1 TIMOTEUS 5

5
Herderlike vermaning
1'n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, 2die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid.
Die weduwees
3Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. 4Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God.
5'n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede. 6Maar 'n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. 7Skerp ook hierdie dinge in, sodat almal onberispelik kan wees. 8As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as 'n ongelowige.
9'n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. 10Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon.
11Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou. 12Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het. 13Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie. 14Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie. 15Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het.
16As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is.
Die ouderlinge
17Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, 18want die Skrif sê: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.”
19'n Beskuldiging teen 'n ouderling moet jy nie aanneem nie, tensy dit deur twee of drie getuies bevestig word. 20Dié wat verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word.
Ander opdragte
21Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus en die uitverkore engele om jou aan hierdie voorskrifte te hou sonder vooroordeel of partydigheid.
22Moenie iemand oorhaastig die hande oplê en jou so aan die sondes van 'n ander medepligtig maak nie. Sorg dat jy onberispelik bly.
23Moenie langer net water drink nie. Gebruik 'n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.
24Party mense sondig so openlik dat hulle sondes hulle vooruitloop na die oordeel toe. By ander kom die sondes eers later aan die lig. 25So is dit ook met goeie dade: almal kan dit sien. En dié wat nie sigbaar is nie, kan nie verborge gehou word nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid