1 TIMOTEUS 5:9-22

1 TIMOTEUS 5:9-22 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer 'n weduwee 60 jaar oud is, dan mag julle haar naam op die lys van weduwees skryf, maar nie voordat sy 60 jaar oud is nie. En sy moet net een man gehad het. Die ander mense moet mooi dinge oor hierdie weduwee kan vertel. Mense moet weet en sê dat sy haar kinders goed grootgemaak het, dat sy goed was vir vreemdelinge, dat sy die voete van ander gelowiges gewas het, dat sy mense gehelp het wat swaargekry het, dat sy baie dinge gedoen het wat goed is. Maar jy moenie die jonger weduwees se name op die lys van weduwees skryf nie, want wanneer hulle aan mans dink, dan vergeet hulle miskien dat hulle vir Christus moet werk, en dan wil hulle graag weer trou. Dan is hulle skuldig, want hulle doen nie wat hulle vir Christus belowe het nie. Hulle leer ook om nie te werk nie, hulle kuier by al die huise. Hulle doen niks, hulle skinder en hulle is nuuskierig oor ander mense, en hulle praat oor dinge waaroor 'n mens nie moet praat nie. Ek wil hê die jonger weduwees moet trou en hulle moet kinders kry en goed sorg vir hulle huisgesinne. Dan sal ons vyande nie slegte dinge van ons kan sê nie. Party weduwees het klaar begin doen wat die Satan wil hê. As 'n vrou wat in Christus glo, weduwees in haar familie het, dan moet sy vir hulle sorg. Sy moenie dink dat die gemeente vir daardie weduwees moet sorg nie. Die gemeente kan dan sorg vir die weduwees wat nie familie het nie. Daar is ouderlinge wat goeie leiers is. Die gelowiges moet hulle respekteer en beloon, spesiaal die ouderlinge wat baie hard werk en preek en vir die mense leer. Want in die Ou Testament is geskryf: “ Jy mag nie 'n bees se bek toebind wanneer hy op die dorsvloer werk nie.” En daar is ook geskryf: Wanneer iemand werk, dan moet jy hom beloon. Julle moenie luister na iemand wat sê dat 'n ouderling verkeerde dinge gedoen het nie, maar wanneer daar twee of drie getuies is, dan moet julle na so iemand luister. Wanneer ouderlinge aanhou om sonde te doen, dan moet jy voor die hele gemeente sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Jy moet dit doen sodat die ander ouderlinge ook bang kan word. Ek waarsku jou ernstig. God en Christus Jesus en God se engele wat Hy gekies het om Hom te dien, hoor wat ek sê: Wanneer jy met die gemeente oor hierdie dinge praat, dan moet jy nie voor die tyd besluit wie is reg en wie is verkeerd nie, jy moet ook nie besluit om een persoon meer te help as 'n ander persoon nie. Jy moenie te gou besluit om iemand te kies om 'n ouderling te wees en om jou hande op hom te sit nie, want as hy miskien sonde gedoen het, dan sal God vir jou ook straf saam met hom. Jy self moet heeltemal reg lewe.

1 TIMOTEUS 5:9-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Laat 'n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het. Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou en kom onder 'n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het. En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan. As 'n gelowige man of 'n gelowige vrou weduwees by hulle het, moet dié aan hulle hulp verleen; en laat die gemeente nie beswaar word nie, sodat dit die wat waarlik weduwees is, kan help. LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag 'n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd. Moenie 'n beskuldiging teen 'n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie. Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees. Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie. Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.

1 TIMOTEUS 5:9-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou. Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het. Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie. Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie. Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is. Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, want die Skrif sê: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.” 'n Beskuldiging teen 'n ouderling moet jy nie aanneem nie, tensy dit deur twee of drie getuies bevestig word. Dié wat verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word. Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus en die uitverkore engele om jou aan hierdie voorskrifte te hou sonder vooroordeel of partydigheid. Moenie iemand oorhaastig die hande oplê en jou so aan die sondes van 'n ander medepligtig maak nie. Sorg dat jy onberispelik bly.

