1 Timoteus 6

6
1 Wie onder die slawejuk gebuk gaan, moet met alle respek teenoor hulle eienaars optree, sodat die Naam van God en die leer nie belaster word nie. 2Diegene wat gelowige eienaars het, mag hulle nie verag nie, omdat hulle broers is; laat hulle nog meer diensbaar wees, juis omdat dit gelowiges en geliefdes is wat dié goeie diens ontvang.
Ware rykdom
Onderrig die mense hierin, en moedig hulle aan om dit te doen. 3As iemand 'n ander leer verkondig, en hom nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus •Christus, en by die leer wat met die ware godvresendheid ooreenstem nie, 4is hy verwaand en sonder begrip, en het hy eerder 'n sieklike aptyt vir meningsverskille en stryery oor woorde. Dit lei tot afguns, rusie, lastering, bose suspisies, 5aanhoudende geredekawel onder mense wie se denke ontaard het, en wat van die waarheid beroof is, en dink dat godvresendheid winsgewend is.
6Wat wel 'n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan.
7 Ons het immers niks
in die wêreld ingebring nie,
en ons kan niks
daaruit wegneem nie;
8 maar as ons kos en klere het,
laat ons daarmee tevrede wees.
9 Wie ryk wil wees, val in versoeking en 'n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. 10Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.
Laaste opdragte
11 Maar jy, o man van God,
vlug weg van hierdie dinge!
Streef eerder na •geregtigheid,
godvresendheid, betroubaarheid,
liefde, volharding, sagmoedigheid.
12Stry die goeie stryd van die geloof;
gryp die ewige lewe aan,
waartoe jy geroep is
en waarvan jy die goeie belydenis
voor baie getuies afgelê het.
13Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en •Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius •Pilatus gelewer het, 14dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, 15wat God op sy eie tyd sal openbaar –
Hy, die lofwaardige
en enigste Heerser,
die Koning van die konings
en Here van die heersers,
16Hy wat alleen onsterflikheid besit,
ontoeganklike lig bewoon,
en vir wie geen mens ken
of kan sien nie –
aan Hom kom die eer
en ewige krag toe. •Amen.
17Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. 18Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, 19om sodoende vir hulleself 'n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.
20O Timoteus, bewaar jou pand! Vermy goddelose en leë praatjies, en die teenstrydighede van wat valslik as kennis bestempel word. 21 Omdat sommige mense dit bely het, het hulle van die geloof afgedwaal.
Seëngroet
Die genade bly met julle!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid