veg saam met ons!”
Die soldate het moed geskep uit koning Hiskia se woorde.
Sanherib dreig Jerusalem met vernietiging
9Koning Sanherib van Assirië was besig om Lagis met al sy magte te beleër. Van daar af het hy boodskappers na Jerusalem toe gestuur om met koning Hiskia en al die Judeërs in Jerusalem te praat. Hulle boodskap was: 10“Luister wat sê koning Sanherib van Assirië: Waarom dink julle dat julle my aanval op Jerusalem sal kan oorleef? 11Hiskia sê mos: ‘Die Here ons God sal ons beskerm teen die Assiriese koning!’ Hy mislei julle. Dit sal maak dat julle nog van honger en dors doodgaan. 12Is dit nie dieselfde Hiskia wat die Here se heilige plekke en altare laat vernietig het nie? Dis mos hy wat vir die mense van Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle mag die Here net by een altaar vereer en net op die een plek wierook brand.’ 13Julle moet tog weet wat ek en my voorgangers met al die volke in die wêreld gedoen het! Was enigeen van daardie volke se gode sterk genoeg om hulle uit my kloue te red? 14Nie een van die volke wat my voorgangers uitgeroei het, se gode was sterk genoeg om hulle te red nie. Hoe sal júlle God dit tog kan regkry? 15Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Ek herhaal, geen god kon tot dusver enige volk teen my of my voorgangers beskerm nie. Nog minder sal julle God julle teen my kan beskerm!”
16Die boodskappers het nog baie beledigings teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia uitgespreek. 17Die koning het ook briewe geskryf waarin hy die Here, die God van Israel, beledig het. Hy het geskryf: “Net soos die ander volke se gode hulle nie uit my mag kon red nie, sal die God van Hiskia dit ook nie regkry nie.”
18Die Assiriese boodskappers het hard in Hebreeus gepraat sodat almal hulle kon verstaan. Hulle doel was om die soldate op die mure te verwar en bang te maak sodat hulle Jerusalem kon inneem. 19Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy maar net soos een van die handgemaakte gode van die ander volke was.
20Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid. 21Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak.
22So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle. 23Baie mense het geskenke vir die Here Jerusalem toe gebring. Daar was ook baie wat duur geskenke vir koning Hiskia gebring het.
Na alles wat gebeur het, het Hiskia ’n goeie naam gehad onder die nasies.
Hiskia: verwaand en nederig
24Hiskia het in dié tyd ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid. Sy gebed is verhoor en hy het gesond geword. 25Maar Hiskia het nie reg gemaak nadat die Here hierdie groot guns aan hom bewys het nie. Hy was vol van homself. Daarom het die Here kwaad geword vir hom en vir Juda en Jerusalem. 26Hiskia het toe erken dat hy hoogmoedig geword het en die inwoners van Jerusalem het hulleself verneder. Daarom het die Here se wraak hulle nie in Hiskia se tyd getref nie.
27Hiskia was baie ryk. Almal het groot respek vir hom gehad. Hy het skatkamers vir sy silwer, goud en juwele laat bou, ook vir speserye, skilde en ander waardevolle items. 28Daarby het hy stoorkamers vir sy deel van die graanoes, die nuwe wyn en olyfolie gebou. Hy het ook krale en stalle vir sy beeste en troppe kleinvee gebou. 29Hy het ook stede gebou en reusetroppe kleinvee en beeste besit. Die Here het hom baie ryk gemaak.
30Hiskia het die boonste oog van die Gihonfontein toegemaak en die water deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad gelei. Hy het baie goed gevaar met al die projekte wat hy aangepak het, 31maar toe ’n Babiloniese afvaardiging by hom kom om hom uit te vra oor die ongewone dinge wat in die land gebeur het, het die Here hom verlaat om hom te toets en vas te stel wat in sy hart aangaan.
32Die res van Hiskia se geskiedenis en sy toewyding aan die Here is in Die Visioen van die Profeet Jesaja, Amos se seun en in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. 33Na sy dood is Hiskia in die boonste deel van die koninklike begraafplaas begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het by sy dood aan hom eer betoon.
Sy seun Manasse het hom opgevolg.

Tans Gekies:

2 Kronieke 32: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid