2 KRONIEKE 24:17-20 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

2 KRONIEKE 24:17-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Na die dood van Jojada het die leiers van Juda die koning kom ophemel, en hy het hom dit laat geval. Toe het hulle die huis van die Here die God van hulle voorvaders verlaat en gewyde pale en afgodsbeelde gaan dien. Met dié sondige optrede van hulle het Juda en Jerusalem die toorn van die Here op hulle gehaal. Die Here het profete na hulle toe gestuur om hulle na Hom toe terug te bring, en die profete het hulle gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie. Die Gees van God het vir Sagaria seun van die priester Jojada in besit geneem. Sagaria het voor die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Dit sal nie met julle goed gaan nie. Omdat julle die Here verlaat het, sal Hy julle verlaat.”

2 KRONIEKE 24:17-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Maar ná die dood van Jójada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer. Toe het die koning na hulle geluister, en hulle het die huis van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar 'n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle. En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die HERE terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie. Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.

2 KRONIEKE 24:17-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Na Jojada se dood het die leiers van Juda gekom, voor koning Joas gebuig en hom oorreed om na hulle raad te luister. Hulle het toe besluit om die tempel van die HERE, die God van hulle voorouers, te verlaat. Hulle het eerder die Asjerapale en afgode aanbid. Die toorn van God het weens hierdie sonde teen Juda en Jerusalem ontbrand. Die HERE het profete gestuur om hulle na Hom terug te bring. Die profete het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie. Toe het die Gees van God op Sagaria seun van Jojada die priester gekom. Hy het voor die volk gesê: “Dit is wat God sê: Hoekom oortree julle die gebooie van die HERE? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Julle het die HERE verlaat, en nou het Hy julle verlaat!”

2 KRONIEKE 24:17-20 DB (Die Boodskap)

Ná Jojada se dood het die leiers van Juda vir Joas besoek en voor hom neergebuig. Hulle het hom oortuig om van nou af húlle raad te volg. Hulle het besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verwaarloos. Hulle het pale wat ter ere van die afgod Asjera opgerig is, saam met ander afgodsbeelde begin vereer. Hieroor was die Here woedend vir Juda en Jerusalem. Hy het profete gestuur om vir hulle te sê om hulle tot Hom te bekeer, maar hulle wou nie luister nie. Die Here se Gees het toe vir Sagaria in besit geneem. Hy was Jojada, die priester, se seun. Hy het voor die volk opgestaan en vir hulle gesê: “Hier is ’n boodskap van God spesiaal vir julle: Waarom luister julle nie na die Here se opdragte nie? Dit is tot julle eie nadeel! Julle het die Here verlaat, nou gaan Hy julle verlaat.”

2 KRONIEKE 24:17-20 ABA (Bybel vir almal)

Nadat Jojada gesterf het, het die amptenare van Juda voor die koning kom buig, en hy het gedoen wat hulle gevra het. Hulle het die tempel gelos en hulle het gewyde pale en afgode gedien. Die Here het kwaad geword vir die mense van Juda en Jerusalem oor hierdie verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hy het profete na hulle toe gestuur om hulle te laat terugkom na Hom toe. Die profete het vir hulle gesê hulle doen verkeerde dinge, maar hulle het nie geluister nie. Toe het die Gees van God gekom in Sagaria seun van die priester Jojada. Sagaria het voor die mense gaan staan en hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle nie wat die gebooie van die Here sê nie? Dit sal nie goed gaan met julle nie, want julle het die Here gelos, en nou het Hy júlle gelos.”

2 KRONIEKE 24:17-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ná die dood van Jojada het die leiers van Juda gekom en diep voor die koning neergebuig; toe het die koning na hulle geluister. Hulle het die huis van die HERE, die God van hulle voorouers, verlaat, en die asjeras en afgodsbeelde gedien. Toe het 'n oordeel uit toorn Juda en Jerusalem getref oor hierdie skuldlas van hulle. Die HERE het profete onder hulle ingestuur om hulle na Hom te laat terugkeer. Die profete het hulle tereggewys, maar hulle het nie geluister nie. Die Gees van God het toe van Sagaria, seun van die priester Jojada, besit geneem. Hy het hoër as die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God, ‘Waarom oortree julle die gebooie van die HERE? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.’ ”

2 KRONIEKE 24:17-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ná die dood van Jójada het die vorste van Juda gekom en hulle voor die koning neergebuig. Toe het die koning na hulle geluister. En hulle het die huis van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en heilige boomstamme en drekgode gedien, en toorn het oor Juda en Jerusalem gekom oor hierdie hulle oortreding. Maar hy het profete na hulle gestuur om hulle na die HERE terug te bring; en hulle het teen hulle getuig, maar hulle het nie geluister nie. En die Gees van God het oor Sagaria, die seun van die priester Jójada, gekom wat bo die volk gestaan het, en vir hulle gesê: So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE, sodat julle nie voorspoedig kan wees nie? omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle ook verlaat.