1 TIMOTEUS 5:9-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Laat 'n weduwee op die dienslys geplaas word as sy nie jonger as sestig jaar is nie, en die vrou van een man was, as daar van haar goeie werke getuig word, as sy kinders goed grootgemaak het, as sy gasvry was, as sy die voete van •heiliges gewas het, as sy mense in verdrukking bygestaan het, as sy haar toegespits het op elke goeie werk. Maar sluit jonger weduwees uit, want wanneer hulle drange hulle weglok van •Christus, wil hulle trou; en dan word hulle veroordeel, omdat hulle hulle eerste belofte verbreek het. Boonop kom hulle in die gewoonte om ledig te wees terwyl hulle so van huis tot huis kuier, en is hulle nie net ledig nie, maar hulle skinder, en is bemoeisiek, en praat oor onvanpaste sake. Daarom verwag ek van jonger weduwees dat hulle moet trou, kinders kry, huishoudings bestuur en die teenstander geen geleentheid gee om kwaad te praat nie. Want sommige van hulle het reeds agter Satan aan afgedwaal. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, laat sy hulle help! Laat die gemeente nie belas word nie, sodat hulle ondersteuning kan gee aan dié wat werklik weduwees is. Laat die ouderlinge wat goed leiding gee, dubbele eer ontvang, veral diegene wat hard werk aan woordverkondiging en onderrig. Want die Skrif sê, “Jy mag 'n bees wat graan trap, nie muilband nie,” en “'n Arbeider is sy loon werd.” Moenie 'n klag teen 'n ouderling aanvaar nie, behalwe as twee of drie getuies dit kan bevestig. Berispe in almal se teenwoordigheid diegene wat aanhou sondig, sodat die ander ook afgeskrik kan word. Ek vermaan jou ernstig voor God en Christus Jesus en die uitverkore engele om hierdie dinge sonder vooroordeel te onderhou, en niemand te begunstig nie. Moenie iemand oorhaastig die hande oplê, en moenie deel kry aan iemand anders se sondes nie; hou jouself rein.

1 TIMOTEUS 5:9-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Laat 'n weduwee nie onder sestig jaar oud word wat die vrou van een man was nie, Goed bekend vir goeie werke; as sy kinders grootgemaak het, as sy vreemdelinge gelos het, as sy die voete van die heiliges gewas het, as sy die ellendige verlos het, as sy elke goeie werk ywerig nagevolg het. Maar die jonger weduwees weier; met verdoemenis, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het. En hulle leer ook om ledig te wees en van huis tot huis rond te dwaal; en nie alleen ledig nie, maar ook rommelmakers en besighede wat dinge spreek wat hulle nie behoort nie. Ek wil dus dat die jonger vroue trou, kinders baar, die huis lei, die teëstander geen aanleiding gee om smaad te praat nie. Want sommige het reeds agter Satan aan afgewyk. As enige man of vrou wat glo, weduwees het, laat hulle hulle help, en laat die gemeente nie aangekla word nie; dat dit die wat waarlik weduwees is, kan verlos. Laat die ouderlinge wat goed regeer dubbele eer waardig geag word, veral hulle wat arbei in die woord en die leer. Want die Skrif sê: Jy mag die bees wat die graan dors, nie muilband nie. En: Die arbeider is sy loon waardig. Moenie 'n beskuldiging teen 'n ouderling ontvang nie, maar voor twee of drie getuies. Die wat sonde bestraf voor almal, sodat ook ander kan vrees. Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele, dat jy hierdie dinge onderhou sonder om die een bo die ander te verkies en niks uit partydigheid te doen nie. Lê skielik niemand die hande op nie, en wees nie deelagtig aan ander se sondes nie; bewaar jouself rein.

