1 SAMUEL 9:15-17 - Compare All Versions

1 SAMUEL 9:15-17 AFR83 (Afrikaans 1983)

'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.”

1 SAMUEL 9:15-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want die HERE het dit een dag voor die koms van Saul aan Samuel geopenbaar en gesê: Môre sulke tyd sal Ek 'n man uit die land Benjamin na jou stuur wat jy moet salf as 'n vors oor my volk Israel; en hy sal my volk verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk aangesien, omdat sy geroep na My gekom het. Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers.

1 SAMUEL 9:15-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die HERE het al die vorige dag vertroulik aan Samuel bekendgemaak dat Saul sou kom. Hy het gesê: “Môre omtrent hierdie tyd sal Ek ’n man uit Benjamin na jou toe stuur. Salf hom tot leier van my volk Israel. Hy sal hulle red van die mag van die Filistyne, want Ek het die nood van my volk raakgesien en hulle hulpgeroep gehoor.” Toe Samuel vir Saul sien, sê die HERE vir hom: “Dit is die man waarvan Ek jou vertel het. Hy sal oor my volk regeer.”

1 SAMUEL 9:15-17 DB (Die Boodskap)

Die vorige dag al het die Here dit vir Samuel in die oor gefluister: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal Ek ’n man na jou stuur uit die stamgebied van Benjamin. Salf hom as ’n leier vir my volk Israel. Hy sal my volk vrymaak van die mag van die Filistyne. Hulle het My gesmeek om hulle te help en Ek weet goed in watter moeilikheid hulle is.” Toe Samuel Saul sien, sê die Here vir hom: “Die man van wie Ek gesê het, ‘hy sal my volk regeer,’ dis hý daardie.”

1 SAMUEL 9:15-17 ABA (Bybel vir almal)

Die dag voordat Saul gekom het, het die Here met Samuel gepraat en vir hom gesê: “Ek sal môre omtrent hierdie tyd 'n man na jou toe stuur uit die land Benjamin. Jy moet hom salf om koning te wees oor my volk Israel, sodat hy my volk kan red van die Filistyne. Want Ek het gesien hoe dit met my volk gaan, en Ek het gehoor toe hulle geskree het en gevra het dat Ek hulle moet help.” Toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir Samuel gesê: “Hier is die man oor wie Ek met jou gepraat het. Dit is hý wat oor my volk sal regeer.”

1 SAMUEL 9:15-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die HERE het dit 'n dag voor die koms van Saul aan Samuel bekend gemaak en gesê: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die landstreek van Benjamin na jou stuur. Jy moet hom salf as 'n leier oor my volk Israel, sodat hy my volk kan verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk raakgesien, ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom verseker: “Hier is die man van wie Ek vir jou gesê het, ‘Dit is hy wat oor my volk beheer sal uitoefen.’ ”

1 SAMUEL 9:15-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die HERE het Samuel in sy oor vertel, 'n dag voordat Saul gekom het, en gesê: Môre omtrent hierdie tyd sal Ek vir jou 'n man uit die land Benjamin stuur, en jy moet hom salf as owerste oor my volk Israel, dat hy my volk uit die hand van die Filistyne kan red; want Ek het dit gesien. En toe Samuel Saul sien, sê die HERE vir hom: Hier is die man van wie Ek met jou gespreek het! Hy sal oor my volk heers.