1 TIMOTEUS 2:1-7
1 TIMOTEUS 2:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê dit is belangrik dat julle vir al die mense moet bid. Sê vir God wat hulle nodig het, vra vir God om hulle te help en sê ook vir God dankie vir hulle. Julle moet bid vir konings en vir almal wat oor julle regeer. Julle moet dit doen sodat ons stil en rustig kan lewe terwyl ons vir God dien en lewe soos Hy wil hê. Wanneer julle só bid, dan is dit reg. God, ons Redder, wil dit so hê. God wil graag al die mense red en Hy wil hê dat hulle moet weet wat die waarheid is. Die waarheid is: Daar is net één God en daar is net één Persoon wat God en die mense bymekaar kan bring, dit is die mens Christus Jesus. Hy het sy lewe gegee en Hy het gesterf om al die mense vry te maak. So het Hy gewys dat die regte tyd gekom het. Daarom het Christus Jesus my gekies en aangestel om die goeie boodskap te bring vir die mense wat nie Jode is nie, en om 'n apostel te wees. Ek lieg nie as ek dit sê nie, ek praat die waarheid. Ek moet ook vir húlle die waarheid leer en ek moet vir hulle leer wat dit beteken om in Christus te glo.
1 TIMOTEUS 2:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as 'n prediker en apostel — ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie — 'n leraar van die heidene in geloof en waarheid.
1 TIMOTEUS 2:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.
1 TIMOTEUS 2:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons 'n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens •Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.
1 TIMOTEUS 2:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek vermaan dan dat in die eerste plek smekinge, gebede, voorbedes en danksegging gedoen moet word vir alle mense; Vir konings en vir almal wat gesag het; sodat ons 'n rustige en rustige lewe kan lei in alle godsvrug en eerlikheid. Want dit is goed en welgevallig in die oë van God, ons Verlosser; wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus; wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het om op die regte tyd getuig te word. Waartoe ek aangestel is as 'n prediker en 'n apostel (ek spreek die waarheid in Christus en lieg nie;) 'n leraar van die heidene in geloof en waarheid.
1 TIMOTEUS 2:1-7 Die Boodskap (DB)
Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor. Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ’n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef. So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan. God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is. Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus. Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê. Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie.
1 TIMOTEUS 2:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid met smeking, voorbidding en danksegging. Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, want Hy wil dat almal verlos word en die waarheid verstaan. Want daar is net een God en een Middelaar wat God en mens kan versoen. Hy is die mens Christus Jesus. Hy het sy lewe gegee om vryheid vir elkeen te koop. Dit is die boodskap wat God aan die wêreld gegee het op die bestemde tyd. En ek is gekies – dit is die absolute waarheid – as ’n prediker en apostel om die nie-Joodse nasies te onderrig in geloof en waarheid.