2 KRONIEKE 24:17-20
2 KRONIEKE 24:17-20 AFR83
Na die dood van Jojada het die leiers van Juda die koning kom ophemel, en hy het hom dit laat geval. Toe het hulle die huis van die Here die God van hulle voorvaders verlaat en gewyde pale en afgodsbeelde gaan dien. Met dié sondige optrede van hulle het Juda en Jerusalem die toorn van die Here op hulle gehaal. Die Here het profete na hulle toe gestuur om hulle na Hom toe terug te bring, en die profete het hulle gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie. Die Gees van God het vir Sagaria seun van die priester Jojada in besit geneem. Sagaria het voor die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Dit sal nie met julle goed gaan nie. Omdat julle die Here verlaat het, sal Hy julle verlaat.”