1 TIMOTEUS 5:9-22 Die Boodskap (DB)

Wie kan nou kwalifiseer vir die lys weduwees? ’n Vrou wat 60 is, kan op die lys kom, maar dan moes sy getrou gewees het aan haar man. Sy moet bekend wees vir die goeie lewe wat sy lei. Sy moes mooi na haar kinders gekyk en hulle goed grootgemaak het. Mense moes altyd by haar welkom gevoel het en sy moes altyd gewillig gewees het om ander te dien, al was die takie hoe nederig. Sy moes altyd daar gewees het om te help as iemand hulp nodig gehad het. Die leuse van haar lewe moet wees: doen goed aan ander. Moenie jonger weduwees se name op die lys sit nie. Hulle kan dalk weer trou, want as hulle ’n man begin begeer, kan dit dalk vir hulle belangriker word as om die Here te dien. Dan doen hulle dalk nie meer alles wat die Here van hulle verwag nie. Dan kan mense hulle dalk verwyt omdat hulle hulle woord verbreek het. Boonop kan hulle maklik in die strik trap om net van die een huis na die ander te kuier en eintlik niks te doen nie. As hulle heeldag so rondkuier, mors hulle nie net hulle tyd nie, maar skinder vreeslik en meng hulle in met sake wat niks met hulle te doen het nie. Dan sê hulle ook gewoonlik dinge wat hulle liewer nie moes gesê het nie. Daarom is dit vir my ’n baie beter oplossing dat die jonger weduwees weer moet trou, kinders moet hê en hulle huis behoorlik aan die gang moet hou. Dan sal die mense wat nie van die kerk hou nie, nie allerhande lelike dinge oor hulle kan sê nie. So terloops, daar is al ’n paar weduwees wat so die pad byster geraak het en nou agter Satan aanloop. As ’n Christenvrou weduwees in haar huis het, moet sy self na hulle kyk. Sy moet nie verwag dat die res van die gemeente moet help nie. So sal die gemeente net na die weduwees hoef te kyk wat regtig niemand het om vir hulle te sorg nie. Die gemeente moet vir die leiers in die gemeente wat mooi na die sake van die gemeente kyk behoorlik dankie sê, veral as hulle vir ander van die Here vertel en hulle help om al hoe meer van God se dinge te verstaan. Hulle moet hulle selfs betaal. In die Skrif staan daar mos: “Jy moenie die bees se bek toebind wat besig is om jou met jou koringoes te help nie,” en: “Iemand wat werk, mag ook geld kry vir die werk wat hy doen.” Moenie julle aan allerhande stories oor ’n leier in die gemeente steur nie, tensy dit bevestig word deur twee of drie ander mense. As iemand iets verkeerds gedoen het, moet daar voor almal streng met hom oor sy fout gepraat word. Dit sal ander help om nie dieselfde fout te maak nie. Ek vra jou baie mooi, maar tog baie ernstig voor God, Jesus Christus en al die hemelse wesens: as jy teen ’n leier van die gemeente optree, moet jy niemand voortrek nie. Dat jy miskien van een meer hou as van ’n ander, mag nie by jou ’n rol speel nie. Jy moet almal gelyk behandel. Moenie te gou sê dat iemand maar ’n leier in die gemeente kan word nie. Sê nou net sy lewe is nie reg nie en hy doen verkeerde dinge, dan sal die mense daaruit aflei dat jy dit goedkeur. Nee, jy moet op alle maniere uit die pad van die sonde bly.

1 TIMOTEUS 5:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Weduwee wat op die lys vir dienende weduwees kom, moet ’n vrou van ten minste 60 jaar oud wees. Sy moes getrou aan haar man gewees het. Sy moet gerespekteer wees deur almal vanweë die goeie dade wat sy gedoen het. Het sy haar kinders goed opgevoed? Was sy gasvry teenoor vreemdelinge? Het sy ander gelowiges nederig gedien? Het sy dié wat in die moeilikheid was, gehelp? Het sy altyd reggestaan om goed te doen? Die jonger weduwees moenie op die lys kom nie, want hulle liggaamlike behoeftes sal hulle toewyding aan Christus bedreig, en hulle sal wil hertrou. Dan sal hulle skuldig wees aan die verbreking van hulle vorige belofte. Buitendien word hulle waarskynlik lui en bestee hulle tyd deur van huis tot huis te skinder, hulle te bemoei met ander mense se besigheid en dinge te sê wat kon gebly het. Daarom raai ek hierdie jonger weduwees aan om te hertrou, kinders te hê en hulle eie huise te versorg. Dan sal hulle die vyand geen aanleiding gee om ons te beskinder nie. Want ek is bevrees dat sommige van hulle alreeds afgedwaal het en nou Satan volg. As ’n Christenvrou weduwees in haar familie het, moet sy hulle versorg en nie die verantwoordelikheid op die gemeente afskuif nie. Dan kan die gemeente dié weduwees versorg wat werklik alleen is. Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word, veral dié wat hard werk in prediking én lering. Want die Skrif sê: “Moenie ’n os verhinder om te eet terwyl hy die graan uittrap nie.” En op ’n ander plek: “Dié wat werk, verdien hulle loon.” Moenie na klagtes teen ’n ouderling luister nie, tensy daar twee of drie getuies is wat hom aankla. Enigeen wat sondig, moet voor die hele gemeente berispe word sodat die ander ook op hulle hoede kan wees. In die teenwoordigheid van God en Christus Jesus en die heilige engele beveel ek jou ernstig om hierdie opdragte uit te voer sonder om kant te kies of besondere guns aan enigeen te bewys. Moet nooit oorhaastig ’n ouderling aanstel nie. Moenie aan ander se sondes deel hê nie. Hou jou rein van die sonde.