1 TIMOTEUS 6:6-19 - Compare All Versions
1 TIMOTEUS 6:6-19 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: “Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen. Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.
1 TIMOTEUS 6:6-19 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen. Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle 'n skat weglê, 'n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.
1 TIMOTEUS 6:6-19 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor. Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis. Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies. En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn. Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar, Hý, die geseënde en alleen Magtige, die Koning van die konings en die Heer van die here. Hy alleen besit onsterflikheid, en bewoon die ontoeganklike lig. Niemand het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie. Hom kom toe die eer en die ewige krag. Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel. Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang.
1 TIMOTEUS 6:6-19 DB (Die Boodskap)
Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel. Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander. Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees. Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie. Ek sê dit voor God wat alles lewendig gemaak het en voor Christus Jesus wat, sonder om bang te wees vir Pontius Pilatus, voor almal gesê het waarvoor Hy staan. Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom. Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers. Hy leef vir altyd. Ons kan nie by sy blyplek kom nie, want dit is omgewe deur ’n helder lig. Daarom het niemand Hom nog ooit gesien nie en kan niemand Hom sien nie. Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar! Waarsku die mense wat in hierdie wêreld baie geld het om nie te veel van hulleself te begin dink nie. Hulle moet nie hulle hele lewe op geld en rykdom bou nie, want dit hou nie baie lank nie. ’n Mens kan ook nie seker wees dat jy altyd geld sal hê nie. Hulle moet eerder hulle lewe bou deur op God te vertrou. Hy sal sorg dat ons alles kry wat ons nodig het om van te leef. Praat mooi met die ryk mense. Vra hulle om hulle geld te gebruik om arm mense mee te help. Hulle moet nie suinig wees nie en moet graag met ander deel wat hulle het. So sal hulle soveel goeie dinge doen dat hulle in die oë van God en die mense baie ryk sal wees, nie omdat hulle baie geld het nie, maar omdat hulle soveel goeie dinge gedoen het. So belê hulle eintlik in die bank van God. Dit is die beste belegging waaraan ’n mens kan dink, veral vir die toekoms. So sal die ryk gelowige ook die ware lewe by God hê.
1 TIMOTEUS 6:6-19 ABA (Bybel vir almal)
Maar wanneer 'n mens vir God dien en jy is ook tevrede met wat jy het, dan het jy baie. Want ons het niks ingebring in die wêreld nie, en ons kan ook niks uitneem uit die wêreld nie. Daarom moet ons tevrede wees wanneer ons kos en klere het. Wanneer mense baie graag ryk wil word, dan doen hulle maklik sonde. Hulle sit soos 'n voël vas in 'n vangstrik. Hulle is dwase wat dinge wil hê wat nie goed is vir hulle nie. Hulle sterf en is soos 'n skip wat in die water sink, daar bly niks oor van hulle nie. Wanneer mense lief is vir geld, dan doen hulle baie slegte dinge. Mense wat graag baie geld wou hê, het opgehou om in Christus te glo. So het hulle hulleself baie swaar laat kry. Maar Timoteus, jy behoort aan God. Daarom moet jy wegvlug van hierdie verkeerde dinge. Jy moet aanhou probeer om dinge te doen wat reg is. Jy moet probeer om vir God te dien, om in Christus te glo, om lief te wees vir mense, om aan te hou om dit te doen en om iemand met 'n sagte hart te wees. Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand hardloop in 'n moeilike resies. Jy moet aanhou om hard te probeer in hierdie resies wat jy hardloop. Jy moet hard probeer om die prys te kry, die prys is die ewige lewe. God het jou geroep om die ewige lewe te kry toe jy reguit gesê het dat jy in Christus glo, baie mense het gehoor toe jy dit gesê het. God laat alles lewe, en Christus Jesus het voor Pontius Pilatus reguit gesê wat die waarheid is en wie Hy is. God en Christus Jesus hoor wanneer ek vir jou sê: Jy moet presies doen wat ek vir jou gesê het en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet dit doen totdat ons Here Jesus Christus weer sal kom. Hy sal op die regte tyd kom. God sal dit laat gebeur. Ons moet God prys, dit is net Hy wat regeer. Hy is die Koning van die konings, Hy is die Here van almal wat regeer. Dit is net Hy wat nooit sterf nie, Hy woon in 'n lig wat so blink dat niemand naby Hom kan kom nie. Niemand het vir God gesien nie, nooit nie, en niemand kán Hom sien nie. Ons bid dat die mense altyd vir God sal eer, God wat altyd sterk is. Amen. Daar is mense wat nou ryk is in hierdie wêreld. Jy moet vir hulle sê hulle moenie hoogmoedig wees nie. En hulle moenie dink dat geld en rykdom hulle altyd sal help nie. 'n Mens kan nooit seker wees dat jy altyd ryk sal wees nie. Nee, hulle moet seker weet dat God vir ons alles sal gee wat ons nodig het. Ja, Hy gee vir ons nog meer sodat ons dit kan geniet. Die ryk mense moet goeie dinge doen, ja, hulle moet baie goeie dinge doen. Dit is hoe hulle ryk moet wees. Hulle moet baie graag van hulle eie goed vir ander mense gee. Wanneer hulle dit doen, dan maak hulle vir hulle goed bymekaar wat later soos 'n vaste fondament sal wees. Hulle moet dit alles doen sodat hulle die ware lewe kan kry.
1 TIMOTEUS 6:6-19 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Wat wel 'n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. Wie ryk wil wees, val in versoeking en 'n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na •geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en •Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius •Pilatus gelewer het, dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, wat God op sy eie tyd sal openbaar – Hy, die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers, Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. •Amen. Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, om sodoende vir hulleself 'n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.
1 TIMOTEUS 6:6-19 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Maar godsaligheid saam met vergenoegdheid is groot wins. Want ons het niks in hierdie wêreld ingebring nie, en dit is seker dat ons niks kan uitdra nie. En met voedsel en klere, laat ons daarmee tevrede wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en 'n strik en in baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense in verderf en verderf laat verdrink. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad; terwyl sommige daarna begeer het, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug hierdie dinge; en jaag na geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, geduld, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is, en het 'n goeie belydenis voor baie getuies afgelê. Ek gee jou bevel voor die oë van God, wat alles lewend maak, en voor Christus Jesus, wat voor Pontius Pilatus 'n goeie belydenis afgelê het; dat jy hierdie gebod onberispelik en onberispelik onderhou tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus. Wat Hy in sy tye sal toon, wie is die geseënde en enigste Kragtige, die Koning van die konings en die Here van die here; wat alleen onsterflikheid het, wat woon in die lig waartoe geen mens kan nader nie; wat niemand gesien en nie kan sien nie; aan wie kom toe eer en ewige krag. Amen. Belas die rykes in hierdie wêreld, dat hulle nie hoogmoedig moet wees en nie vertrou op onsekere rykdom nie, maar op die lewende God, wat ons alles ryklik gee om te geniet; dat hulle goed doen, dat hulle ryk is in goeie werke, bereid is om uit te deel, gewillig om mee te deel; en lê vir hulle 'n goeie fondament bymekaar vir die tyd wat kom, sodat hulle die ewige lewe kan gryp.