1 TIMOTEUS 6:11-16
1 TIMOTEUS 6:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Maar Timoteus, jy behoort aan God. Daarom moet jy wegvlug van hierdie verkeerde dinge. Jy moet aanhou probeer om dinge te doen wat reg is. Jy moet probeer om vir God te dien, om in Christus te glo, om lief te wees vir mense, om aan te hou om dit te doen en om iemand met 'n sagte hart te wees. Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand hardloop in 'n moeilike resies. Jy moet aanhou om hard te probeer in hierdie resies wat jy hardloop. Jy moet hard probeer om die prys te kry, die prys is die ewige lewe. God het jou geroep om die ewige lewe te kry toe jy reguit gesê het dat jy in Christus glo, baie mense het gehoor toe jy dit gesê het. God laat alles lewe, en Christus Jesus het voor Pontius Pilatus reguit gesê wat die waarheid is en wie Hy is. God en Christus Jesus hoor wanneer ek vir jou sê: Jy moet presies doen wat ek vir jou gesê het en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet dit doen totdat ons Here Jesus Christus weer sal kom. Hy sal op die regte tyd kom. God sal dit laat gebeur. Ons moet God prys, dit is net Hy wat regeer. Hy is die Koning van die konings, Hy is die Here van almal wat regeer. Dit is net Hy wat nooit sterf nie, Hy woon in 'n lig wat so blink dat niemand naby Hom kan kom nie. Niemand het vir God gesien nie, nooit nie, en niemand kán Hom sien nie. Ons bid dat die mense altyd vir God sal eer, God wat altyd sterk is. Amen.
1 TIMOTEUS 6:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.
1 TIMOTEUS 6:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: “Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.
1 TIMOTEUS 6:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na •geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en •Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius •Pilatus gelewer het, dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, wat God op sy eie tyd sal openbaar – Hy, die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers, Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. •Amen.
1 TIMOTEUS 6:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar jy, man van God, vlug hierdie dinge; en jaag na geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, geduld, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is, en het 'n goeie belydenis voor baie getuies afgelê. Ek gee jou bevel voor die oë van God, wat alles lewend maak, en voor Christus Jesus, wat voor Pontius Pilatus 'n goeie belydenis afgelê het; dat jy hierdie gebod onberispelik en onberispelik onderhou tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus. Wat Hy in sy tye sal toon, wie is die geseënde en enigste Kragtige, die Koning van die konings en die Here van die here; wat alleen onsterflikheid het, wat woon in die lig waartoe geen mens kan nader nie; wat niemand gesien en nie kan sien nie; aan wie kom toe eer en ewige krag. Amen.
1 TIMOTEUS 6:11-16 Die Boodskap (DB)
Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees. Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie. Ek sê dit voor God wat alles lewendig gemaak het en voor Christus Jesus wat, sonder om bang te wees vir Pontius Pilatus, voor almal gesê het waarvoor Hy staan. Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom. Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers. Hy leef vir altyd. Ons kan nie by sy blyplek kom nie, want dit is omgewe deur ’n helder lig. Daarom het niemand Hom nog ooit gesien nie en kan niemand Hom sien nie. Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar!
1 TIMOTEUS 6:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis. Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies. En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn. Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar, Hý, die geseënde en alleen Magtige, die Koning van die konings en die Heer van die here. Hy alleen besit onsterflikheid, en bewoon die ontoeganklike lig. Niemand het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie. Hom kom toe die eer en die ewige krag.